Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Niemand kan die RET se beleid weerspreek nie’

Ace Magashule gaan nie vrywillig opsy staan nie, sê Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA).

Gaan Ace Magashule opsy staan?

Nee, hy beplan nie om vrywillig opsy te staan nie. Kyk maar wat gebeur in die volgende drie, vier weke. Hy gaan baie besig wees en rondgaan in die land.

En sy veldtog voer?

Nee, hy gaan sy posisie verduidelik aan die ANC-takke wat hom demokraties verkies het.

Hy het jou naam genoem as een van dié wat moet inval by die besluit van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) oor die RET-faksie. Gooi hy jou onder die bus?

Ek het langs hom gestaan toe hy dit gesê het. Alle ANC-lede moet die NUK se besluite aanvaar.

Waarna verwys pres. Cyril Ramaphosa as hy sê ANC-infrastruktuur mag nie misbruik word om parallelle strukture in die ANC te begin nie?

Ná ’n MKMVA-vergadering in Luthuli-huis het iemand moedswillig gesê dit was ’n RET-vergadering wat ek gereël het. Onwaar.

Het Ramaphosa na jou verwys as “ANC-personeel” wat nie ANC-bronne en kantore mag gebruik vir RET-faksiedinge nie?

Ek neem so aan. Ek is nie ’n lid van die NUK op die óómblik nie, maar ek verstaan daar was sulke aantygings oor my. Kebby (Maphatsoe) het nou aan Jessie Duarte verduidelik dis ’n misverstand.

Is jy op pad na ’n tugproses?

Ek kan dit nie uitskakel nie, maar voel nie onbehoorlik onder druk nie.

Wat anders is die RET-faksie se National Operations Committee-vergadering in Booysens as ’n parallelle RET-struktuur?

Dis koördinasie tussen mense wat binne die takke van die ANC werk.

Hoe kan júlle besluit wat ANC-beleid is?

Ons hoef nie. Niemand kan die amptelike beleid van die RET weerspreek nie.

Jy skryf oor die dringende nood vir mobilisering in jou beleidsdokument.

Ons druk dat die amptelike RET-besluite van die 54ste ANC-konferensie vinniger moet gebeur.

Jy skryf ’n RET-beleidsdokument, hou ’n RET-vergadering, erken nou maar jy is die amptelike woordvoerder van die RET-faksie.

Nie as sodanig nie.

Wat anders?

Ek bevorder saam met mede-ANC-lede die kwessie van RET.

In watter hoedanigheid werk jy in Luthuli-huis?

’n Senior bestuurder in die sekretaris-generaal se kantoor.

Is jou KPA ook om die MKMVA vanuit Luthuli-huis te mobiliseer?

Deel van my werk is om in interaksie te wees met ander ANC-strukture.

Die MKMVA is egter nie ’n formele ANC-struktuur nie.

Dis ’n assosiasie. Maar die grondwet van die MKMVA sê ons rapporteer aan die kantoor van die sekretaris-generaal.

Dink jy jou werkgewer, die ANC, sal dit duld dat jy die MKMVA vanuit Luthuli-huis mobiliseer?

Baie van die werk is gewoon politieke werk. Die MKMVA het ’n kantoor in Luthuli-huis.

Skryf jy Zuma se verklarings vanuit Luthuli-huis?

(Lag) Daai nonsens dat ek oudpres. Zuma se brief in reaksie op pres. Ramaphosa se brief geskryf het? Nee.

Die NUK waarsku die MKMVA dat julle die veterane se erfenis in oneer bring.

Daar was reeds sulke opmerkings voor die laaste NUK-vergadering gemaak. Hulle sal dit vir ons moet uitspel.

Meer oor:  Carl Niehaus  |  Ace Magashule  |  Kruisverhoor  |  Korrupsie  |  Anc  |  Ret
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.