Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Uitkoms, maar ook skade . . .

Die “universe” sê vir die siener Gerald Burger dat ’n vliegtuigramp op pad is, maar wanneer dit kom... wel, dis ’n ander saak.

Die vraag wat seker almal wil weet is: Gaan die ligte aanbly in 2020? As ek na my visie kyk, my aanvoeling, voorspel ek dat daar baie probleme gaan wees. Ons gaan nog gereeld beurtkrag kry tot Junie, Julie, dan gaan hulle dit eers uitsorteer. Dis wat ek kry. En van daar af gaan dinge weer normaal wees.

En gaan pres. Cyril Ramaphosa uiteindelik ’n ruggraat kry en beheer neem van die land se probleme? Hy is maklik beïnvloedbaar deur ander lande, hy wil hul styl volg, maar dit gaan nie in Suid-Afrika werk nie.

Hoe weet jy dit? Oor die beloftes wat hy maak.

Sê jou kristalbal dit, of is dit jou politieke aanvoeling? Dis wat my visie sê.

Hoe weet jou visie dit? Terwyl ek met jou praat, is ek ingeskakel op die visie. Rama­phosa is ’n leier, maar hy maak staat op ander mense. Dis hoekom hy so baie buiteland toe gaan, sy besluite is nie wat hy voorgee nie.

Sê jou visie dalk of ek die lotto gaan wen? As jy die regte nommers het, behoort jy te wen.

As jy die regte nommers het, behoort jy die lotto te wen.

Het jy die regte nommers vir my? Ek kan nie, want die nommers is numerologie, en ek kan dit nie doen nie. Ek sê net speel die nommers van mense wat na aan jou was, wat oorgegaan het, hul verjaardae en sterfdatums. Jy weet, nommertjies.

Het mense al gewen op grond van jou nommertjies? Ek weet van vier of vyf, maar nog nie daai groot lotto-wen nie.

En dié wat nie gewen het nie, wou hulle hul geld terughê? Nee, ek vra nie geld nie, ek gee hulle raad.

Gaan die boere in 2020 reën kry? Daar is baie verwagtinge van Februarie af, met baie verspoelings.

Waar? Die hele natuur het gedraai, as jy vat hoe ek grootgeword het teenoor nou. (Lag) My ma het altyd gesê toe hulle die goed maan toe gestuur het, het hulle die Here se werke gaan omkrap.

Daar gaan uitkoms kom, maar baie skade in die volgende jaar.

Watter skade? Vloede. Ek het laasjaar Durban se vloed voorspel.

Wanneer kom die vloede, dat die boere darem kan voorberei? Hulle moet voorbereid wees op reën, maar ook reënskade, van Februarie, Maart af.

Waar? Ek praat meer Vrystaat se kant toe.

Presies waar? Karoo en die Vrystaat, ek het reeds gesê die kusdorpe gaan wegspoel, en die voorspelling het waar geword.

Ek het ook gesê die Wêreldrugbybeker kom huis toe – en hy het.

Ek het gesê die Wêreldrugbybeker kom huis toe – en hy het.

Waarvan is jy nié seker nie? Dit hang af van in watter situasie ek my bevind. Ek maak staat op die universe en God se krag.

Is daar dinge wat jy nie wil voorspel nie? As ek sien daar is gevaar, sal ek die mense waarsku.

En partykeer sal ek vir mense sê ek tel iemand op wat siek is, en ek sien “dit” binne drie of vier maande, en voor ek my kom kry, weet ek nie hoekom ek drie of vier gesê het nie, en dan hoor ek drie of vier maande later sterf die mense.

Was jy al verkeerd? Ek glo nie die universe het my al een keer verkeerd gewys nie. As ek ’n visie kry, dan praat ek – en agterna besef ek eers wat ek gesê het.

Jy het Laingsburg se ramp voorspel? Ek het ses maande vroeër reeds die visie gekry en dit in die koerante gesit, en die nag van die vloed wakker geword met die visie. Toe bel ek die mense en sê gaan kyk die voorspellings.

Wanneer kom die volgende ramp? Ek is bekommerd oor ’n vliegtuigramp, dit verskyn in my visie, en dan probeer ek my visie beheer, ek wil nie daarop fokus nie. Maar ons kan in die volgende twee jaar ’n groot vliegtuigramp kry, hoor.

Wat help dit as ’n mens nie weet wanneer nie? Jy kan tog niks daaraan doen nie? Weet jy, dis die universe, dis destiny.

So blameer jy die “universe”? Dis wat ’n mens sien, dis wat jou dit laat waarsku, maar jy kan dit nie verhoed nie, want dis natuurrampe, God se weë.

Warren Buffett sê voorspellings sê min oor die toekoms, maar baie oor die voorspeller. Wat sê jy? Mense kom na my toe om duidelikheid te kry oor geliefdes, daar is dié wat klarigheid soek oor die rigting van hul lewens, werkloosheid en veral depressie, waarmee ek deesdae baie werk. Dan help ek die mense, soos die staatsaanklaer vir wie se vroutjie ek gesê het hulle moet baie versigtig wees, want hulle het ’n ou babatjie van ses maande. En toe gaan skiet hy homself.

Wat is die vreemdste vrae wat mense vra? Wanneer wen ek die lotto of wanneer kry ek baie groot geld . . . Dan sê ek altyd, kom ons vra die universe om jou te help.

Gaan Julius Malema in 2030 in Tuynhuys of die tronk wees? Al wat ek optel van die politiek, is verskriklike groot skuiwe, wat nie goed is nie. Ek praat van alle partye. Hulle is vir my verskriklik onseker, die mense luister na Malema, maar hulle hóór hom nie. Dis maklik om ’n belofte te maak, maar moeilik om dit na te kom. So, hulle is ook maar kwaad vir hom.

Wys jou kristalbal ’n eenrigtingkaartjie weg? Ek sê vir mense terwyl jy jonk is, en jy het die geleentheid om oorsee te gaan, vat dit, want hier is werkloosheid, hier is niks.

Vroeër vanjaar het jy vir die ma van ’n seuntjie wat 22 jaar terug ontvoer is, gesê haar kind leef nog. Dit het haar wêreld in duie laat stort. Is jy spyt daaroor? Ek weet die kind lewe, die visie het dit gesê. Onthou net een ding, ek is ’n psychic. Wanneer ek iets sê en ek het vrede in my hart, kom dit van die Here af. Ek vra mos. En as ek ’n onsekerheid het, sê ek dat dit nie vir my sin maak nie.

Hét mense al hul geld kom terugvra? Nog nooit. En ek doen my liefdeswerk, ek het nog elke jaar vir kinders gesorg, hierdie jaar gee ek vir ’n kinderhuis in Kempton Park geskenkies.

Meer oor:  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.