Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Hantering van Etzebeth-saak ‘problematies’ – Gaum

Adv. Buang Jones, regshoof van  die Menseregtekommissie (MRK), het oorhaastig opgetree in die Etzebeth-ondersoek, sê adv. André Gaum, kommissaris van die MRK.

Adv. André Gaum.

Hoekom het adv. Buang Jones spesiaal afgevlieg Kaap toe om die saak teen Eben Etzebeth oor te neem? Die besluit is, lyk dit vir my, geneem deur die uitvoerende hoof (adv. Tseliso Thipanyane). Ek is nie heeltemal seker van die presiese redes nie.

Is Jones ’n verleentheid vir die MRK? Wel, dit is hoekom ek dit verlede Maandag op ’n kommissievergadering geopper het. Sy beweerde uitlatings word nou ondersoek om te kyk of hy inderdaad die MRK se mandaat oortree het.

Beweerde uitlatings? Dit is tog opgeneem. Tot die uitslag (van die ondersoek) bekend is, beskou ek dit as bewerings.

Julle uitvoerende hoof sê egter Jones is nié stilgemaak nie? Ons het hom nie in totaliteit gemuilband nie, maar hy kan nie verder met die media oor hierdie saak praat nie.

Behoort hy nie geskors te word nie? As die verslag wys hy het die kommissie se onafhanklikheid in gedrang gebring, sal verdere stappe gedoen word.

Die MRK se reputasie het só ’n knou gekry, selfs jou en kommissaris Chris Nissen se eie party, die ANC, het julle in die parlement pak gegee? Ons is onafhanklik van enige party, maar ek deel totaal die kommer van die portefeuljekomitee-voorsitter oor die impak van die “lopende kommentaar” in die media.

* Lees ook: MRK ondersoek sy regsman se uitsprake oor Etzebeth

Is die MRK oorhaastig wanneer wit mense beweerde oortreders is? Daar is verskeie voorbeelde waar die kommissie klagtes teen swart mense ondersoek. In dié saak het ek die indruk gekry dat daar, spesifiek wat adv. Jones betref, met groot haas opgetree word.

Hoekom is die onderneming aan Etzebeth se prokureurs verbreek dat die MRK met die ondersoek sal wag tot ná die Wêreldbekertoernooi? Ons het met Etzebeth gepraat voor sy vertrek om sy weergawe en samewerking te kry. Ons onderneming was om verder met sy prokureurs te kommunikeer en dat hy die lys aantygings sal ontvang.

En toe maak julle ’n U-draai? Ek stem saam dis problematies hoe dit ongelukkig verder hanteer is. Die indruk wat ’n mens kry is van oorhaastigheid.

Hoekom só oorhaastig met Etzebeth terwyl sake soos dié teen Malema vir jare sloer? Ek het ’n verslag oor die sloerdery met die Malema-saak aangevra, en dinge is nou uiteindelik na ’n punt gedryf. Ek het parlementslede gevra om sake waarmee gesloer word, onder ons aandag te bring. Lede van die publiek kan dit ook doen.

Die klaers in die Etzebeth-saak wantrou jou weer oor ’n “geheimsinnige” besoek aan die Wêreldbeker? Ek was Japan toe saam met die parlementêre rugbyspan waarby ek sedert 1999 betrokke is. Dit het niks te doen met die Bokke nie, en dis geensins ’n geheim dat ek daar was nie. Dis ’n totaal problematiese aanval op my en inderdaad lasterlik.

Dit lyk asof die MRK deesdae net sake van rassisme ondersoek. Het julle ontaard in ’n rassisme-polisie? Dis hoegenaamd nie die geval nie. Weens ons geskiedenis het ons met baie rassepolarisasie te kampe. Baie hiervan betrek hoëprofiel-mense, en so ontstaan bepaalde indrukke.

Bekommer dit julle nie dat mense hul respek só vir julle verloor, dat hulle eerder ander instansies sal nader met hul probleme nie? Dis juis hoekom ons nou so spoedig optree om moontlike foute reg te stel en ons onafhanklikheid en onpartydigheid te beskerm.

* Lees ook Tim du Plessis se rubriek.

Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Menseregtekommissie  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.