Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Plakkers se uittrek-taktiek is eintlik maar deursigtig’

Dis alles ’n ‘stunt’, sê Dan Plato, Kaapstad se burgemeester, oor die voorval waarin ’n kaal man deur wetstoepassers van die Kaapstad-metro uit sy blyplek gesleep is.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad. Foto: Peter Abrahams/Son

Kon die ou nie maar klaar gebad het voordat julle sy shack om hom afgebreek het nie?

(Bulderende lag) Jammer ek lag, maar dis klassiek! Drie amptenare neem altyd video’s van die uitsettings, uit verskillende hoeke, want dit kan in ’n hof draai. My inligting wys Bulelani Qolani het van struktuur tot struktuur saam met die wetstoepassers beweeg. Hy is toe betrap op video’s waar hy later by sy struktuur ingaan, homself uittrek en toe kaal, met ’n papier in sy hand, voor sy huis gaan staan het.

So, Qolani het beplan om verneder te word?

Die klere uittrek was ’n stunt wat hy gegooi het om wetstoepassers van hom weg te hou. Dis nie ’n nuwe ding dié nie, aanvanklik het vroue dit gedoen, nou doen die mans dit ook.

Georkestreer of nie, toe die wetstoepassers hom kaal rondjaag, is sy menseregte nie geskend nie?

Hy het self sy menseregte geskend deur poedelnakend voor sy struktuur rond te paradeer.

Volgens VN-regulasies mag uitsettings nie menswaardigheid aantas nie.

Oor die naaktheid van mnr. Qolani sal ek toegee ons wetstoepassers moes meer barmhartig gewees het.

Deur hom nie kaal rond te jaag nie?

Hulle moes net ’n kombers oor hom gegooi het voor hulle hom verwyder het.

Word dié wetstoepassers se optrede ondersoek?

’n Prokureursfirma is aangestel om dit te ondersoek en die polisie en die Menseregtekommissie doen ook ondersoeke.

Is dit nie onmenslik om in die middel van die winter en ’n pandemie strukture af te breek nie?

As ’n struktuur vir ’n lang ruk daar staan, is dit oor en uit, dan kan ons maar tot siens sê vir die stuk grond. ’n Hof sal net eenvoudig sê waarom het ons nie betyds opgetree nie?

As die grond so belangrik is, hoekom het julle nie ’n heining gespan en wagte gekry om besetting te keer nie?

Jy sit vandag ’n heining op, môre is dit afgebreek. Dit skeel die besetters min dat die grond reeds toegewys is vir ontwikkeling, met ondergrondse infrastruktuur wat reeds geïnstalleer is. Dié ontwikkeling is belangrik vir Khayelitsha.

Kon julle nie ’n alternatiewe reëling getref het met die besetters nie?

Die vraag is, waar het hulle gebly voordat hulle die grond beset het?

Qolani het glo sy werk verloor, hy kon nie meer sy huurgeld vir ’n agterplaas-hokkie betaal nie, toe gooi hulle hom uit.

Die regulasie oor geen uitsettings tydens die inperking nie geld ook dié wat sy blyplek aan hom verhuur het.

Strukture is onlangs tydens ’n kouefront in Houtbaai afgebreek, daar was die kerkbesetters op Groentemarkplein. Die Kaapstad-metro het nou al ’n reputasie dat julle anti-haweloses is.

Elke situasie het sy eie dinamika. Mense gebruik elke strooihalm om Kaapstad onregeerbaar te maak. Niemand sê iets as die minister en LUR in Johannesburg saam met die Rooimiere strukture gaan afbreek nie, maar as dit hier gebeur is daar drama, dan zoom die parlementêre komitee daarop in en teiken die DA.

En wat van beskuldigings dat u anti-swart is?

Dis nonsens! Ek het baie swart vriende. Ons het duisende swart ondersteuners in Kaapstad. Ons het pas nóg R20 miljoen vir haweloses beskikbaar gestel.

Honderde haweloses word op die terreine by Culemborg en Bellville Paint City gehuisves. Nou kom sê hulle ons is anti-haweloses!

Meer oor:  Dan Plato  |  Kaapstad  |  Kruisverhoor  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.