Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Waarom sukkel julle so om R350 aan iemand te gee?

Wees geduldig, honger desperate werkloses, jul R350-toelaag sál kom, sê Totsie Memela-Khambula, uitvoerende hoof van Sassa.

Op 15 Mei moes uitbetalings van die R350-toelaag vir werkloses begin. Twee weke later is net tien betaal. Hoekom? Dis interessant hoe mense altyd die glas as halfleeg sien. Ons moes eers toets of die stelsel werk.

Hoekom neem dit drie weke om die stelsel te toets? Want dis ’n nuwe stelsel wat ons spesifiek moes ontwikkel vir dié Covid-19-toelaag. Weens die inperking was ons kantore lank toe, ons wou verhoed dat nuwe Sassa-gebruikers én die oues wat gewone toelaes kry, in massas daar opdaag.

Daar is in elk geval nou lang rye gefrustreerde mense buite Sassa-kantore weens die vertragings met die R350-toelaag? Mense het nie verstaan die R350-toelaag word anders, aanlyn, gehanteer nie. Boonop was daar tydens vlak 4 net ’n derde van ons personeel by die kantore.

Is dit nie gevaarlik om ’n toelaag vir honger, desperate mense aan te kondig as jy dit nog nie kan uitbetaal nie? Die president het gesê in Mei, hy het nie gesê 1 Mei nie.

Hoekom het julle nee gesê vir die presidensiële taakspan se digitale eenstop-diens vir die betaling van die toelae? Ons doen dit self ook digitaal.

Maar die voetwerk is klaar gedoen deur ons land se voorste betaalstelsel-kundiges? Toe los julle dit op die laaste oomblik? Ek weet nie wat mense bedoel as hulle sê ons het dit op die laaste oomblik gelos nie.

Nie? Ja, ons was nie deel van die proses nie. Een of twee van ons mense was uitgenooi, heel aan die einde. Ons gebruik dieselfde stelsel as hulle, maar die databasisse was toe nog nie gebou nie.

Wat was die probleem met die presidensiële taakspan se konsep? Ons het, soos hulle, aanvanklik die gesondheidsplatform gebruik. Maar toe word die stelsel oorlaai, want nie net aansoekers vir die R350-toelaag gebruik die stelsel nie, maar ook mense met Covid-verwante sake.

Sassa kon laas maand reeds nie die ekstra toelaag vir gewone Sassa-gebruikers hanteer nie. Daar was dubbelbetalings in die Wes-Kaap, geen betalings in KZN nie – die gevaarligte was reeds daar? Ons moes vinnig ’n klomp veranderinge aan ons hoofraamstelsel maak vir die R300 ekstra per kind. Boonop moes ons die uitbetalingstye spasieer sodat almal nie gelyk by die uitbetaalpunte opdaag nie. Baie veranderinge, vinnig, het ’n impak gehad, maar dis nou onder beheer.

Julle het belowe 140 000 mense sou die afgelope week hul R350-toelaes kry. Het hulle? Dinge lyk goed. Daar is nou (teen Vrydag) 666 000 mense in die pypleiding vir betalings in die volgende dae, 39 000 het reeds die geld in hul bankrekenings, altesaam 110 000 mense kry dié week hul geld.

En die 2,49 miljoen ander? Ons betaal hulle deurlopend, twee keer ’n week. As hulle in Mei aansoek gedoen het en nie betaal is nie, sal hulle twee betalings in Junie kry.

En dié wat uitgeskop word weens jul stelselfoute? Hulle het tans geen manier om te appelleer nie. Ons sal in SMS’e verduidelik hoekom hulle nie gekwalifiseer het nie.

Dit help nie honger, desperate mense wat ’n maand ná die president se aankondiging nie ’n sent daarvan gesien het nie? Ons verstaan mense is honger. Verstaan ook dat 65% van die mense wat aansoek doen, nie kwalifiseer nie. Asseblief, moenie die stelsel onnodig belas nie, dit skep ’n administratiewe nagmerrie.

Meer oor:  Sassa  |  Kruisverhoor  |  Toelaes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.