Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: ‘Wat bedoel jy met moedertaalonderrig?’

Afrikaans kan nie spesiale behandeling in skole kry nie, sê Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement. Foto: Argief

Reken die Gautengse LUR vir onderwys moedertaalonderrig is onnodig? Jou onderhoudversoek was oor die aanlyn registrasieproses.

Panyaza Lesufi het by die bekendstelling van die aanlyn registrasiestelsel gesê dit gaan sy verstand te bowe dat daar nog vir Afrikaanse onderrig baklei word. Jou kommentaar? Moet ek nou kommentaar lewer oor wat hy sê?

Is Lesufi teen moedertaalonderrig of verwys hy net na Afrikaans? Hy is nie teen Afrikaans of enige taal nie, maar geen taal is belangriker as ’n ander nie.

Hy sê Afrikaans kelder leerlinge, want daar is nie meer Afrikaanse universiteite nie. Jou kommentaar? Ek gaan nie ingetrek word hierby nie, ek praat oor departementele standpunte.

Wat antwoord jy as die woordvoerder? Die departement het geen planne om weg te doen met Afrikaans nie.

Wys sulke uitlatings nie dat die LUR Afrikaans teiken en die taal wil uitfaseer nie? Nee. Ek gaan nie daaroor praat nie.

Het jou LUR die berge navorsing gelees wat wys hoe noodsaaklik moedertaalonderrig is? Die taal van onderrig en leer hang af van die demografie van ’n skool. As ’n skool se toelatingsbeleid Afrikaans is, moet dit so bly. As die getalle bepaal Engels moet ook ’n onderrigtaal wees, moet die beleid verander.

H oekom maak die LUR ouers wat aandring op Afrikaanse onderrig verdag? Ek kan nie daarop antwoord nie.

Jy kan dus net kommentaar lewer oor sekere goed wat hy sê, nie alles nie? Ek lewer kommentaar oor departementele beleid. Al die ander goed wat hy sê – vra hom. (Lesufi staan nie onderhoude aan Rapport toe nie. – Red.)

Moet jul departement nie eerder fokus op gehalteonderrig in al die skole en ophou om die skole wat wel presteer, te teiken nie?Jy is nie objektief nie. Wie sê ons teiken wat?

Dis wat jou LUR doen. Ons teiken nie enige skole nie, ons is vir inklusiwiteit.

Wat doen julle om moedertaalonderrig in al die inheemse tale in Gauteng te bevorder? Wat bedoel jy met moedertaalonderrig? Die taal van onderrig en leer is Afrikaans en Engels. Die ander tale word as vakke aangebied. Weens apartheid se ruimtelike segregasie kan ons nie al die tale in een skool hê nie. Dit gaan lank vat vir die ander tale om by Afrikaans en Engels in te haal. Dis nog net 25 jaar, Afrikaans is al hier vir langer as 100 jaar.

Is die tegniese probleme vir die aanlyn registrasie nou uitgestryk? Die tegniese probleme is veroorsaak deur die groepe wat ons vertraag het.

Hoekom is dit vertraag? Gaan vra Solidariteit en AfriForum.

Hoekom het julle in die eerste plek nie skole se onderrigtaal in die aansoekvorm aangedui nie? Dit was nie nodig nie, want ons ken al ons skole. Die konstitusionele hof het gesê leerlinge kan nie op grond van ras, etnisiteit, geloof en taal uitgesluit word nie. Nou wil julle hê taal moet ’n prioriteit wees.

Is dit nie jou grondwetlike reg om in jou moedertaal onderrig te word nie? Julle wil glo Afrikaans is die belangrikste. Afrikaans kan nie spesiale behandeling kry nie. Hoekom soek julle eksklusiwiteit, ’n Afrikaanse skool in ’n omgewing waar nie net Afrikaanssprekendes bly nie? Demografie is nou bepalend.

Meer oor:  Steve Mabona  |  Onderwys  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.