Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Terug skool toe: Dis nou buig of bars, liewe ouers

As mense hul kinders tuis hou wanneer die skole heropen, aanvaar hulle volle verantwoordelikheid vir dié kinders se tuisonderrig, sê Elijah Mahlangu, woordvoerder van die departement van basiese onderwys.

Hoekom open skole, maar die parlement nie? Ek kan nie namens die parlement praat nie.

Wat as ’n kind die virus opdoen en sterf, is die departement verantwoordelik? Ons regspan het daaroor besin. Dis ’n scenario waarvoor beplan word. Dit sal hanteer word soos dit kom.

Sommige ouers sê die minister neem besluite oor die opening van skole sonder om hulle te raadpleeg. Dis onmoontlik om die ouers van 30 miljoen kinders te raadpleeg. Die minister het gesê sy praat met onderwys-organisasies soos Fedsas (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). Ons steun op wat hulle sê oor hoe hul lede voel.

Stem die meeste van hulle saam dat skole nou heropen? Ja, almal van hulle. Nie een sê ons moenie voortgaan nie. Maar hulle sê ons moet seker maak almal is veilig.

Nog ’n kwelpunt van ouers is of daar heeldag in badkamers iemand sal wees om te verseker die kinders was hul hande vir 20 sekondes? Die opvoeding van kinders begin tuis. Ouers moet hul deel bydra. Die nuwe praktyk moet tweede natuur word. Onderwysers sal ook die leerlinge opnuut herinner daaroor.

Ons weet nou van die gr. 7’s en gr. 12’s begin eerste. Wat van die ander grade? Hulle sal volg. Ons wil eers met die kleiner groepe begin om ons gesondheids- en veiligheidsmaatreëls in te stel. Ons sal kyk hoe dit gaan en dan die ander grade bring.

Enige idee hoe lank dit sal neem? Ons weet nie.

Wat van klaskamerruimte wanneer die ander terugkeer? Ons sal uit die ervaringe van die eerste fase leer, dis hoekom twee grade eerste terugkeer. Belangegroepe stel voor ons gebruik gemeenskaps- en stadsale en ander beskikbare plekke vir onderrig. As dit nodig is om sosiale afstand te handhaaf, sal ons dit moet doen.

As ouers by skole wil kom help, sal hulle toegelaat word? Ja, dis hoekom ons sê almal moet hul deel doen om ons kinders en onderwysers veilig te hou. Hulle moet net self die maatreëls nakom.

Sou ouers besluit om hul kinders tot einde vanjaar tuis te onderrig, sal hulle toegelaat word om eksamens af te lê? Sulke ouers moet die beleid oor tuisonderrig gaan lees. Hulle moet dit verstaan voordat hulle dié roete kies.

Is onderwysers verantwoordelik vir leermateriaal vir kinders wat tuisonderrig kry? Nee. As jy jou kinders tuis hou, aanvaar jy as ouer die verantwoordelikheid om die kind self te onderrig.

Maar dis ’n noodsituasie. Hoekom kan ouers nie hul kinders se leermateriaal by die skole afhaal nie? Die beleid oor tuisonderrig het nie verander nie. Ons kan dit nie oornag verander nie. ’n Konsultasieproses moet gevolg word. Ons word gerig deur die Suid-Afrikaanse Skolewet saamgelees met die beleid oor tuisonderrig.

Maar die beleid is opgestel vir normale omstandighede. Ouers vrees vir hul kinders se lewe. As daar ekstra leermateriaal is, hoekom dit nie by dié leerlinge kry nie? Ons sê bring jou kind skool toe. As jy jou kind tuis hou, aanvaar jy verantwoordelikheid vir alles. Daar is niks tussenin nie. As die kinders in die skool ’n toets skryf, hoe sal die leerling dit tuis doen as daar niemand is om hom of haar te monitor nie? Dis nie prakties moontlik nie.

Meer oor:  Elijah Mahlangu  |  Angie Motshekga  |  Onderwys  |  Kruisverhoor  |  Vlak 4  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.