Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Ons sal seker maak daar is geen onderbreking nie’

Hulle is besig om die vliegtuig in  die lug reg te maak, sê Mmoloki Cwaile, die LUR vir samewerkende regering, oor die verval van munisipaliteite in Noordwes.

Minstens sewe burgemeesters in Noordwes is al deur hul ANC-raadslede verwyder deur mosies van wantroue. Is jy bekommerd dat dit dienslewering ondermyn? Wat doen julle hieroor?

Een opsie op die tafel is om munisipaliteite te ontbind of selfs onder sakeredding te plaas. Ons fokus moet wees op die stabiliteit van administrasies sodat sulke optrede nie dienslewering beïnvloed nie. Maar omdat munisipale geldkoffers gebruik word, is hierdie (onstabiliteit) nadelig vir dienslewering.

Die Ditsobotla- én Tswaing-munisipaliteit het twee burgemeesters wat beweer hulle regeer. Wie is in beheer?

Dit word in die howe uitbaklei. Ons maak staat op hofuitsprake en sal die een erken in wie se guns die hof beslis.

In Tswaing het FNB die raad se bank­rekening bevries – dit veroorsaak dat basiese dienslewering soos water en vullisverwydering stilstaan. Hoekom het jou departement nog nie ingegryp nie?

In Tswaing het ons ’n brief aan FNB geskryf om toegang toe te laat vir die regte munisipale bestuurder – ons weet daar is ’n munisipale bestuurder wat onregmatig aangestel is.

Raadslid Tebogo Buthelezi van Ditsobotla, wat onwettig uit sy pos verwyder is deur ’n opponerende faksie, sê ’n vergadering tussen jou departement en burgemeesters verlede week het op niks uitgeloop nie.

Omdat die minister (dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake) nog nie goedkeuring kon gee vir die verwydering (van die opponerende faksie) nie, wag ons nog vir die ingryping.

Sedibeng Water sê hulle het jou gewaarsku oor hul besluit om die water af te sny by die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit oor agterstallige skuld. Is dit so?

Ons het Maandag met Sedibeng vergader en saamgestem dat Sedibeng nie sy dienste sou onttrek nie. Ons het ’n tegniese span saamgestel om met hierdie bekommernisse te werk en sal oor twee weke weer vergader om vorderingsverslae te ontvang en te stem oor die regte manier om die probleem reg te stel. Die munisipaliteit ontken sy historiese skuld.

Wat word gedoen om hierdie skending van ’n basiese mensereg oor toegang tot water te verhoed?

Ons sal seker maak daar is geen onderbreking in die watertoevoer nie en min. Lindiwe (Sisulu, minister van water en sanitasie) het dit duidelik gemaak dat munisipaliteite hul betalings sal nakom.

Ondersteun jy Sakeliga se hofsaak om ’n betaalmeester by munisipaliteite aan te stel wat sal verseker dat munisipaliteite hul rekeninge betaal?

Dit is ’n wenslike optrede en dit kan sekere probleme regstel en die nodige ingryping aanhelp.

Hoekom moet ’n private organisasie ’n oplossing kry – sekerlik kon jy hierdie munisipaliteite onder administrasie plaas?

Ons het art. 139-ingrypings ingevolge die Grondwet uitgevoer, maar hierdie ingrypings word weerstaan en in die howe uitgedaag, terwyl administrateurs verhoed word om munisipale kantore binne te gaan. Dit is waarom ons sakeredding oorweeg.

Is die plaaslike regering besig om te misluk in Noordwes?

Ons is besig om die vliegtuig in die lug reg te maak. Ons sal nie die verval van munisipaliteite toelaat nie, maar ons praat ook met ons partyleiers en is vol vertroue dat ons munisipaliteite sal kan lei en goed ingeligte besluite sal kan neem om sake reg te stel.

Meer oor:  Mmoloki Cwaile  |  Noordwes  |  Water  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.