Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Dis nie sommer niks as iemand jou afdreig nie’

Sy laat haar nie afdreig nie, sê die Sygnia-baas, Magda Wierzycka, oor haar geveg met die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) nadat sy hul vier vrae oor voorgeskrewe bates nie wou antwoord nie.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia Asset Management.

Wat dink jy van die plan om pensioenfondse te dwing om in staatsbates te belê?

Natuurlik is ek totaal daarteen, veral dié wat op jou afgedwing word. Dit sal nooit werk nie, die regering sal reuseprobleme hê om dit te implementeer, daar sal hofsake wees, mense sal allerhande skuiwergate vind. Maar ons land is in die moeilikheid, daar is nie veel spaargeld nie. Die regering probeer nou beperkings aangaande alternatiewe beleggings verslap en moedig groot aftreefondse aan om vrywillig in infrastruktuurprojekte te belê. Dit begin nou spoed optel.

So waarom was jy nie bereid om dit vir die IRV te gee nie?

Want wat is hul agenda? Wie gee hulle die mandaat vir die peiling? Wil hulle met ’n lukrake peiling van batebestuurders standpunt teen die tesourie inneem? Ek was betrokke by die skryf van regulasie 28 (van die Wet op Pensioenfondse wat bepaal watter gedeeltes aan spesifieke bateklasse toegewys moet word). Ek wil met dáárdie mense in die vertrek wees, werklike rolspelers, nie met die IRV as ’n derde, irrelevante party nie.

Is jy nie oorsensitief nie? Beleggers het tog die reg om te weet wat Sygnia hieroor dink?

Absoluut. En beleggers by Sygnia weet reeds. Gaan google my naam en lees my meningstuk daaroor.

Het jy ’n persoonlike probleem met die IRV?

Nee. Dis ons goeie reg om hul vrae te ignoreer.

Was dit nie onnodig om só in die kryt te spring nie?

Dis nie sommer niks as iemand jou in ’n brief afdreig nie: As jy nié my vier vrae antwoord nie, hang ek Sygnia aan die groot klok in ’n veldtog op sosiale media.Watter soort dreigement is dít? Dalk verkies ek om sekere gesprekke eerder agter die skerms te voer, as openlike oorlogvoering.

Is korporatiewe Suid-Afrika nie meestal té bang om hul nek uit te steek nie?

Sygnia behoort nie aan organisasies soos Business Leadership South Africa (BLSA) of Business Unity South Africa (Busa) nie, want daar is in dié plekke vir my gesê: Magda, jy is naïef, korporatiewe Suid-Afrika is afhanklik van regeringsgeld, ons gaan waar die wind waai. Ek het nét daar die vertrek verlaat.

Jy wil nie ook ’n snytjie van die R2 000 miljard Openbare Beleggingskorporasie (OBK)-pastei hê nie?

Ek het geen regeringswerk nie en is nie afhanklik daarvan nie. Ek weet nie eens waar is die OBK se kantore nie. Ek verkies my onafhanklikheid.

Soos teen die man wat twiet as ’n klein instituut vir jou ’n bedreiging is, wil hy nie sy geld by Sygnia belê nie?

(Lag) Daardie internetbot is dalk ’n portefeuljebestuurder by Allan Gray.

Volg jy nou in Helen Zille se skerp Twitter-spore?

Twitter is ’n doeltreffende, magtige medium om jou mening vinnig oor te dra, maar hopelik word ek nie vergelyk met Zille nie, want daar’s zero politiek in my.

Dink jy Clicks se ruggraat was slap teen die EFF-intimidasie?

Dis een ding om ’n rasionele gesprek te hê, maar ’n ander ding as geweld en vandalisme jou personeel en klante tref. Dit was ’n pragmatiese besluit van Clicks om hul personeel, klante en onderneming te beskerm. Stem ek daarmee saam? Natuurlik nie. Ek kritiseer Clicks nie, hulle moes dit doen, dis hoe dit is.

Maar dit skep ’n aaklige presedent?

Ja, ’n ááklige een. Maar gegewe die omstandighede sou ek dieselfde gedoen het.

Meer oor:  Magda Wierzycka  |  Sygnia
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.