Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Kersvader sê: As ’n seun wil pop speel, kan hy maar

In hierdie dae van politieke korrektheid moet hy fyn trap, sê Kersvader.

Mag kinders nog op jou skoot sit? Ek is gaande oor kinders en om hul drome waar te maak. Maar ons leef in uitdagende tye, so my prokureur stel die volgende skootsit-protokol voor: Slegs onder streng ouerlike toesig en uit vrye wil. Sodra die kind huil, moet ek my hande in die lug gooi en stadig van die kind af wegbeweeg. Dankbare drukkies mag dus deesdae slegs drie sekondes duur.

Glo Kersvader in swart ekonomiese bemagtiging? Die noorderligte by die Noordpool is wonderlik, maar ek het al te veel na hulle gekyk, dit het my blind gemaak. Kleurblind, om presies te wees. Ek sien nie meer kleur nie, maar dit is oukei. Ál wat ek wil sien, is ’n glimlag op elke kind se gesig, wat ook al die kleur, geslag of agtergrond. Alle kinders is vir my gelyk.

Behoort net soet kinders geskenke te kry? Wat van die regte van stout kinders? Kersvader is lief vir alle kinders. Ek is ’n groot aanhanger van soet-stout wees en vind dit noodsaaklik vir ’n kind se opvoeding. Kattekwaad is byvoorbeeld ’n pluspunt as dit by my puntestelsel kom. Kersvader het met ouers ooreengekom om op ’n glyskaal te werk. Ondernemende, oulike stout kinders se kreatiwiteit sal dus ook beloon word . . .

Kersvader gee steenkool vir stout kinders. Is dit lae graad of hoë graad? As dit hoë graad is, kan jy dit nie eerder vir Eskom gee nie? Die Noordpool het ook ’n groot elektrisiteitsreus soos Eskom. Ons noem dit Kersfees-kom (daar’s ? liedjie daaroor: “Kersfees-kom, Kersfees-kom . . .”). En soos by Eskom, was daar by ons ook grootskaalse korrupsie met tenders. Ons het die hele November beurtkrag gehad, ons geskenkproduksie is só geknou, ek moes 350 elwe aflê en toe spring die vakbond NUC op ons. Dis die National Union of Christmas Workers. Dit was ’n nagmerrie vir die Noordpool se mensehulp­bron­afdeling, ons is op sosiale media geklap. Ek moes toe boonop my eie steenkoolvoorraad vir die stout kinders gebruik vir noodkrag. Ná drie dae se arbeidsgeskille, stakings en arbitrasie kon ons darem die meeste van die elwe weer aanstel. So, gelukkig vir die stout kinders, is daar geen steenkool in enige Krismiskouse hierdie jaar nie.

Hoe maak Kersvader as ’n kind vra vir ’n boetie of ’n sussie? Kersvader is altyd oop daarvoor. Ek vra dan net dat die kind sy of haar ma Noordpool toe moet stuur vir noodsaaklike produksiewerk.

Gee Kersvader toe as seuns Barbie-poppe wil hê vir Kersfees? Of moet seuns seuns-speelgoed kry en meisies meisiespeelgoed? Kersvader glo speelgoed is net speelgoed. As ’n seun wil pop speel, kan hy maar pop speel. As ’n dogtertjie ’n speelgoedgeweer wil hê, moet sy een kry. Vir Kersvader is daar nie geheime gender-agendas in speelgoed nie. My gunstelingspeelding was ’n stok (maar onthou: toe ek jonk was, eeue gelede, was dit omtrent al speelgoed). Solank kinders vreedsaam en vrolik speel sonder dat hulle mekaar boelie, is ek gelukkig.

Is jy bekommerd oor kinders wat te veel tegnologiese geskenke en goeters kry? Te veel skermtyd? Kersvader is nie mal oor skermtyd nie. Maar ek het nie self kinders nie, so ek kan maklik praat. Ek verstaan ook skermtyd bring ’n welkome ruskans vir ouers. Maar ek glo kinders is laf en hulle hardloop rond en gesels en speel, totdat hulle voor die skerm gaan sit. Dan word hulle stil en vervelig soos hul ouers. Ek weet dis omstrede, maar ek moet darem ook ’n oog hou oor my eie sakeryk, as ek nou skielik ophou om iPads en slimfone af te lewer, verdwyn my onderneming soos ys op ’n warm somersdag en ly die rendiere honger.

Is dit waar dat Bennie Fourie hom soms voordoen as Kersvader? Bennie ken my persoonlik. Ons braai saam. Bennie is in 2018 aangewys as my Spesiale Gesant in Suid-Afrika. Ek is effens geïrriteerd dat hy nie ’n baard begin groei het nie, maar hy neem sy job desondanks ernstig op.

Meer oor:  Kersvader
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.