Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Veiligheidslid ‘kan nie by slagoffers betrokke raak’

Sy stuur mediaverklarings uit as iemand deur die Tshwane-metropolisie (TMPD) aangerand word, sê Karen Meyer, die stad
se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid.

Het jy al met prof. André Thomashausen kontak gemaak nadat hy na bewering deur TMPD-lede aangerand is?Nee, ek wil nie betrokke raak by spesifieke insidente nie. Daar is duisende mense in die stad, ek gaan sien nie elkeen (slagoffer) nie, want in die ondersoeke kan dit beskou word dat ek onregmatig betrokke of bevooroordeeld is.

Was die onderwyseres Kymie du Toit, wat drie maande terug aangerand is ook nie belangrik genoeg om te kontak nie? Ek kan nie betrokke raak nie, maar ek stuur mediaverklarings uit.

So jou bydrae is mediaverklarings? Ek maak seker die ondersoekbeamptes besoek die klaers en begin ’n behoorlike ondersoek. Om te sê ek stel nie belang nie is onwaar.

In die verklaring sê jy inwoners wil nie gevalle by die polisie aanmeld nie weens vrees vir viktimisasie. Dis mos jou werk om iets daaraan te doen? Ons interne ondersoekeenheid, onafhanklik van die metrolede, is getaak om dit te ondersoek. Ons het aanbeveel dat mense ook klagte by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat aanhangig maak.

Intussen word Centurion-inwoners al maande lank blootgestel aan aggressiewe beamptes?Ek hoor jou. Ek is nog nie eens 12 maande in dié pos nie. Ek sien nou die hoof en bestuurseenheid van die metropolisie oor dié probleemkol in Centurion.

Nou eers? Ons het reeds gesels met die hoof van die polisiedienste om te kyk na ’n integriteitseenheid in die metropolisie.

Praatjies en planne terwyl inwoners uitgelewer is? Die metropolisie se ondersoekeenheid is besig met die ondersoek.

Is die verdagtes in die Thomashausen-geval op verpligte verlof hangende die ondersoek? Daar is ’n proses wat gevolg moet word.

Dis tog baie ernstige aantygings? Arbeidswette moet gehoorsaam word.

So, hulle is aan diens terwyl inwoners van Centurion te bang is om saans ná ses op straat te kom – nie vir misdadigers nie, maar die metropolisie? Ek stem 100% saam, dis hoekom ek by die hoof van die metropolisie wil hoor wat sy daaromtrent doen. Ons kan nie so aangaan nie.

Met die Du Toit-saak het ons aangedring dat die ondersoeke en dissiplinêre aksie ekstern moet wees, deur die stadsbestuurder se kantoor.

Die metropolisie beveel aan dat die amptenare geskors word terwyl die ondersoek aan die gang is.

Die lede wat betrokke is by die Thomashausen-geval is eers Woensdagaand, twee weke ná die voorval, ondervra? Ek kan nie kommentaar daaroor lewer nie, dis deel van ’n administratiewe proses waarby ek nie kan inmeng nie.

Slagoffers kan dus nie die politieke hoof nader nie, haar hande is vas, ook nie die polisie nie, want dan word hulle geviktimiseer? Dis onregverdig om te sê hulle kan nêrens heen gaan nie. Ek maak seker as ek genader word, dat ’n ondersoekbeampte hulle besoek en dit ondersoek. Ek probeer soveel druk as moontlik op die stadsbestuur plaas, want die Du Toit-saak lê nou al ’n geruime tyd daar en wag.

Sedert 19 Desember. Vra enigeen hoeveel e-posse ek aan die stadsbestuurder gestuur het vir antwoorde.

So, jy het geen tande nie? Nee, ek oefen die magte uit wat ek kan.

Meer oor:  Karen Meyer  |  Kymie Du Toit  |  Metropolisie  |  Kruisverhoor  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.