Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Mabe ‘sal elke ANC-lid wat in hof verskyn, bystaan’

Hy sal ondersteun wie hy wil, sê die ANC-woordvoerder Pule Mabe oor die feit dat hy by die strafregtelike verhoor van Ace Magashule in Bloemfontein opgedaag het en namens Magashule die woord gedoen het.

Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC. Foto: Felix Dlangamandla

Is jy die ANC se woordvoerder of Ace Magashule s’n?

Skryf wat jy dink is die beste vir jou. Ek dog jy weet ek is die ANC se woordvoerder.

Wat het jy dan by Magashule se hofsaak gedoen?

Wat doen mense by ’n hof?

Magashule was nie daar as die ANC se sekretaris-generaal nie, hy is strafregtelik aangekla. Hoekom was jy daar?

Dis my reg as nasionale woordvoerder om belang te stel in sake wat die ANC-leiers betrek. Dis net billik om die hofverrigtinge te verstaan.

Dis meer as blote verstaan, jy het namens hom met die media gepraat.

Ek het hom tydens (die ANC se 2017-konferensie by) Nasrec ook ondersteun. En ek sal ook in die hof. Kry dit in jou kop!

Gaan jy ook die MK-veterane en Carl Niehaus bystaan om te keer dat oudpres. Jacob Zuma tronk toe gaan?

Jý kan daar gaan staan as jy wil.

Ek vra jou.

Ek weet nie waarheen jy gaan met die vrae nie. Ek het jou geantwoord. As jy wil hê ek moet die foon neersit, dan sal ek.

Is jy ’n lid van die radikale ekonomiese transformasie-(RET)faksie?

Ek is nie deel van ’n faksie nie. Ek het Nkosazana Dlamini-Zuma ondersteun, nou word die party gelei deur pres. Rama­phosa, en die hele uitvoerende komitee ondersteun hom, insluitende adj.pres. DD Mabuza en SG Ace Maga­shule.

So, hoekom steun julle dan nie jul president as hy sê verhoorafwagtendes moet afstand doen van hul poste nie?

Die feit dat ons ’n verklaring uitgereik het, deur die president, insluitende die verklaring van die NUK deur die SG wys almal stem ooreen. Dit word nou verder oorweeg.

Stem jý saam met die resolusie dat aangeklaagdes vrywillig afstand moet doen van hul poste?

Vrywillig beteken nie om gestoot te word nie. Dan is dit nie meer vrywillig nie.

Dink jy Ace Magashule moet vrywillig afstand doen van sy pos?

Vra hom daardie vraag.

Ek vra jou.

Ek kan nie namens hom praat nie.

Maar verlede Vrydag by die hof het jy namens hom gepraat.

Nee man, kry dit in jou kop, ek praat namens die ANC. Ek is nie aangestel om namens Ace Magashule te praat nie.

Maar om hom te ondersteun en die hofverrigtinge te verstaan, is nie verkeerd nie. En onthou, om aangekla te word maak jou nie noodwendig skuldig nie.

Daar is wel ANC-leiers wat hulle distansieer van Magashule.

Nee, nee, nee, nee. Daar is geen resolusie in die ANC wat sê comrades moet hulself van mekaar distansieer nie.

Ronald Lamola en Barbara Creecy sê Ace moet afstand doen.

Nee, dis julle in die media wat julself distansieer van mekaar, nie ons nie. Ons is Afrikane.

Ons probeer ons beste om eenheid in die ANC te bestuur, maar as een in ’n moeilike situasie is, sal ons hom ondersteun.

Gaan jy elke ANC-lid wat aangekla word so bystaan? Sien ons jou by Bongani Bongo se saak?

As enige ANC-lid hof toe gaan en ek is binne bereik, sal ek gaan. Dis ons Afrikakultuur. Terloops, howe vra nie toegangsgeld nie.

Meer oor:  Pule Mabe  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.