Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Dokters wil net gelyk kan breek met toedienings’

Dokters is nie gierig as hulle sê dat R60 te min is om ’n pasiënt teen Covid-19 in te ent nie, sê die voor-sitter van die SA Mediese Vereniging, dr. Angelique Coetzee.

Hoe lank vat dit om ’n pasiënt in te ent?

’n Inspuiting vat tien sekondes, maar dit is nie ’n griepinspuiting wat jy gou uit die yskas gaan pluk nie. Die logistiek om die pasiënt se besonderhede op die rekenaar se registrasiestelsel na te gaan en om die batch-nommers (van die entstof) in te voer, vat minstens tien tot 15 minute. Die pasiënt moet dan ingelig word oor die entstof asook die moontlike newe-effekte én die pasiënt se geskiedenis van allergieë moet nagegaan word. Nou moet die pasiënt wag tot die volgende batch oopgemaak word. Ná die tyd moet iemand die pasiënt vir minstens 15 minute dophou vir newe-effekte – hulle kan nie net uitstap nie. Dis net die proses vir pasiënte wat reeds geregistreer is en vouchers vir afsprake gekry het – nou praat ons nie van walk-ins se administrasie nie.

Hoekom word pasiënte in bondels of ‘batches’ ingeënt?

Daar is byvoorbeeld ses dosisse in ’n batch en dit moet binne ’n beperkte tyd ingespuit word. As ek daardie flessie oopgemaak het, moet daar genoeg voete wees om dit op te gebruik, anders moet ek die entstowwe weggooi. Ons kan nie bekostig om ’n druppel hiervan te mors nie.

Benewens tyd, wat moet die R60 of R85 dek?

Die regering verskaf net die entstof. Die dokter moet die inspuitings, naalde, alkohollappie en beskermende toerusting betaal. Die bedrag is uitgewerk volgens ’n verpleegster se betaling van R360 per uur – R60 vir ses inspuitings per uur. ’n Dokter sal nie met daai geld ’n suster kan aanstel hiervoor nie. Dan is daar nog die ellelange vereistes om ’n inentingsinstelling te word.

Hoekom is die betaling hoër vir die toediening van ’n Pfizer-entstof (R85) teenoor ’n Johnson & Johnson-entstof (R60)?

Daar is groter logistiese uitdagings met die Pfizer-entstof omdat dit teen laer temperature geberg word. En daar is ’n ietwat groter kans op allergiese reaksies met die Pfizer-entstof ná toediening.

Wat is die vereistes vir registrasie om ’n entstofsentrum te word?

Praktyke en apteke moet aansoek doen om registrasie as ’n inentingsentrum. Daar is ’n klomp vereistes soos opleiding (vir die rekenaarprogramme), betroubare internettoegang, ’n spesiale aptekerslisensie en gewaarborgde 24 uur-elektrisiteit (vir die yskaste vir die entstowwe). Dit beteken jy moet ’n kragopwekker hê vir wanneer die krag afgaan. Die praktyke moet die regte yskaste hê en genoeg plek dat mense wat vir inentings kom van ander pasiënte geskei word. O, en ons moet skandeerders ook koop (vir die rekenaarstelsel). Dit alles kos geld.

Wat gaan gebeur as té min algemene praktisyns en aptekers entstowwe toedien?

Sommige pasiënte wil hê hul dokter of apteker moet dit toedien – veral dié wat bang is vir newe-effekte. Ons gaan nooit die teikens haal as ’n klomp plekke net besluit om nie in te ent nie.

Ek gaan byvoorbeeld nie onder dié omstandighede my praktyk registreer as ’n entstofsentrum nie.

Die koste om genoeg mense in te ent om kudde-immuniteit te kry, gaan hemelhoog wees. Is dit nie ’n tyd wat almal opofferings moet maak vir die groter doel nie?

Mense moet nie dink dokters is gierig nie. Ons beleef ’n pandemie, almal wil hul kant bring en niemand gaan geld maak hieruit nie. Maar ons moet darem kan gelyk breek. Watter dokter of apteker kan bekostig om vir ses tot sewe maande ’n verlies te ly terwyl hulle inentings doen?

Meer oor:  Angelique Coetzee  |  Entstof  |  Kruisverhoor  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.