Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Spektrum net sondebok en deel van misleiding oor data

Iets is drasties verkeerd as Nigeriërs ’n derde minder vir data as Suid-Afrikaners betaal, sê James Hodge, hoof-ekonoom en waarnemende ondervoorsitter van die Mededingingskommissie.

Vodacom en MTN moet binne twee maande die prys van data met tussen 30% en 50% verlaag anders kan hulle vervolg word? Ja, ek weet dis baie, maar ons het ’n uitgebreide markondersoek gehad, dis ons bevindinge.

Is dié sperdatum nie onrealisties nie? Nee, einde Januarie is nie onrealisties nie. Besluite oor pryse word heeltyd gemaak.

Vodacom en MTN het sedert 2016 wel hul datapryse met tot 50% verlaag? Dis misleidend, die maandpakkette se pryse is al vyf jaar lank onveranderd. Dis die laer-inkomste-verbruikers wat uitgebuit word.

MTN sê jul verslag is te verreikend en opdringerig. Ons gaan beslis nie te ver nie, die kommissie het binne sy mandaat gebly.

Is MTN en Vodacom se pryse nie deels so hoog omdat die regering sloer om spektrum uit te reik nie? Hulle gebruik spektrum graag as sondebok. Die kommissie het in sy voorlopige verslag reeds ernstig gewaarsku dat meer spektrum toegeken moet word. Maar dis allesbehalwe die enigste rede vir die hoë pryse.

En die R50 miljard wat MTN die afgelope vyf jaar bestee het aan ’n wêreldklas-netwerk wat 4G-dekking vir 95% van die samelewing bied, sonder dat enige 4G-spektrum toegeken is? Hulle sê nie hoeveel van die R50 miljard gebruik is om te vergoed vir die gebrek aan spektrum nie. Dis ook misleidend. Ons inligting wys Vodacom en MTN bestee jaarliks minder as 5% van hul bedryfsuitgawes aan die lisensiëring van spektrum. Dit is bekend MTN het agter geraak met die bedryf van sy Suid-Afrikaanse netwerk, hulle moes meer belê om in te haal by Vodacom.

Julle fokus op Nigerië as ’n ontwikkelende land met laer datakoste as Suid-Afrika, maar MTN het 110 MHz se spektrum in Nigerië, teenoor net 38 MHz se spektrum in Suid-Afrika? Nigeriërs betaal ’n derde minder as ons vir data. Dit wys mos iets drasties is verkeerd. Die verskille in die toekenning van spektrum is net deel van die storie, nie die hoofstorie nie. MTN en Vodacom maak groot winste in Suid-Afrika.

Wat doen julle om die regering te druk om die spektrum-probleme aan te pak? Ons het met die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) daaroor vergader en die kommissie het ’n beleidsvoorskrif uitgereik met ons voorlopige bevindings.

Hoekom dring die kommissie nie daarop aan dat diensverskaffers se prysstrukture eenvoudiger en meer deursigtig is nie? Sal dít nie eerder die verbruikers help nie? Ons stem volkome saam. Ons beveel juis in die verslag aan dat verbruikers voortaan presies moet weet wat hulle maandeliks vir data opdok. Alles dui net op een ding: Ons verbruikers betaal te veel vir data.

Hoe kan julle diensverskaffers dwing om data verniet weg te gee? Dis deel van die totale pakket. Diensverskaffers gee reeds gratis data, die knoop lê egter in die manier hoe dit gestruktureer word.

Ons aanvaar diensverskaffers moet buigsaam kan wees vir promosies en volume-afslag, maar gratis data bring ’n bietjie balans.

Word al die diensverskaffers by dié reddingsboei-data betrek? Ja, anders beïnvloed dit verbruikers se keuse van diensverskaffers, met die uiteinde dat sekere diensverskaffers bevoordeel word.

Meer oor:  Mtn  |  Vodacom  |  Mededingingskommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.