Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Hof dwing ons om te kies: Grondwet of my godsdiens’

Die Bybel troef die Grondwet, jy mag jou kinders slaan, sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Slaan jy jou kinders? Ek het, toe hulle kleiner was. Ek noem dit eerder beperkte tug. Ek het baie oulike kinders, so dit het nie permanente skade aangerig nie, maar wel ’n vormende effek gehad.

Hoe het jy hulle gestraf? ’n Ligte hou op die boude is waar dit moet stop. Mense moet besef daar is ’n duidelike grens.

Wanneer word beperkte tug aanranding? Maatskaplike werkers sê hulle herken dadelik kindermishandeling. Die probleem met die hofuitspraak is dat beperkte tug gelyk gestel word aan mishandeling. Jy teiken wetsgehoorsame mense en kriminaliseer iets wat goeie ouers in die beste belang van hul kinders doen. Ek glo ook dat jy nie ’n kind pak gee as jy kwaad is nie.

En as Ouer X kwaad met die vuis inklim en reken dis beperkte tug? Dan is dit aanranding en maatskaplike werkers tree op, indien die stelsel goed werk. Sielkundige en sigbare letsels by kinders behoort ook by skole geïdentifiseer te word. Verskriklike goed gebeur egter, want die stelsel is verswak en misluk daarin om dit raak te sien.

Is dit dan nie beter dat ’n algemene regsbeginsel hier van toepassing word nie? Lyfstraf vir misdadigers is lankal van die wetboeke geskrap. Geweld teen vroue en kinders, FeesMustFall se plundering, die skoolstelsel wat misluk – dis die wrang vrugte van ’n samelewing sonder gesonde gesinstrukture met gesonde dissipline. Nou verbied ons hierdie bousteen.

Moet kinders in ons gewelddadige samelewing met gebrekkige maatskaplike stelsels nie juis deur die wet beskerm word teen ouers vir wie die grense van geweld grys geword het nie?Dis ’n kitsoplossing wat die onskuldige ouers nou teiken. As pa het ek dit as instrument gebruik om vir my kinders basiese re­spek te leer, optrede tussen reg en verkeerd. As jy lyfstraf reg toepas, gaan dit selde gebeur. My 12-jarige sal nie eens kan onthou wanneer laas sy pak gekry het nie.

Maar die konstitusionele hof het nou bevestig alle vorme van lyfstraf is onwettig. AfriForum beroep hom gereeld op die Grondwet.Die Grondwet kan immers nie gevolg word net wanneer dit iemand pas nie? Dis juis hoekom hierdie uitspraak ’n probleem is, want dit dwing jou om te kies tussen die Grondwet en jou geloof. In die Grondwet is die reg op godsdiensvryheid net so ’n sterk reg. Daar moet ’n gesonde balans wees tussen godsdiensvryheid – om kinders in liefde te tugtig – en die reg om nie aangerand te word nie.

Vir jou troef die Bybel die Grondwet? Ja, dis hoekom dié uitspraak vir my so tragies is. Hulle dwing jou om te kies tussen jou verskillende identiteite, tussen jou godsdiens of die Grondwet.

Ons leef wel in ’n sekulêre staat? Ja, maar ook een waarin daar godsdiensvryheid is en selfs ruimte vir godsdiensvryheid in staatsinstellings.

Is jy ook ten gunste daarvan dat vroue wat owerspel pleeg op die markplein gestenig word?Nee. Die konstitusionele hof het ook die reg om te interpreteer, ’n balans te tref tussen verskillende regte. Ek sê net daar moet ’n balans wees. As jy jou kind wat steel se hand moet afkap, word godsdiensvryheid te ver gevoer.

Meer oor:  Kallie Kriel  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.