Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: 'Regering kan taxibedryf nie meer as R1,1 mjd. gee’

Hulle ry waar hulle wil met volgelaaide taxi’s, maar nee, die taxibedryf doen nie net wat hulle wil nie, sê Ayanda Paine, woordvoerder van die minister van vervoer.

Hou die taxibedryf die regering gyselaar?

Ongelukkig sien Suid-Afrikaners nie altyd die verhouding tussen die taxibedryf en die ministerie nie, meeste gesprekke gebeur agter toe deure. Daar is welwillendheid, selfs voor Covid-19, om te onderhandel. Die regering het reeds ’n toegewing gemaak dat taxi’s hul kapasiteit van 50% na 70% kan verhoog.

Deur toe te gee vir 70% het julle tog net die deur oopgemaak vir die minagting van Covid-19-regulasies?

Daar kom binnekort ’n aankondiging van die nasionale bevelsraad.

Hoekom het die minister nie self vroeër ingegryp nie?

Met die verskillende inperkingsvlakke is alles heroorweeg. Die tabakmaatskappye het die regering hof toe geneem, sê ons die tabakbedryf draai die regering om hul pinkie?

Dis tog duidelik dat taxibase die septer swaai. As hulle nie van die regulasies hou nie, ignoreer hulle dit net.

Nee, dis onwaar, kyk na die aantal voertuie wat voorgekeer word en die operateurs wat in hegtenis geneem word.

Julle kan tog nie op elke taxi beslag lê nie, hoe gaan 18 miljoen pendelaars by die werk kom?

Wetstoepassing het wel gebeur. Sommige operateurs het vir die minister hulp kom vra ná op hul voertuie beslag gelê is.

Die minister sou verlede Woensdag, toe Vrydag, toe Saterdag, toe Sondag en toe Maandag met die taxivereniging Santaco vergader het. Hy het dit sonder rede elke keer uitgestel. Hoekom?

Die minister het al verskeie kere met die taxibedryf gepraat. Voor die inperking het hy met hulle gepraat oor die toekoms.

Maar die krisis is nou, neem hy hulle nie ernstig op nie?

Die gebeure van die afgelope week moenie in isolasie gesien word nie, want dan lyk dit asof die minister nie omgee nie. Sien dit in konteks, die minister betrek die taxibedryf, soos die hele vervoersektor, met elke verandering in die regulasies.

Die minister het ook op TV gesê vliegtuie kan vlieg want hul filters vreet virusse, maar taxi’s het nie filters nie. Wat maak dit dan saak of ’n taxi 50% of 70% volgelaai is?

Ons loop nou die nasionale bevelsraad se aankondiging vooruit. Sodra hulle besluit het, sal hulle dit kan staaf hoekom dit 100% of 70% moet wees. Die taxibedryf eis ook meer as die R1,135 miljard wat ons vir hulle kan gee. Ons sê onomwonde ons kan nie meer gee nie.

Die minister sê hy het die tesourie gesmeek vir R1,1 miljard, maar die regering het R21 miljard om die SAL te red? Hoekom behandel die regering die taxibedryf so stief?

Ons doen dit nie.

R1,1 miljard vir ’n bedryf wat die ruggraat van die ekonomie – gewone werkers – vervoer teenoor R21 miljard vir ’n lugredery wat die elite vervoer?

Dis ’n vraag vir die tesourie. Die SAL val onder die departement van openbare ondernemings. Wat die taxibedryf betref: Ons kan nie geld instort in ’n bedryf wat nie kan verklaar hoe dit aangewend word nie, die ouditeur-generaal sal op ons nekke wees. Die taxibedryf is soos elke ander bedryf wat wil oorleef gedurende Covid-19. Ons wil hê hulle moet floreer want die pendelaars verkies hulle as vervoer.

As die regering aanhou sloer met hul rompslomp verloor 45% van die operateurs in die pandemie hul voertuie.

Die R1,135 miljard is ’n ex gratia-betaling, ’n daad van welwillendheid aan ’n bedryf onder druk.

Meer oor:  Taxi's  |  Regulasies  |  Kruisverhoor  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.