Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Reg of weg vir afrigter, maar vreesloser krieket is nodig

Hul ultimatum aan Ottis Gibson, afrigter, om die WB-eindstryd te haal, was nie onredelik nie, sê Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof.

Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof. Foto: Gallo Images

Het julle ’n reddingsplan vir WB 2023? Ons wag nou vir die spanverslag en die raad se riglyne, dan kan ons daaruit ’n plan formuleer.

Wat glo u moet verander? Ons moet aggressiewer krieket, vreesloser krieket speel.

Ons 0.19’s het pas ’n eendag-tuisreeks teen Pakistan verloor – dui dit nie op diepliggender probleme nie? Nie noodwendig nie. Ek moet nog uitvind presies wat daar gebeur het. Ons jong spelers het ’n groot agterstand teenoor spanne van die subkontinent waar kinders skool los vir voltydse krieket.

Is jul ultimatum aan afrigter Ottis Gibson om die WB-eindstryd te haal, nie onredelik nie? Ottis is aangestel om dit te doen, maar ek het nooit gesê sy kontrak kan nie weer onderhandel word nie. Dis vir die raad om te besluit.

Selfs met ’n top-wêreldspan bly eendagkrieket onvoorspelbaar, hoe kan ’n afrigter met so ’n ultimatum presteer? Sport is onvoorspelbaar en so is die lewe en die sakewêreld. Ek dink nie dis onregverdig nie, ons het geglo hy kan dit bereik, gegewe die talent wat ons het. As hy gedink het dis onregverdig, sou hy dit nie aanvaar het nie.

Sy kop rol dus? Sy kontrak verstryk in September, hy sal in diens bly tot die raad anders besluit.

Faf du Plessis sê die span wil Gibson graag behou. Gaan dit in oorweging gebring word? Saca (die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging) se standpunt sal aan die raad oorgedra word.

Julle blameer die Indiese Premierliga, waarin Kagiso Rabada gespeel het, vir sy krieketmoegheid. Sal hy in die toekoms beter bestuur word? Faf het in ’n onderhoud gesê dis moeilik om tyd en ruimte te vind om ’n speler soos Kagiso te laat rus. Ons moet voortaan individuele planne vir spelers maak om so iets te verhoed. As Kagiso wíl speel, is dit moeilik om sy rustye te bestuur.

Hy het self erken hy funksioneer teen 60%? Ek stem saam. Maar dit hang van die kaptein, afrigter en speler af.

Jy het jou uitgespreek teen die Kolpak-spelers wat nie beskikbaar was vir die Proteas nie. Hoekom? Met ons ekonomie is KSA se aanbod aan die Proteas allermins wat hulle kry met ’n Kolpak-ooreenkoms.

En dat hulle nie meer welkom voel in Suid-Afrika nie? Dit sal moeilik wees om te glo. Tot ’n speler kan uitwys hoe die administrasie of span hom onwelkom laat voel het, is dit bloot gissings.

Is dit waar dat jy inmeng in spankeuses? Dis 100% onwaar. Die spanlys word ’n dag of twee voordat hulle speel na my gestuur. Van tyd tot tyd vra ek die motivering agter sekere keuses, maar ek het nog nooit gesê speler A of B moet speel nie.

Dis nie waar dat Linda Zondi (keurderbaas) opgekom het teen jou inmenging nie? Nee, nee, Linda wou weet tot watter mate ek spankeuses kan veto.

Stem jy saam dis nie ’n gesonde situasie vir uitvoerende hoofde om so in te meng nie? Dit hang af, as die raad besluit hulle wil hê ’n uitvoerende lid van KSA moet betrokke wees in spankeuses, kan jy as ampsdraer nie nee sê nie.

Gebeur dit elders in die wêreld? Geen uitvoerende hoof is betrokke in spankeuses nie, en die raad het my ook nie gevra om betrokke te raak daarby nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.