Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kruisverhoor: Wet wil musikante, maar nie akteurs nie, beskerm

Dramastudente moet geleer word om hul geld beter te kan bestuur sodat daar ietsie vir hul oudag oor is, sê die akteur Hans Strydom van die Suid-Afrikaanse Akteursgilde.

Die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Kunstenaars is weer oop vir openbare kommentaar nadat dit 15 maande op die president se lessenaar gelê het vir goedkeuring. Hoe lank veg julle nou al vir regverdige uitbetalings vir tantième van heruitsendings?

Al vir meer as 20 jaar, maar hierdie nuwe wetgewing gaan nie die probleem oplos of TV-kanale dwing om tantièmes te betaal nie. Akteurs pas nêrens in met hierdie nuwe wet nie. Dit is geskryf met musikante in gedagte wat staatmaak op kollektiewe geld van ’n organisasie soos Samro (die Suid-Afrikaanse Musiekregte-Organisasie). Ons kort aparte wetgewing vir akteurs wat tantième hanteer, maar my kommentaar hieroor is met die vorige ronde voorleggings (oor hierdie wet) voor die parlement geïgnoreer.

Die president het die wetsontwerp weer oopgemaak vir kommentaar nadat die Amerikaners gekla het die nuwe wet bied nie voldoende beskerming van hul kopiereg nie. Het hulle ’n punt beet?

Ek’t geweet die president gaan nie die wetsontwerp onderteken nie, want dit tas internasionale kopieregte aan. Goddank het sy regsadviseurs hierdie probleem raakgesien, want daardie wetgewing is só swak. Ons as akteurs moet liewers self druk op TV-kanale begin plaas om vir ons tantième te begin betaal.

Wat is die huidige probleem met die uitbetaling van tantième?

Tantième word deur die SAUK betaal – vir elke heruitsending word 15% van die akteur se oorspronklike vergoeding, soos aangepas vir inflasie, betaal, en in spitstyd (tussen 18:00 en 20:00) is hierdie tantième 25%. Die probleme by die SAUK is egter hul katastrofiese administrasie. Oor die R3 miljoen se fakture in tantième, wat klaar deur die SAUK goedgekeur is, is nog nie deur hulle uitbetaal nie. Boonop moet hulle ekstra rente betaal vir elke laatbetaling. Ek’t dit al telkemale aan hulle uitgewys. Dis onbevoegde amptenary wat nie eens e-posse kan beantwoord nie. Ek het by AfriForum hieroor gaan aanklop, en hulle het sonder om te aarsel vir ons ’n regspan gegee. Ons is besig om hofstukke voor te berei.

En ander TV-kanale?

MultiChoice en kykNET betaal nie tantième op reekse wat hulle vervaardig nie, en geen wet dwing hulle om dit te doen nie. Ons akteurs is nie baie gelukkig daarmee nie, maar ons moet eet en kan nie vir die werk wat hulle bied nee sê nie. Al wat hulle kan dwing is ’n morele verpligting.

Die nuwe wetgewing sou nie ’n verskil maak nie?

Nee.

Bied tantième werklik ’n oplossing vir werklose kunstenaars om ’n passiewe inkomste te verdien?

Ja, as iets etlike kere heruitgesaai word, kan dit bedrae word wat die pot aan die kook hou. Die bedrae word vir inflasie aangepas, dis nie peanuts nie.

Daar is argumente dat akteurs finansieel bloot beter moet beplan – is hierdie argument regverdig?

Volgens my moet persoonlike finansiële beplanning ’n verpligte vak vir dramastudente word. Jy’s ’n eenmansaak, ’n onafhanklike kontrakteur wat nie jouself moet afhanklik maak van die staat vir sorg nie.

Wat staan hulle te doen?

Baie van ons uitgawes kan afgetrek word by belasting. Daardie aftrekkings kan ’n welvaart-kitty word waarmee jy moet spaar, maar akteurs besef dit nie. Hierdie goed vang jou aan die einde van jou lewe. Ons is mos maar ’n happy-go-lucky klomp wat nie aan sulke goed dink nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.