Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Sakeredder by Eskom sal kan doen wat nodig is’

Soos die SAL, behoort Eskom ook in sakeredding geplaas te word, sê die ekonoom Mike Schüssler.

Watter verskil kan sakeredding aan Eskom maak? ’n Sakeredder het magte. Hy kan kostes in ’n redelike kort tyd vinnig besnoei.

Sakeredding is net ’n geordende bankrotskap wat dalk vir die SAL sal werk, maar vir Eskom? Maar Eskom ís bankrot. Eskom maak operasioneel byna nie geld nie, en met sy skuldlas is die verlies ná belasting R20 miljard.

Maar Eskom kán nie deure toemaak nie? Met Eskom beteken sakeredding net iemand onafhanklik tree in wat nie die politieke spel hoef dop te hou nie. Die sakeredder kan dus doen wat gedoen moet word, soos wat die Wêreldbank-verslag sê: Verminder die personeel met twee derdes.

Sal André de Ruyter dit nie ook kan doen nie? Nee. ’n Sakeredder sal byvoorbeeld die steenkoolkontrakte forensies kan laat ondersoek.

Hoe problematies is die steenkoolkontrakte? Plaaslike steenkool, waarvan Eskom 99% koop, se prys het in die afgelope drie jaar met 35% toegeneem, terwyl die steenkool wat ons uitvoer net met 2% toegeneem het. Die afgelope jaar, nadat Ramaphosa nuwe bestuur by Eskom ingestel het, het die steenkoolpryse met 16% gestyg. Sedert 2007 het plaaslike steenkoolpryse met 384% gestyg, teenoor internasionale steenkool wat in randwaarde met 127% gestyg het.

Dit wys iets drasties is verkeerd? Die feit dat Eskom prysverhogings van 384% aanvaar het, bevestig ’n ernstige probleem. Eskom het as koper die monopolie in die binneland. Maar Eskom boelie net die verbruiker, waarskynlik omdat die steenkoolverskaffers swartbemagtigingsooreenkomste het. Dis ook dalk hoekom hulle nie sakeredding wil hê nie, want baie van dié mense is polities verbind.

Hoe onafhanklik kan die sakeredder wees? Is inmenging nie onvermydelik nie, met die regering as aandeelhouer? Die grootste krediteure is ons groot pensioenfondse wat in Eskom belê het, asook die vakbonde, en die mense vir wie Eskom geld skuld.

Wie sal so ’n sakeredding kan doen? Sakeredders is so skaars soos hoendertande. Ek weet nie. (Les Matuson,) die SAL se sakeredder, was blykbaar uitstekend met Ellerines se sakeredding. Daar is blykbaar so 65 sakeredders. Om internasionaal te gaan soek, is ook ’n moontlikheid.

Is sakeredding nie ’n oorvereenvoudigde oplossing vir ’n baie komplekse probleem nie? Dit is waarskynlik, maar wat anders bly oor?

Is die ekonomiese probleme by Eskom nie ’n rand-kwessie vergeleke met die tegniese krisisse nie? Die bedryfsprobleme veroorsaak dat Eskom nie ’n wins kan maak nie. As jy die salarisrekening en steenkool-uitgawes verlaag, kan Eskom ’n redelike groot wins maak. Die sakeredder kan ook munisipaliteite dwing om hul kragrekeninge te betaal.

En De Ruyter sal dit nié kan doen nie? Hy kan, maar sy hande gaan polities vasgebind wees. ’n Eskom-direksielid het gesê Pravin Gordhan het ingemeng en gesê instandhouding mag nie plaasvind nie, want dit beteken beurtkrag. Die sakeredder sal instandhouding kan afdwing, want almal weet dit kos die land op die lange duur meer. ’n Sakeredder kan sê: Maak julle gereed vir geordende beurtkrag vir soveel maande, want Eskom moet dringende instandhoudingswerk doen. Alternatiewe energiebronne kan ingespan word, en al daai kontrakte en wysigings wat op die minister se lessenaar lê en wag, kan baie vinniger deurgevoer word.

Meer oor:  Mike Schüssler  |  André De Ruyter  |  Kruisverhoor  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.