Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Vergeet getalle, raad steun hom as burgemeester

Die mense se boodskap is baie duidelik. Hulle wil nie meer die DA in beheer van Nelson Mandelabaai hê nie, sê die stad se nuwe UDM-burgemeester, Mongameli Bobani.

Mongameli Bobani

Het jy nie die metro op ’n skinkbord vir die ANC gegee nie? Nee, ek het dit vir die mense van Nelson Mandelabaai gegee. Hulle wou nie die DA gehad het nie.


Maar die DA het die grootste steun gekry, meer as die UDM se 1%.
Nee, nee, die bevolking van NMB is 1,2 miljoen. Die DA het minder as 300 000 stemme gekry. Hoe kan hulle vir seker weet die ander 700 000 kiesers is ook tevrede met hulle? Maak nie saak dat ek 100 000 kiesers agter my het nie, die mense van die metro is ten volle agter my. Die UDM, ANC, United Front, AIC en EFF werk saam in NMB. Ons moedig die res van Suid-Afrika aan om so te wees. So kan daar die beste dienslewering wees aan die mense.


Dienslewering? Wanneer? Julle baklei dan heeltyd?
Nee, onthou ek werk vir die mense, selfs al was ek nie in koalisie of adjunkburgemeester nie. Ek besoek die krotte, praat met mense, help hulle met munisipale probleme.


Hoekom het jy die koalisie met die DA onder die bus gegooi?
Athol Trollip het my afgedank, wat kon ek doen?


Maar jy word beskuldig dat jy die koalisie herhaaldelik ondermyn het
.
Selfs Trollip het al saam met die ANC gestem en Cope ook. Kragtens die koalisie-ooreenkoms, is dit presies wat in koalisies gebeur.


So met 1,91% van die stemme gaan die ANC-stert die UDM-hond swaai?
Selfs al het ek 0, 0, 0, 0,1% is daar geen wenner hier nie. Jy kan nie suiker koop as jy een sent te min het nie. R20 kan nie R20 wees sonder ’n sent nie, anders is dit R19,99. Jy moet die sent bysit. Die raadslede het vertroue in my, anders sou hulle my nie as burgemeester gekies het nie. Malema het gesê Trollip moet waai, die EFF wil die keel van witheid in NMB afsny. In die raad het jy vir die swepe gesê: “F**k you, you useless white people.”

Is julle nou in ’n “f**k the white”-koalisie, die UDM en die EFF? Ek sal nooit so iets sê nie.


En toe kies jy die veroordeelde Andile Lungisa (ANC) in jou burgemeesterskomitee. Sal hy komiteevergaderings bywoon?
Hy het nie sedert 2016 nie. Waar kom mense daaraan? Dan sou hy al lankal afgedank gewees het. Hy sê hy het net een of twee gemis, en verskoning gemaak.

Is hy nie op pad tronk toe nie? Ek sê altyd ’n mens is onskuldig tot jy skuldig bevind word.

Het jy nie gesien hoe hy in 2016 ’n glasbeker oor Rano Kayser, DA-raadslid, se kop gebreek het op die raadsvergadering nie? Hy is skuldig bevind aan dié aanklagte, ja. Die saak is nou op appèl.

Het jy dit gesien? Nee, dit was chaoties in die saal. Dit is eers op die video gesien.

Nog iemand op pad tronk toe – sou sy appèl misluk – is Bongo Nombiba, wat jy ook as burgemeesterskomiteelid aangestel het. Hy het vyf jaar gekry vir bedrog en geldverduistering.Hoekom moet ek namens hierdie mense antwoord?

Jy het hulle aangestel in jou komitee? Hy het geappelleer, ek gaan nie in dié debat betrokke raak nie.

In Maart het jy die Cope-raadslid Deidre Carter rondgestamp, is geweld deesdae mode in die raadsaal?

Ek het om verskoning gevra, ek wil nie in daardie detail gaan nie, dis iets van die verlede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.