Uitsprake van swart mense, soos Julius Malema, moet in die konteks van die verlede beoordeel word, reken die menseregtekommissaris adv. André Gaum.

Adv. André Gaum.
Netwerk24
Julius Malema se uitsprake lyk soos haatspraak, dit ruik soos haatspraak, so waarom is dit nie? Sy uitsprake bevorder nie nasionale eenheid en nasiebou nie, en dis inderdaad beledigend. Die drempel om wel haatspraak te wees is baie hoog. Ook hier ter sprake is die reg op vryheid van spraak.
So intussen moet wit mense vrede maak met die feit dat Malema hulle mag beledig en dreig met volksmoord? Die historiese, maatskaplike en feitelike konteks moet in ag geneem word. Was dit nie vir die kwalifikasie wat Malema gemaak het nie, het die MRK waarskynlik, nee beslis, bevind dis haatspraak.
Watter kwalifikasie? Hy het gesê wit mense moenie geslag word nie, ten minste nie nou nie.
So, “ten minste nie nou nie” red sy bas? Ja. As hy gevra het vir die slagting, was dit haatspraak.
Al sinspeel hy daarop dat dit wel in ’n latere stadium kan gebeur? Indien mnr. Malema of enigiemand anders die grens van haatspraak oorskry, sal ons absoluut en inderdaad optree.
En as sy volgelinge besluit hul groot leier se “nie nou nie” is inderdaad nou? Mnr. Malema het kort daarna gesê onder sy leierskap sal daar nie gevra word vir die aanhitsing van leed teenoor wit mense nie.
Net kwetsings, beledigings en aanhitsings? Sy aanhitsing was nie dreigend nie. Kontekstueel beskou gaan sy uitsprake oor grondonteiening en herverdeling en dis nie gemik op die aanhitsing om wit mense leed aan te doen nie.
Is julle bang vir Malema? Hoegenaamd nie. Die MRK is onafhanklik en tree sonder aansiens des persoons op.
Het julle nie nou ’n presedent geskep nie? Almal weet nou julle kruip weg agter eng wetlike vertolkings en die Malemas kom weg met alles?In ’n regstaat sal ons voortgaan om sonder aansiens des persoons die reg toe te pas.
Behalwe as dit Malema is? Het die MRK impotent geword?Die MRK is die teenoorgestelde van impotent. Ons het ook die standpunt ingeneem dat ons bevindinge en direktiewe bindend is. Die MRK is in ’n sterker posisie as ooit tevore.
Is die MRK nie veronderstel om ’n morele kompas te wees en eerder die gees as die letter van die wet te interpreteer nie? Dis ons taak om watter klagte ook al deeglik te ondersoek na aanleiding van ons interpretasie van die Grondwet, die wetgewing, in dié geval die Gelykheidswet, en die regspraak soos dit tans staan. So, dis vir ons die korrekte bevinding.
Is wit mense kwesbaar as minderheidsgroep? Ek dink wit mense per se behoort hulself definitief nie te sien as ’n kwesbare groep nie. Ons moet almal probeer om nasionale eenheid tussen mekaar te bewerkstellig. ’n Spesifieke groep kan nie gesien word as ’n kwesbare groep in Suid-Afrika nie.
Behalwe as jy swart is? In mnr. Malema se geval kom hy van die swart bevolkingsgroep. Gegewe die verlede en die sosio-ekonomiese omstandighede wat gegeld het, moet dit in ’n bepaalde konteks gesien word. In dié geval was dit gerig teenoor die wit bevolkingsgroep wat steeds beduidende ekonomiese mag het.
Stem jy saam daarmee? Persoonlik reken ek ’n meer genuanseerde benadering behoort gevolg te word.