Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Die wynland brand, maar Vinpro weifel

Die wynbedryf is ’n ramp, maar Vinpro dink nog daaroor om die regering hof toe te neem oor die algehele alkoholverbod, sê die uitvoerende hoof, Rico Basson.

Lei alkoholgebruik tot oorvol hospitale?

Dit is wat die regering sê, ja.

Stem jy saam met die totale alkoholverbod?

Geensins. Nêrens ter wêreld werk ’n verbod nie. Dit lei tot sluikhandel en wetteloosheid.

Jy is ’n wynman. Waar kry jy jou wyn tydens die inperking?

Soos ander Suid-Afrikaners het ek wyn wat ek voor die skokaankondiging kon kry, en dit is dit.

Wat moet die arme drommels doen wat nie ’n tuiskelder vol wyn het nie?

Dit is waarom daar soveel ongelukkigheid is.

Weet jy van enige wynplase waar ek wyn kan koop?

Nee.

Daar is nié sulke kelders nie?

Nee.

’n Rit deur die wynland kan jou dalk verkeerd bewys.

Die navorsing moet jy self doen.

Hoekom dink jy doen hulle dit?

Die bedryf is nie in ’n krisis nie, dis ’n ramp. Dis ’n geveg om oorlewing.

Onwettige drankhandel is die uiterste waartoe wynboere gedwing word. Hulle word deur arrestasie en hofsake in die gesig gestaar en kan hul lisensies verloor in ’n poging om te oorleef, dan nie.

Ek het ’n begrip vir die desperaatheid, maar raai almal aan om steeds binne die wet te bly.

Sal Vinpro enigeen wat gevang word weens onwettige drankverkope in die hof steun?

Ongelukkig is dit die risiko wat ’n onderneming neem.

Maar julle veg tog vir wynboere?

Vinpro se rol is om ’n manier te vind om die bedryf te stabiliseer, finansiële hulp te kry en wynhandel te laat hervat.

So, hoekom litigeer julle nie teen die verbod nie?

Ons het ’n regsmening ingewin; sodra ons dit kry, sal ons besluit. Intussen gaan ons voort met ’n legio gesprekke met die regering.

Nóg uitstel, nóg gesprekke? Intussen gaan een wynplaas ná die ander onder.

Saai (Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief) het reeds ’n hofdatum. Oor ’n maand, 18 Augustus. Intussen is daar baie gesprekke aan die gang om oplossings.

Dis nog nie te laat om by Saai se hofsaak betrokke te raak nie, is dit?

Ons het gister met Saai vergader, bloot om te kyk na belyning.

Wat is fout met Saai?

Ek kan jou nie daarop antwoord nie. Ek het geen kritiek op Saai nie.

Is dit Saai se bande met AfriForum?

Ek het geen kommentaar daarop nie.

Behalwe dat jy die twiet ge-‘like’ het waarin gesê word Saai, ‘AfriForum se landbou-vertakking, het nou die gaping gesien en wil, soos hul moederliggaam, steun probeer werf deur hof toe te gaan’.

Ek het geen kommentaar nie.

Deur die twiet te ‘like’ stem jy mos saam.

Dis ’n vrye land; op Twitter like ons baie menings.

Stem jy saam of nie?

Nee.

Hoekom ‘like’ jy dit dan?

Ek gaan dié vrae nie beantwoord nie. Ons gesprek met Saai was dat ons nie hierdie binneverskille het en sosiale platforms gebruik om kritiek te lewer nie.

Maar dis wat jy gedoen het.

Dis ’n krisis; landbou moet saamwerk om die gewenste oplossings te kry. Ons het dit deurgesels en verskeie individue het kommentaar gelewer.

Meer oor:  Rico Basson  |  Kruisverhoor  |  Wynbedryf  |  Vinpro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.