Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Weg met woord ‘druip’, sê sielkunde-professor

Om aan onsuksesvolle leerlinge te sê hulle het gedruip of misluk, lei tot diepe gevoelens van verwerping en selfs lewensverlies, sê prof. Kobus Maree van die departement op- voedkundige sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Jy sê die woord “druip” of “misluk” het geen plek in die huidige samelewing nie. Hoe so? Sien dit so: Niemand het “misluk” nie. Hulle het steeds 'n bepaalde prestasie behaal. As iemand 20% behaal in die eksamen, het sy of hy immers 20% sukses behaal. Om te sê iemand het gedruip, stuur die boodskap uit die persoon het “misluk”. Talle leerlinge wat moet hoor hulle het gedruip, voel (soms intens) teleurgestel; selfs verwerp. Uit die perspektief van positiewe berading wil ons al die negatiewe benamings soos “swak punte” (liefs: areas vir groei) verwyder. Ons wil op die positiewe fokus en hoop gee. Iemand het altyd ’n kans op sukses, gedefinieer as prestasie wat in pas is met sy of haar unieke persoonlikheid (insluitend talente), asook haar of sy sleutellewenstemas.

Is dit nie maar net mooipraatjies nie? As jy nie suksesvol was nie, het jy tog misluk.Ná 40 jaar se berading as 'n sielkundige het ek al by die grafte gestaan van leerlinge wat hul eie lewe geneem het – onder meer ná afloop van die bekendmaking van die gr. 12-uitslae. Studente wat vir my sê: “Almal sien my as 'n mislukking. Ek is waarskynlik een.” Ek spaar liewer een lewe as dat ek my blootstel aan opmerkings wat diepe gevoelens van verwerping en selfs depressie en selfdood kan aanhelp.

Maar destyds was die benaming “druip” tog aanvaarbaar. Nee, moenie 'n fout maak nie. Die pyn wat gepaardgaan met die etikettering dat iemand “gedruip het”, was destyds so werklik soos vandag. Ons is wel tans veel meer sensitief vir ander se regte, emosies, pyn, hartseer, ensovoorts. Groepsdruk is enorm; om te moet voel jy is uitgesluit uit jou eweknie-groep en word nie aanvaar nie, is ekstreem pynlik. Niks maak leerlinge seerder nie. Kinders uit die armste dele het dikwels nie ouers nie, ly honger, kan dit kwalik bekostig om skool toe te gaan, het weinig ondersteunende strukture; onderpresteer meer dikwels as nie weens faktore buite hul beheer. Om so iemand te laat voel sy of hy het “gedruip”, is onmenslik.

Sommige provinsies hou groot getalle leerlinge in gr. 11 agter om hul matriekuitslae in die daaropvolgende jaar beter te laat vertoon. Is dit aanvaarbaar? Nee, dis algeheel nie aanvaarbaar om leerlinge terug te hou om bepaalde politieke of watter ander redes ook al nie. Sulke praktyke is oneties. As leerlinge sê hulle wil self die jaar oordoen ten einde hul kans op sukses te verbeter, het ek wel geen probleem daarmee nie. Inteendeel. Ons durf egter nie namens leerlinge besluit nie.

Prof. Mary Metcalfe sê die slaagsyfer het oor die afgelope dekade met meer as 15,6 persentasiepunte gegroei en dat 2019 se sukses te wagte was. Maar kan ’n mens die uitslae glo?Die huidige uitslae sê vir my niks van die strukturele probleme, van die groot uitdagings in die onderwys nie. Benadeelde leerlinge se prestasie sedert 1994 in kernvakke soos wiskunde het byvoorbeeld nie beduidend verbeter nie. Die lees- en skryfvermoë van studente het die afgelope aantal jare ook nie verbeter nie.

Wie dink ons bluf ons met hierdie slaagsyfer? Die arbeidsmark kan eenvoudig nie so baie leerlinge met ontoereikende vaardighede – wat nie indiensneembaar is nie – akkommodeer nie.

Laastens: Of ons dit wil weet of nie, ons onderwysstelsel bevorder steeds sosio-ekonomiese ongelykheid.

Breedweg gestel: Diegene in ver­moënder omgewings presteer oor die algemeen toereikend en diegene in armoedige omgewings, presteer ontoereikend.

Dit is waar die grootste uitdaging lê, en waarop ons moet fokus.

Meer oor:  Kobus Maree  |  Kruisverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.