Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kudde-immuniteit? Dit gaan nie gebeur nie. So wat nou?

Kudde-immuniteit is nie meer die antwoord nie – die virus het te veel verander. Die wêreld sal moet leer om met die koronavirus saam te leef, skryf prof. Shabir Madhi.

Prof. Shabir Madhi Foto: Gallo

Enige idee in 2020 dat Covid-19 net ’n paar maande sou duur, is misplaas – veral toe dit bekend geword het dat die koronavirus hoofsaaklik deur die lug versprei en alles daarop dui dat dit herhaalde vlae sou veroorsaak.

Dit is wat tydens die griep-pandemie in 1918 gebeur het.

Boonop het baie min wetenskaplikes voorspel dat ons dié soort mutasies sou sien wat oor so ’n kort tydperk voorgekom het.

Dit het daartoe gelei dat die virus meer oordraagbaar geword het en immuunresponse beter kan ontduik.

Die evolusie van die virus was so vinnig dat die Delta-variant, wat tans die wêreld oorheers, minstens dubbeld so aansteeklik is soos die eerste virus wat gesirkuleer het.

Die idee van kudde-immuniteit beteken dat lande soos Suid-Afrika sal bly glo dat voortgaande inperkings hulle daar sal uitbring.
Prof. Shabir Madhi

Dit beteken kudde-immuniteit is nie meer die gesprek wat die wêreld moet hê nie. Ons moet die begrip eintlik begin vermy wanneer ons oor die koronavirus praat, want dit gaan nie gebeur nie – of is onwaarskynlik om in ons leeftyd te gebeur.

Wanneer politici en ander oor kudde-immuniteit praat, is hulle ongelukkig onder die wanindruk dat die huidige instrumente wat ons tot ons beskikking het om die virus te elimineer, genoegsaam is. Dit gaan nie nou oor wat ons het of kan doen nie. Ons moet eerder praat oor hoe om met die virus saam te leef. Die reusagtige sukses van die Covid-19-entstowwe maak dit vir ons moontlik, selfs sonder om kudde-immuniteit te bereik.

As ons aanhou praat oor kudde-immuniteit, skep dit die wanindruk dat ons op ’n punt gaan kom waar hierdie virus gaan verdwyn. Dis onwaarskynlik. Dit sal aanhou sirkuleer.

Daar is ’n klompie gevare as ons sou aanhou om mense te laat dink dat dit moontlik is:

Dit kan eerstens die vertroue in entstowwe skaad. Selfs al bereik Suid-Afrika sy teiken om 67% van die bevolking in te ent – ’n teiken deur die gesondheidsdepartement – sal daar steeds uitbrekings van Covid-19 wees. Die gevolg is dat mense die voordele van die entstowwe in twyfel sal trek. Met die nuwe Delta-variant sal die perk om kudde-immuniteit te bereik (dis immuniteit teen virusinfeksie, nie net teen die koronavirussiekte nie), nader aan 84% moet wees.

In die tweede plek sal die vasklou aan die idee van kudde-immuniteit beteken dat lande soos Suid-Afrika sal bly glo dat voortgaande inperkings hulle daar sal uitbring. Dit sal mense se lewe op verskeie vlakke benadeel, soos die onderwys en lewensbestaan.

Dosisse Pfizer-entstof in spuite gereed vir inentings. Foto: Gallo

Wat is kudde-immuniteit?

Kudde-immuniteit is wanneer iemand wat met die virus besmet is, nie ’n ander persoon sal aansteek nie. Jy bereik dus ’n situasie waar die immuniteit teen die virus in ’n bevolking van so ’n aard is dat daar te min mense in die omgewing is vir volgehoue oordrag van die virus.

Dis omdat hulle immuniteit teen infeksie ontwikkel het, of minstens in só ’n mate immuniteit ontwikkel het dat, selfs al steek hulle aan, hulle baie vinnig van die virus ontslae kan raak en dit nie na ander mense kan versprei nie.

Kudde-immuniteit beteken uiteindelik dat jy ’n absolute onderbreking in die ketting van die virus se oordrag in ’n bevolking bereik het. Dis nou sonder ander ingrype wat ook virusoordrag kan onderbreek, soos om maskers te dra.

Maar ’n paar veranderinge dwing ons om anders oor kudde-immuniteit te dink. Dit word nou meer as iets beskou waarna daar gestreef word as ’n realistiese doelwit.

Wat het verander?

