Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Dis nie onderwysers wat meer vakansie soek nie’

Ons dink aan die kinders, sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) oor die vakbond se ontevredenheid met die nuwe skoolkalender wat ‘net’ 19 skoolvakansiedae het.

Hoekom kla julle?

Dit gaan nie oor die skoolvakansiedae nie, maar die departement van basiese onderwys (DBO) se gebrek aan behoorlike konsultasie. Konsultasie is veel meer as net luister en dan steeds voortgaan met jou besluit.

Is die skoolkalender nie op die ou end die DBO se besluit nie?

’n Wyse departement sal na die onderwysgemeenskap luister. Ook die Nasionale Trust vir Samewerking in Onderwys is teen die DBO se skoolkalender.

Konsultasies of nie, 19 dae vakansie bly vir julle te min?

’n Week vakansie is nie genoeg vir kinders om behoorlik af te skakel nie. Volwassenes weet: In jou eerste vakansieweek is jou gedagtes nog heeltyd by die werk. Kinders het twee weke nodig.

Onderwysers het pas sewe weke gehad, kinders nege weke, hoekom reken die SAOU dit nie ook in nie? Julle reken die 19 dae vakansie eers van 15 Februarie af in?

Die onderwysers is reeds terug, ’n beduidende persentasie was reeds op 25 Januarie by die skole.

Dit in ag geneem, is vyf, ses weke vakansie nie genoeg vir herlaai nie?

Om nou te sê daar is ’n lang Desembervakansie is nie deel van die argument nie. Kinders gebruik die reserwes wat hulle in vakansies opbou, gou op. Baie skole het reeds aanlyn begin.

Elke kwartaal is tien weke lank met vier langnaweke tussenin. Is julle nie onredelik nie?

Nee, ons het ’n sterk onderwyskundige argument. ’n Kwartaal van twee en ’n half maande put die kinders uit.

Komaan, meeste mense kry 20 dae vakansie per jaar. Waaroor kla julle?

Dis nie onderwysers wat meer vakansie soek nie.

Nié? Julle is ’n vakbond vir onderwysers.

Almal dink mense vra vir meer skoolvakansiedae om die onderwysers tegemoet te kom. Die onderwyskundige argument gaan oor die beste belang vir die kinders.

Is dit nie in hul beste belang dat kinders verlede jaar se verlore werk in die volgende drie jaar inhaal nie?

90% van die skole waar ons lede het, het reeds inhaalplanne in plek, en 80% het einde verlede jaar die kurrikulum met ekstra werkure gedek, asook om bloot meer effektief te werk omdat daar geen buitemuurse aktiwiteite was nie.

En skole waar daar steeds groot agterstande is?

In terme van die ingekorte kurrikulum wat die skole veronderstel was om te volg, is die skole op datum.

Beteken ‘ingekorte kurrikulum’ nie juis ’n inherente agterstand nie?

Skole kry tot 2023 kans om te verseker dat kinders elke bousteen van die kurrikulum dek. Die ou kurrikulum was oorvol met baie dupliserings, dus kon belangrike konsepte nie ingeoefen word nie. Die ingekorte kurrikulum spreek dié leemtes aan. Assesserings beweeg weg van ‘leer om te toets’ na ‘toets om te leer’.

Is die SAOU se fokus op onderwysersbelange of op onderwys?

Ons is ’n onderwyserorganisasie maar dien die belange van kinders, skole en onderwysers. Van die topskole in Suid-Afrika agiteer saam met ons oor die skoolkalender, oor ons insette geïgnoreer is.

Daar is onderwysers wat sê die SAOU praat nie namens hulle nie, want hulle wil juis soveel moontlik agterstallige skooltyd inhaal. Is die SAOU in voeling met die onderwysers?

Dis ’n moedswillige vraag. Ons reageer op die mandate van ons lede, ons het ’n volledige opname hieroor onder SAOU-lede gedoen.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.