Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Kubaanse medici ‘bied eenvoudig beste kennis’

Niemand weet méér van pandemies as Kubaanse dokters nie, sê dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid.

Jy sê as die Kubaanse dokters nie gekom het nie, het Suid-Afrika al soveel sterftes soos New York gehad. Regtig? Dis reg.

Was pres. Cyril Ramaphosa dan Woensdagaand verkeerd toe hy die streng inperking as rede vir die minder sterftes gegee het? Nee, dis nie wat ek sê nie. Die inperking het ons baie gehelp om die kurwe vinniger plat te kry.

Jy het wel herhaaldelik gesê dis die Kubane wat ons van ’n New York-situasie gered het. Die Kubane was ’n bykomende faktor. Daar is nêrens ter wêreld ’n groep spesialiste in openbare gesondheid met soveel kennis van ’n pandemie soos die Kubane nie. Ons het nie ’n oorvloed van epidemioloë, viroloë, immunoloë en gesinspraktisyns nie. Die paar in Suid-Afrika is in die private sektor.

Het julle probeer uitvind of Suid-Afrikaanse spesialiste beskikbaar is? Hulle is nie. Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) verstaan nou dat niemand van Kuba hierdie poste kom afvat het nie.

Maar die SAMV sê die meeste van sy 15 000 dokters was bereid om te help. Ek weet nie. Dis ’n gesprek tussen die minister en die SAMV.

Die minister van gesondheid het reeds in April gesê afgetrede dokters gaan kom help. Wanneer gebeur dit?Ek weet nie.

Word dit opgevolg?Die plaaslike gesondheidswerkers het hul eie vaardighede, maar die Kubaanse gesondheidswerkers bied iets anders.

Is ons nie reeds pandemie-spesialiste nie? Jare van MIV/vigs en TB? Proff. Salim Karim en Glenda Gray? Hulle is op die ministeriële raadgewende komitee.

As die Kubane se vaardighede so uniek is, hoekom is daar nie ’n Kubaan op die komitee nie? Ek weet nie. Die minister besluit daaroor. Die advieskomitee se werk is waarskynlik baie vertroulik.

Moes die dokters in private praktyk wat tydens die inperking baie minder pasiënte en elektiewe operasies het, nie eerste in aanmerking gekom het vir poste nie?Maar hulle moes hulself beskikbaar gestel het!

Was julle bereid om met die SAMV hieroor te praat?Ja.

En die uiteinde? Hulle het toe aangedui watter dokters beskikbaar is.

Wanneer begin dié dokters?Ek weet nie; die minister sal besluit.

Dit kos Suid-Afrika byna R500 miljoen, dié 187 Kubaanse gesondheidswerkers.Die minister het die details; die portefeuljekomitee kry net die verslag.

Is die Kubaanse regering nie maar net besig om geld te maak uit die “verhuring” van sy dokters nie?Die Kubane het hulle nie aan ons opgedwing nie. Ons het hulle gevra om te kom.

Menseregteorganisasies wêreldwyd meen die Kubaanse regering buit sy gesondheidshuurlinge uit. Hulle kry glo net tussen 10% en 25% van hul salarisse. Ek weet nie hoeveel geld hulle kry nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.