Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Gebrek aan instandhouding haal Johannesburg in

City Power het alles wat hulle nodig het om die stad se kragprobleme tjop-tjop reg te ruk, sê die stad se burgemeesterskomiteelid vir omgewing en infrastruktuur­dienste, Mpho Moerane.

Betaal julle nou die prys vir ’n gebrek aan instandhouding oor baie jare?

Die agterstand met instandhouding is R30 miljard vir water en krag oor die volgende drie jaar, maar finansies ken sowat R1 miljard elk toe per jaar. Dit is te min vir City Power. Ons doen wat ons kan daarmee, maar sal nie die uitdagings wat ons het daarmee kan oplos nie. Ja, ons infrastruktuur is oud, die instandhouding haal ons in.

Mense sê dienslewering in Johannesburg het in duie gestort.

Ek stem nie saam dat dit in duie gestort het nie. Alles was in die haak, behalwe vir die laaste twee weke. Ons het ’n kragonderbreking gehad wat die Rand Water Eikenhof-pompstasie geaffekteer het en water kon nie in die opgaardamme gepomp word nie. Wanneer jy ’n kragonderbreking het by ’n pompstasie en dit neem ’n dag tot ’n dag en ’n half om reg te maak, loop die opgaardamme leeg en dit neem vier tot vyf dae om dit weer op te vul sodat almal water het.

Die laagliggende gebiede kry vroeër weer water, maar hoogliggende gebiede vat langer. Dinge is nou terug na normaal.

Mense sit vir nege dae sonder krag.

Ons identifiseer probleme. Ons identifiseer agterstande. Ons identifiseer waar probleme voorkom. Ja, ons het ’n hoë volume klagtes. Mense meld dieselfde probleem weer en weer aan. Ons stelsel kan nie uitwys dat dit ’n duplisering is nie, so ons het baie aangemelde probleme, maar die meeste is gedupliseer.

Ons het toe begin om kliënte terug te bel om seker te maak of hul krag steeds af is sodat ons al die klagtes wat daarmee verband hou kan afsluit. Daar was ’n arbeidskwessie. City Power se bestuur wou hul eie spanne deur die dag gebruik en kontrakteurs in die nag.

Dit het onbedoelde gevolge gehad en ons moes meer kontrakteurs aan elke depot toewys om die agterstand in te haal.

Is daar genoeg onderdele by die depots?

Beslis, maar wanneer tegnici uitgaan, moet hulle die taak op die stelsel aanmeld om die store in kennis te stel.

Hulle gaan haal dan die onderdele by die store. As jy dit nie doen nie, sal jy nie die onderdele kan kry nie. Ons store het genoeg om die agterstand uit te wis. Dit is beheermaatreëls sodat ons kan verslag doen oor hoe ons ons voorraad gebruik.

Hoe sal City Power die Eskom-verspreidingsgebiede kan oorneem as hy nie eens dit wat hy het kan hanteer nie?

Die oorname sal ses tot 12 maande of meer neem. Ek wil seker maak dat wanneer die oorname kom, City Power reggeruk is, sonder probleme. Ek kan jou verseker, wanneer ons oorneem, sal City Power op koers wees. Ons het nuwe bestuur, ons vul poste, op 1 Julie stel ons 300 opgeleide vakmanne aan.

Ons kry meer voertuie, ons maak ons gereed vir die oorname. As ons oorneem, sal die mense van Soweto nie meer toi-toi nie, want hul kragvoorsiening sal van City Power kom.

Die ANC was in beheer die meeste van die tyd sedert die totstandkoming van plaaslike regering in 2000. Waarom sal kiesers weer vir die party stem?

Voor 2016 het die ANC-beheerde Johannesburgse metroraad ’n R100 miljard-plan gehad vir die volgende tien jaar om die krag- en waterinfrastruktuur te vernuwe. Ons het dit begin implementeer en toe die nuwe administrasie in 2017 oorneem, het hulle die plan geskrap. Toe ons weer in Desember 2019 oorneem, moes ons van voor begin. Ek gebruik dit nie as ’n verskoning nie, maar as ons dit kon deurvoer, sou die situasie vandag beter gewees het.

Meer oor:  Johannesburg  |  City Power  |  Kragvoorsiening  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.