Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Lag, voor dit taboe is . . .

As die ANC haar en Helen Zille uit Suid-Afrika verjaag, neem hulle die elektrisiteit, die BMW’s, Botox en Netflix saam met hulle, waarsku  Evita Bezuidenhout.

Evita Bezuidenhout: “Pik het nie net die politiek as wapen gebruik nie, maar ook as vermaak.” Foto: Werner Hills

Met wie mag jy nie meer spot nie? As lid van die ANC is ek baie versigtig om nie te spot nie. Soms is die lagie humor baie dun op die grond. Maar Ace Magashule laat my net lag. Almal weet watter nonsens hy aangevang het, maar hy loop nog steeds met sy kameraad-skynheiligheid daar bo op sy morele hoëgrond, wat hy met niemand sal wil deel nie.

Watter taboes het jy die afgelope jaar oortree? As wit Afrikaner vind ek myself al hoe dieper in die nuwe mynveld van haatspraak en hashtags. Ek gril vir albei. Hoekom sal ek haat in die 25ste jaar van ’n suksesvolle demokrasie? Irritasies is wel volop, maar daar is niks wat nie reggemaak kan word nie. Boer maak ’n plan! Rassisme is weer die taboe van voorkeur. Ek is net eerlik: Ja, sê ek, ek is ’n rassis, want ek is tot 1994 so grootgemaak. Dit was vir die meeste van my lewe polities korrek om ’n rassis te wees; ook nog ’n Christen-rassis! Maar soos ’n alkoholis wat nie meer drink nie, begin ek elke dag met die leuse: Ek is rassisties, maar sal nooit weer toelaat dat ek ’n rassis word nie. Rassisme is my taboe!

Watter nuwe taboes is daar? Gewone woorde word nou as taboe beskou: jy mag nie “vet” sê nie. Niemand is meer “dom” nie.

En wat van “dom-astrant”? Dis nog steeds die beste beskrywing van baie van ons politici.

Is daar nou meer taboes as onder die ou Nasionaliste of is ons belaglik as ons so dink? Ons probeer nou desperaat om met politiek-korrekte woorde ou taboes te verberg. Apartheid sal nooit weer onder dieselfde naam terugkom nie, maar afsonderlike ontwikkelings gebeur op elke vlak van ons reënboog-samelewing. Ek dink ons is almal so besig om self taboes te skep, daarom is daar soveel stilte oor belangrike sake wat ’n luide gegil nooi. Opinies is die grondslag van demokrasie. Ons is te bang ons maak ’n fout, te bang ons is polities onaanvaarbaar en bly dan liewers stil. Nonsens! Sê jou sê en koes vir die klappe!

Ons bly liewers stil. Nonsens! Sê jou sê en koes vir die klappe!

Wie sê deesdae wat is taboe? Dis nie meer die regering nie, dis onsself? Dis albei. Ons beskou die politiek as heilige grond. Die regering word ’n koninklike familie. Inteendeel: Ons werk nie vir hulle nie; hulle werk vir ons. As die mense lei, sal die regering volg. Ek sit in my Luthuli-huis-kombuis en kook vir versoening, terwyl die politieke ego’s persoonlikhede opvreet. Dis nou ook taboe om te kritiseer! Eina! Dis die eerste stap terug na ons afsonderlike ontwikkelings van destyds.

Wat is die mees absurde ding wat iemand al vir jou gesê het jy mag nié oor spot nie? Soms hoor ek nog die gefluister: “Gaan terug na Europa waar jy hoort – en neem Helen Zille saam met jou!” Ek lag net beleefd en fluister terug: “Met graagte, skattie, maar ek neem die elektrisiteit, die BMW, die Botox en Netflix saam met my!’

Wat maak jy van al die nuwe landmyne, die eiers waarop mense moet loop? Ek is ’n lid van die regerende party, ja, maar ek is ook ’n burger, ’n demokraat en ’n gogo! My swart kleinkinders is my prioriteit. (Soms is dit nodig om te verduidelik: Hulle is nie swart of wit nie; maar wel Barack Obama-beige!) Hulle het my uitgedaag om demokrasie te beskerm sodat as hulle die dag kan stem, die proses nog daar sal wees. Dis wat ek doen, nie net vir hulle nie, maar vir almal se kleinkinders. Ek loop dus nie op eiers nie; ek toi-toi op hulle en bedien hulle dan as voorgereg!

