Moenie die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) se woorde in sý unie se mond lê nie, sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).
Selfs min. Angie Motshekga sê die skole moet oopbly. Hoekom sê julle nee?
Eerstens: Dis nie vir ’n hele maand nie, gr. 12’s kry net ’n week en gr. 7’s twee. Tweedens: Daar is ’n groot verskil tussen wetenskaplike feite en mense se persepsies en vrese.
Is dit nie jul werk as vakbond om jul lede se persepsies uit die weg te ruim nie?
Ons laat ons deur ons lede lei. Ons meningsopname wys 67% wil die skole sluit.
Hoe verteenwoordigend was die meningsopname?
24 000 lede het gestem.
Is die inligting betroubaar?
Jy vra dít nou seker want mense sê ons is gekaap. Ons het die vraelyste aan al ons lede per WhatsApp gestuur – 24 000 uit die 37 000 het deelgeneem.
Kon hulle soveel kere stem as wat hulle wou?
Ek weet sommiges sê dis wat gebeur het. As jy só sê, sê jy ’n klomp van ons lede was oneerlik.
Hoekom sê mense die SAOU is gekaap?
Dis onwaar. Ons het ons eie mandaat.
Eie mandaat? Julle was saam met die Sadou en ander vakbonde in ’n gesamentlike voorlegging by die regering?
Ons stem saam met die onderliggende beginsel dat skole gesluit kan word.
Is julle – met 26 000 lede teenoor die ander vakbonde se 330 000 – nie maar net saamgesleur nie?
Nee, ons volg ons lede, die resultate van die meningsopname was voor die voorlegging.Stem julle saam dat alle skole moet sluit as sekeres nie Covid-19-gereed is nie? Moenie Sadou se woorde in ons mond lê nie. Ons stem glad nie daarmee saam nie. Ons was nog nooit ’n voorstander van one size fits all nie.
Is dit nie wat gebeur nie?
Ons sê nie alle skole moet toegemaak word nie. Skole wat reeds besluit het om voort te gaan met onderrig, moet volgens regulasie toegelaat word. Ons verstaan skole wat nie aanlyn programme kan implementeer nie, gaan agter raak. Ons keur dit ten sterkste af. Dit moet voor die deur van die regering gelê word.
As Sadou op 24 Augustus, wanneer Covid-19 moontlik in Gauteng ’n hoogtepunt bereik, die skole langer wil toehou, wat gaan die SAOU doen?
Ek kan nie sê wat die situasie dan gaan wees nie. Ons handel met die lig tot ons beskikking.
Wat van die beheerliggaamposte wat weens hierdie sluiting van vier weke met moontlike afleggings in gedrang kan kom?
Wie sê daar gaan grootskaalse afleggings kom? Ons beveg dit elke dag, al voor die vier weke afgekondig is. Ons het reëlings gereed om daai goed te kan hanteer, en weeklikse seminare.
Staan julle nie aan albei kante van die draad nie? Oor lede, by Sadou; oor beheerliggaamposte by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas)? F
edsas verteenwoordig beheerliggaamposte, ons verteenwoordig die beste belange van onderwysers.
En die onderwysers in beheerliggaamposte?
Ons het 8 000 beheerliggaamlede en ons praat daagliks met hulle.
Die SAOU het nié sy rug gedraai op onderwysers in beheerliggaamposte nie?
Onder geen omstandighede nie. Dis wat ons goeie vriende Solidariteit graag wil hê ons moet sê. Óns is die onderwysvakbond, óns weet wat ons lede wil hê, óns weet wat in hul beste belange is. Ons sit nie soos ander organisasies en preek op die kantlyn nie.