Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Ons het geweet hy gaan kwaad wees . . .’

Die lederaad het geweet die minister gaan woedend wees, maar het die risiko geloop, sê Rihan Richards, waarnemende president van Krieket Suid-Afrika (KSA), nadat die lederaad die tussentydse raad bekragtig het.

Eers skop julle vir dae vas, ongeag die minister se dreigemente, en nou skielik bekragtig julle die tussentydse raad. Wat het gebeur?Die proses het net bietjie ontspoor. Ons en die tussentydse raad het verlede Saterdag na mekaar uitgereik. As mense met mekaar praat, kan verskille oorkom word.

Het julle nie verwag die minister gaan hom vervies nie? Ons hét. Dit sou roekeloos gewees het om nie te besef wat sy regte is nie. Maar dit was ’n beginselsaak.

Was dit vir julle só belangrik? Dit kon KSA finaal gekelder het? Natuurlik het ons die risiko verstaan.

En toe vou julle in elk geval? Ek sal nie só sê nie. Daar is nie ’n wenner in dié situasie nie.

Júlle het die U-draai gemaak? Ek het nie ’n probleem as mense voel ons het verloor nie. Ons moes by ons beginsels gestaan het.

Hoekom is Haroon Lorgat skielik nie meer so ’n onoorkombare probleem vir die lederaad nie? Almal vra net oor Haroon, maar ons het dieselfde vrae gehad oor Omphile Ramela en ons eie kandidaat, Xolani Vonya. Prontuit gesê: Die groot konflik kan dalk met Haroon wees. Daar is ’n groot skeiding tussen die verantwoordelikhede van die tussentydse raad en die lederaad.

Zak Yacoob (tussentydse raadsvoorsitter) sê julle gebruik Lorgat net as verskoning want julle het iets om weg te steek. Die lederaad maak die laaste tyd ons stemme dik, want ons was lank te stil. Dis ons rol. As ons sien iets is verkeerd, moenie net saggies fluister nie.

Dik stemme om binne twee weke die tussentydse raad te kelder, maar waar was jul toesigrol vir meer as twee jaar terwyl KSA van krisis na krisis gestrompel het? Ek het die vorige jare op die raad gedien. Ek aanvaar verantwoordelikheid. Ons het dinge te veel net aanvaar. Nou vra ons vrae.

Hoekom nou skielik? Is julle bang julle word betrek by die bevindings van die Fundudzi-verslag? Ek het die verslag gelees. Ons almal moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat gebeur het.

Wanneer het die lederaad agtergekom Thabang Moroe bestuur KSA die afgrond in? Liewer geen kommentaar nie, die saak is nog hangend. Ek het baie vriende in krieket, en hy is een, ek sê dit sommer reguit. Maar as hy iets verkeerd gedoen het, sal ek aandring dat hy swaar gestraf word.

Wanneer hét die lederaad agtergekom dinge loop skeef? Die lederaad het nie al die inligting nie, ons is nie so betrokke by die administrasie nie.

Het Welsh Gwaza, KSA se sekretaris, julle aangesê om nie die raad te bekragtig nie? Definitief nie.

Hulle het niks daaroor vir julle gesê nie? Ons het nou en dan bietjie klagtes gekry oor hoe hulle hanteer is. Maar daar is altyd twee kante, en inligting moet getoets word.

Almal het teen julle gedraai, die spelersvereniging (Saca), oudspelers, die minister, borge . . .Ek het na Saca uitgereik, en ek sal die borg se brief, in privaatheid gestuur, beantwoord.

Het die lederaad nog geloofwaardigheid? Vyf van jul lede was op die omstrede raad wat onder groot druk bedank het? Ons sal die vertroue van ons lede moet verdien. Mense wil nou weet wat aangaan.

Meer oor:  Rihan Richards  |  Krieket  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.