Is dit nog moontlik vir Pieter-Dirk Uys om ’n komediant te wees in die land? Ja, siestog. Daar word nou aan hom gesê: “Jy mag nie swart mense namaak nie; jy mag nie vrouens naboots nie!” Lyk my almal vergeet van daardie ou woord: toneelspel? Hy het mos 40 jaar gelede begin om my as Nasionale Party-hanswors voor te stel. Ja, dit het seergemaak; dit was skokkend, maar ek is nou te oud en te oulik om teen te stribbel. Demokrasie gee almal die reg om ’n gek van hulself te maak – en Uys doen dit nog deurentyd in sy hoë hakke. Hy’t ten minste mooi bene!

Sit op jou rooi baret, maak oop jou deur en sê: ‘Ek was eerste hier!’

Wat in Suid-Afrika vind Evita regtig nie meer snaaks nie? Nee, skat, my sin vir humor is nog toelaatbaar! Die EFF se gegil kan jou óf bangmaak óf vermaak. Lag met ’n traan is dikwels my uitweg. Toe ons ligte weer totsiens flikker van fase 2 tot fase 6, was ek soos baie bang, wetend dat fase 8 die laaste stuiptrekking sou wees in donkerte. Toe sê iemand: “Nee, daar is ook ’n fase 9! Dis wanneer Eskom aan jou deur klop om al jou kerse uit te blaas!”

Jy moet lag, damn it! Agtelosigheid in die regering laat my nie lag nie. Dis krimineel!

Het jy nog ’n ambassade in Israel, want die ANC-konferensie het mos besluit om dit af te gradeer? En sal jy jou ambassade Tel Aviv toe skuif? Ek het destyds baie van premier Golda Meir geleer. Haar ambassade was haar kombuis en daar het sy spek en eiers gekook en almal aan die praat gehad. Ambassades is nou maar net ’n parkeerterrein vir nuwe motors; die ware diplomatiek vind plaas waar mense gemaklik voel om probleme te onthul en oplossings te deel. Met koffie, kos en hopelik ’n glimlag!

Mis jy vir Pik Botha? Ek mis hom geweldig. Wie is vandag se politieke supersterre? Trump? Bo-Jo? Poetin? Pik het nie net die politiek as wapen gebruik nie, maar ook as vermaak. Ek mis sy telefoonoproepe, sy kommentaar. Hy’t mos elke aand vir my gefaks. Haai, dit was die dae, my vriend . . .

Die EFF sê daar moet geen grense in Afrika wees nie, een Afrika, een paspoort. Wat dink Evita daarvan? En waar moet die hoofstad wees? Ag, ja-nee, laat die EFF hulself besig hou met sulke drome. Daar is belangriker realiteite om op te los. Buitendien is daar min grense oor tussen Afrika-lande. Meesal is dit platgetrap deur vlugtelinge of vlugtende renosters.

Dink jy Malema gaan teen 2030 in Tuynhuys of die tronk wees? Malema is nie dom nie. Wat hy sê is soms iets wat tien jare gelede gesê moet gewees het. Hy’s ook slu genoeg om te weet hoe om vrees te gebruik as wapen. Maar dis deel van die demokrasie: die soet en die suur van keuses. Grondgryp sonder vergoeding is nou die groot spook in baie huise. My advies is: koop ’n rooi EFF-baret. Hou dit in die voorportaal. En as Juju-hulle aan jou deur klop om oor te neem, sit op jou rooi baret, maak oop jou deur en sê: “Ek was eerste hier!”

Skeer jy jou beenhare? Aitsa! Wanneer laas het iemand so iets vir my gevra? In 1958? Vir my eerste rolprent Boggel en die akkedis. Nooit gedink ’n mens kon so iets doen nie, maar die kamera sien mos alles. Daar gaat die beenhare!

Glo Evita daar is ’n verskil tussen mans en vroue? Die grootste verskil tussen mans en vroue is die feit dat sonder vroue sou die mans bibberend in ’n hoekie sit en huil het!

En? Noem my old-fashioned (kan ek oudoos sê? Of is dit ook nou taboe?), maar ek glo ’n vrou is die ideale CEO – hoof van die huis en die familie, die rottweiler by die deur wat die kinders beskerm. Die diplomaat wat die spanning verlig. En die een wat haar beenhare ook kan skeer!

Het jy jou kinders grootgemaak as seuntjies en meisietjies? Dit was ’n heeltydse werk om vir hulle te laat besef hulle is in beheer van wie hulle is en wat hulle wil wees. Nou is dit trans-gender hier, trans-sex daar – allesbehalwe Trans-vaal!

Wat is jou raad aan Helen Zille, van een politikus aan ’n ander? Helen, skat, moenie ná daardie tweede glas chardonnay twiet nie!)

* Volg “Evita’s Free Speech” elke Sondag op YouTube.

Meer oor:  Evita Bezuidenhout  |  Pieter-Dirk Uys  |  Humor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.