Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Mynbou: Nuwe stelsel moet ‘selfs GPS-koördinate hê’

Planne vorder vir stelsels om die inligting oor en verwerking van mynbou­lisensies te verbeter, sê Tseliso Maqubela, adjunk-direkteur-generaal belas met mynbouregulering, en Thabo Mokoena, direkteur-generaal.

Aan Maqubela: Hoe lank kla die mynbedryf al oor die probleme met die kadaster-stelsel? (Die stelsel waarmee myn- of eksplorasiemaatskappye vasstel wie watter mineraalregte op ’n bepaalde stuk grond het.)

Ek weet nie presies nie, maar dis al van voordat ek (in 2017) hoof van regulering geword het.

Waarom duur dit so lank om iets daaraan te doen?

Ons het tot dusver aangehou met die bestaande stelsel. Die departement het ander voorkeure gehad, maar die minister (Gwede Man­tashe) het ons opdrag gegee om dit so gou as moontlik te doen.

Wanneer het hy die opdrag gegee?

In Maart vanjaar, net ná die mini-mynbouindaba. Ons het gesê ons het ses maande nodig om ’n tender vir ’n nuwe stelsel op te stel en te publiseer.

Hoe vorder julle daarmee?

Ek het ’n tender opgestel, maar dit moet nou deur die staat se inligtingstegnologie-agentskap (Sita) goedgekeur en gepubliseer word.

Het jy enigsins met die mynbedryf gepraat oor hoe die nuwe stelsel moet lyk?

Ja, die minister se opdrag was dat daar ’n meganisme moet wees waarmee ons die mynbedryf raadpleeg oor die stelsel, hoewel hulle nie aan ons kan voorskryf hoe die stelsel moet lyk nie.

Hoe het julle hulle geraadpleeg?

Hulle het verskeie skriftelike voorstelle gemaak.

Soos?

Wel, hulle dring daarop aan dat die nuwe stelsel in staat moet wees om die bestaande eienaarskap van mineraalregte beskikbaar te maak, op land en in die see. Dit moet akkuraat wees en moet selfs die GPS-koördinate insluit. Hulle wil hê die stelsel moet oor ’n aanlyn kaart beskik wat jou in staat stel om die relevante dele af te laai.

Natuurlik wil hulle ook hê dit moet heeltemal bestand wees teen enige krakers en ’n volledige oudit-spoor bevat. Dit moenie moontlik wees om met die stelsel te kan peuter nie.

Ek verstaan hulle wil ook hê die stelsel moet inpas by ’n internasionale stelsel waarmee meeste mynmaatskappye hul mynbouregte en verpligtinge bestuur?

Ja, dis wat hulle versoek het.

Gaan julle dit so kan doen?

Ons het gevra dat dit bekragtig word, maar dit moet nou deur Sita verder gevoer word. Net die direkteur-generaal mag regstreeks met Sita oor tenders kommunikeer.

Het julle die kundigheid in die departement om so ’n nuwe stelsel te gebruik en te bestuur?

Wel, tenders soos die sal gewoonlik ’n klousule insluit wat die tenderaar verplig om vir ’n tydperk te help met die ingebruikneming van ’n nuwe stelsel.

Aan Mokoena: Is die tender vir die nuwe kadaster-stelsel vir mineraalregte klaar geskryf?

Dis afgehandel, ja.

Kon julle aan die versoeke van die Mineraleraad voldoen?

Nie aan alles nie, maar ons probeer om ’n akkurate en betroubare inligtingstelsel oor die lokalisering van eksplorasie- en mynregte aan die bedryf te gee.

Wanneer gaan die uitnodiging vir tenders gepubliseer word?

Dis toevallig gister op Sita se webblad gepubliseer. Die sluitingsdatum vir tenders is 20 Augustus en ons verwag dat die diensverskaffer teen einde Oktober aangestel sal word.

Meer oor:  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.