Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Eendagstaking is ‘die begin van komende gevegte’

Te midde van die teenstrydighede om in ’n bondgenootskap te wees met ’n korrupte organisasie, is staak ál uitweg om hul aandag te trek, sê die Cosatu-woordvoerder Sizwe Pamla.

Hoe kan julle staak vir salarisverhogings in die middel van die pandemie?

As die stelsel teen jou konkel, is jou enigste uitweg om te staak.

Julle eis verhogings, maar die staatskas was al leeg vóór die pandemie?

Wie se skuld is dit? Nie die werkers s’n nie.

Julle steun die regering al meer as 20 jaar, is julle nie ewe aanspreeklik nie?

Ons het die regering gesteun, maar ons is nie aanspreeklik vir die plundering wat tans plaasvind nie.

Julle was in die alliansie terwyl dit gebeur het, hoekom het julle stilgebly?

Hoe kan jy sê ons het stilgebly?

Die korrupsie gaan tog al jare aan, noudat dit júlle raak, nou eers staan julle op?

Wie het Zuma ontsetel? Kyk na die feite! Dis onregverdig om net die regering die skuld te gee. Wat van die R80 miljard wat jaarliks onwettig uit die land vloei? Dis die private sektor!

Maar die ANC is aangeklaagde nr. 1 sê die president?

Ja, ons is. Hy kruip nie weg nie. Cosatu het gesê die ANC het ’n korrupsieprobleem, dis hoekom ons Zuma uitgekry het, en aangedring het op ’n kommissie van ondersoek. Hoekom is daar so ’n obsessie oor ons in ’n alliansie is, is ons skuldig deur assosiasie?

Protesteer julle nie nou maar net omdat dit nou julself raak nie?

Ons is die enigste organisasie wat die departemente getakel het. Cosatu-leiers is vermoor in die oorlog teen korrupsie: Moss Phakoe in Noordwes, Samwu-leiers oor die VBS-korrupsie in Limpopo. Wie het Supra Mahumapelo in Noordwes verwyder? Óns.

Hoekom gee Cosatu nie bes oor die R38 miljard wat die staat moet uitkrap vir staatsamptenare se salarisverhogings nie?

Hoeveel geld is bestee aan konsultante op munisipale vlak? By staatsondernemings? By staatsdepartemente? Wat dáárvan?

Dit verontskuldig nie jul aandrang op onmoontlike verhogings nie?

Antwoord eers: Is die konsultanttariewe nie ’n plundering van staatsgeld nie? Erken eers die rol van die private sektor vir die gemors waarin ons land is.

Verontskuldig dit jul aandrang op verhogings?

Hoe regverdig jy dit dat die regering nie hul loonooreenkoms met die werkers respekteer nie?

Hoe regverdig julle salarisverhogings as net 24% van alle Suid-Afrikaners werk het?

Hoeveel mense in die land maak staat op regeringsdienste? As jy verwag staatsamptenare moet dienste lewer, moet jy hulle betaal. Maak dit sin dat polisielede hul inkomste aanvul met ekstra werk of omkoopgeld?

Is geen verhogings nie beter as geen werk nie?

As jy verwagtinge van staatsamptenare het, kan jy hulle nie aanhou as verheerlikte slawe en sê hulle moet dankbaar wees nie.

Het julle met dié staking enige poste gered gegewe die marginale posisie waarin ondernemings hul tans bevind?

’n Eendagstaking is bloot om te mobiliseer sodat die werkers aan boord kan kom vir komende gevegte. Dis net die begin.

So, julle is tandeloos?

Natuurlik verstaan ons die teenstrydighede om in ’n alliansie te wees met ’n korrupte organisasie. Ons het dit nog nooit weggesteek nie. Met elke kongres is daar Cosatu-lede wat die alliansie wil verlaat. Zwelinzima Vavi, Numsa en ander is juis hieroor weg.

Meer oor:  Sizwe Pamla  |  Cosatu  |  Kruisverhoor  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.