Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: W-Kaap ‘sal nie swig’ voor misdadige taxi-minderheid

Ná die afgelope week se taxi-geweld in die Wes-Kaap is die plaaslike regering met geen alternatief gelaat as om een van sy taxi-hoofroetes vir twee maande te sluit nie, sê Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir vervoer.

Meer as 80 mense is nou al vanjaar in die Wes-Kaap dood as gevolg van taxi-geweld. Wat was die oorsaak van dié jongste geweld?

Die geskil gaan oor die B97-roete tussen Mbekweni, buite die Paarl, en Bellville, met sowel die Cata- as Codeta-taxivereniging wat daarop aanspraak maak dat hulle alleenreg op die roete het.

Kaapstad was die afgelope week ’n spookdorp, terwyl honderde mense Maandagaand van die stad terug huis toe moes loop na die Kaapse Vlakte en Khayelitsha. Wat is die ekonomiese impak van hierdie geweld?

n Handjievol misdadigers hou meer as 120 000 pendelaars gevange. Dit kan nie langer geduld word nie.

Wat doen julle om die geweld en lewensverlies te keer?

Van Maandag 26 Julie gaan die B97-roete gesluit wees vir twee maande.

Hoe het julle tot hierdie besluit gekom?

Ek het op 9 Julie ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer waarin ek openbare terugvoering versoek het oor die moontlikheid om hierdie roete vir ’n tydperk te sluit en permitte terug te trek. Die openbaredeelnameproses het op 16 Julie gesluit en nadat ek alle voorleggings bestudeer het, het ek, ná konsultasie met die premier (Alan Winde) en die nasionale minister (Fikile Mbalula), tot hierdie besluit gekom.

Maar dan gaan niemand kan werk toe gaan nie.

’n Tydelike permit kan uitgereik word vir taxi-bestuurders. Ek sal ook voordat die week begin ’n aankondiging maak oor vervoerreëlings vir pendelaars wat hierdie roete gebruik.

Dit klink na drastiese stappe.

Ons kan nie langer gevange gehou word deur ’n misdadige minderheid wat aanhou om die belange van ons baie wetsgehoorsame taxi-bestuurders te ondermyn en aanhou om die lewens én die lewensbestaan van ons burgers te bedreig nie.

Ek het ’n eed gesweer dat ek in die beste belange van ons mense sal optree, en ek sal aanhou om dit te doen deur elke meganisme tot my beskikking te gebruik.

Wat as die geweld weer handuit ruk? Gaan taxi-bestuurders na julle luister?

Die Wes-Kaapse regering sal aanhou om saam met die polisie, ander veiligheidsbelanghebbendes, die nasionale weermag, die metropolisie en verkeersbeamptes te werk om te verseker ons pendelaars word beskerm.

So, daar is nie veel hoop vir die komende week se arbitrasieproses nie, of hoe? Jy en die minister het ook Woensdag met taxi-base vergader.

Die vergadering het op ’n dooiepunt geëindig. Die komende week se arbitrasieproses begin môre en eindig Donderdag.

Word die taxi-verenigings nou aan hul eie genade oorgelaat om die situasie op te los?

Die Wes-Kaapse departement van vervoer sal aanhou om ’n lokaal en onafhanklike bemiddelaars beskikbaar te stel om hierdie twee verenigings te help om ’n oplossing te vind. Ons moedig hulle aan om die belange van ons gemeenskappe eerste te stel.

Vir ’n hele paar weke probeer ons nou al in goeder trou ’n oplossing vind vir hierdie geweld. Ek en my departement werk aanhoudend om veiligheid tot die openbare vervoerstelsel te herstel.

Meer oor:  Daylin Mitchell  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.