Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Drankverbod: ‘Ons is dié keer nie geraadpleeg’

Die verbod op alkoholverkope gaan vernietigend wees vir die bedryf, met smokkelhandel wat kan floreer, sê Lucky Ntimane, woordvoerder van die Nasionale Drankhandelsraad.

Het die drankbedryf die eerste verbod op die verkoop van drank aanvaar?

Ja, want ons is geraadpleeg.

En die tweede?

Nee, ons het daarteen probeer veg, maar is nie dié keer geraadpleeg nie.

Het julle jul deel gedoen om die pandemie te help bestry sedert die heropening van drankwinkels?

Ons het ingestem tot ’n veilige en sinvolle benadering sedert 1 Junie, toe ons heropen het. Ons lede het volledig aan die Covid-19-protokolle voldoen.

Wat was die impak van die eerste beperking op die verkope van drank?

Dit het ’n verwoestende uitwerking gehad. Ons het duisende poste verloor. Sowat 15% van die township-afsetpunte kon nie hul deure op 1 Junie oopmaak nie. Dit het die regering se strategie vir township-ontwikkeling tot ’n halt gebring. Nou is dit die oorlewing van die sterkste.

Hoe gaan die nuwe verbod julle raak?

Dit gaan vernietigend wees. Ons raam minstens 20% (10 000 afsetpunte) het reeds gesluit, met nog sowat 12 500 wat net-net oorleef. Nog permithouers gaan finansieel geruïneer wees weens die skielike verlies van inkomste, talle werkverliese en die gevolglike armoede van ons lede.

Wat is jul argument teen die regering se standpunt dat dronk beseerdes in die pandemietyd hospitaalbeddens beset?

Ons kan nie verantwoordelik gehou word vir mense se onverantwoordelike gedrag nie. Ons lede is verantwoordelike handelaars en dryf handel kragtens die gepaste drankwette en regulasies. Ons verkoop nie drank aan minderjariges, swanger vroue, mense onder die invloed en enigiemand in uniform nie. Die regering moet eerder saamwerk met die drankbedryf om maatskaplike uitdagings wat met drankmisbruik verband hou en die impak daarvan op die mediese sektor die hoof te bied.

Sommige vra vir ’n totale verbod op alkohol in Suid-Afrika.

Dis nie ’n oplossing nie. Meer as 50 000 sake-eienaars en hul sowat 200 000 afhanklikes en tot nog een miljoen mense is deel van die drankbedryf se waardeketting. ’n Verbod gaan ook lei tot ’n groei in die smokkelhandel. En dié mark voldoen nie aan die maatreëls wat die bedryf ingestel het nie. Dit gaan lei tot die onverantwoordelike gebruik van alkohol. Die fiskus kan miljarde verloor.

Sou ’n verbod op drankverkope nodig gewees het as die regering tydens die inperking genoeg hospitaalbeddens voorberei het?

Nee, die regering was veronderstel om die gesondheidsorgfasiliteite, soos belowe, reg te kry. Maar die regering het net nie voorberei nie. Daar is boonop ’n tekort aan duisende verpleegsters. En sommige provinsies, wat sake nie kan hanteer nie, het sommer begin grafte grawe as ’n eerste reaksie op die pandemie.

So, julle vra dus die regering om jul bedryf ook te finansier?

Ons vra vir ’n spesiale WVF-Covid-19-Ters-stelsel vir kwalifiserende drankhandel-werknemers vir solank as wat die verbod op drankverkope geld. Ons vra ook vir die terugbetaling van dranklisensiegeld aan die eienaars van handelaars voor die einde van Augustus 2020. Daar behoort ook die volgende twee jaar ’n moratorium te wees op lisensiegeld.

Meer oor:  Regulasies  |  Kruisverhoor  |  Drankverbod  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.