Eerstens, die evolusie van die virus en die mutasies wat voorgekom het. Een stel mutasies het die virus baie meer oordraagbaar of aansteeklik gemaak. Die Delta-variant is ’n voorbeeld. Ons het aanvanklik gedink dat die reproduksiegetal (R0) vir die koronavirus tussen 2,5 en 4 is. Met ander woorde, in enige vatbare bevolking sal een persoon wat aansteek, gemiddeld omtrent twee en ’n half tot vier ander mense aansteek. Maar die Delta-variant is minstens dubbeld so aansteeklik. Dit beteken dat die reproduksiewaarde van die Delta-variant waarskynlik nader aan ses mense is.

Die enigste volhoubare oplossing is om te leer om met die virus saam te leef.

Die tweede verandering is dat die virus ’n vermoë toon om só te muteer dat dit bestand is teen die teenliggaampie-neutralisering wat deur vorige infeksies deur die oorspronklike virus veroorsaak is, sowel as die teenliggaampie-respons wat deur die meeste van die huidige Covid-19-entstowwe ontlok word.

Die derde groot probleem raak aan die duursaamheid van die beskerming. Ons response duur tans minstens ses tot nege maande. Maar dit beteken nie hulle sal ons beskerm teen infeksie deur variante wat evolueer nie, al help hierdie "geheuerespons" vir minder ernstige Covid-19.

Die vierde probleem wat ons pogings demp om in die voorsienbare toekoms kudde-immuniteit te bereik, is die ongelyke verspreiding van entstowwe wêreldwyd, die stadige opname en trae ontplooiing daarvan.

’n Groot voordeel sal wees as Covid-19 niks ernstiger is as wat met elke griepseisoen in Suid-Afrika gebeur nie (10 000 tot 11 000 sterftes).

Ongelukkig bied dit ’n teelaarde vir voortgaande evolusie van die virus. Geen land gaan vir ewig sy grense gesluit hou nie. Dit beteken die hele wêreldbevolking moet teen omtrent dieselfde tyd dieselfde soort perk vir kudde-immuniteit bereik.

Op die oomblik is net 1% van die bevolkings van laeinkomstelande al ingeënt – en net 27% van die wêreldbevolking. Met die Delta-variant in die omtrek, sal ons minstens 84% van die wêreld in die kortste moontlike tyd moet inent om beskerming teen infeksie te ontwikkel (in die afwesigheid van nie-farmaseutiese ingrype soos maskers).

Restaurante maak kos vir aflewering met die aanvang van Suid-Afrika se vlak 4 van inperking, wat beteken hulle mag geen kliënte ontvang wat in die eetplek sit nie. Restaurante is van die kwesbaarste bedrywe wanneer strenger maatreëls ingestel word. Foto: Gallo Images

Wat nou?

Die enigste volhoubare oplossing is om te leer om met die virus saam te leef.

Dit sal beteken dat ons die meeste individue, veral volwassenes en spesifiek dié met ’n hoër risiko om ernstige Covid-19 op te doen of te sterf, so gou moontlik moet laat inent.

Ek dink ons kan dit in Suid-Afrika regkry as 20 miljoen mense ingeënt is – nie die 40 miljoen-teiken van die regering nie.

Maar die 20 miljoen moet 90% van almal bo die ouderdom van 60 jaar insluit, en 90% van mense ouer as 35 wat onderliggende siektes het.

Foto ter illustrasie: Mense word ingeënt by die Zandspruit-inengingsentrum. Foto: Gallo Images

As Suid-Afrika hierdie mylpaal kan bereik, kan ons terugkeer na ’n relatief normale leefstyl, selfs met die virus in die omtrek en ’n uitbreking van tyd tot tyd.

Dit sal ook vir ’n perk sorg wat waarborg dat die gesondheidsektor nie oorweldig word nie, en dat mense nie in groot getalle sterf nie.

Ons gaan eenvoudig vir lief moet neem dat die koronavirus soos van die baie virusse is wat sirkuleer en daagliks asemhalingsiektes veroorsaak – meestal matige siekte, en minder dikwels ernstige siekte.

So, mense gaan ongelukkig aanhou om aan Covid-19 te sterf, maar beslis nie teen die omvang wat oor die afgelope 18 maande waargeneem is nie.

’n Groot voordeel sal wees as Covid-19 niks ernstiger is as wat met elke griepseisoen in Suid-Afrika gebeur nie (10 000 tot 11 000 sterftes).

Foto ter illustrasie: ’n Leë stadion terwyl ’n wedstryd aan die gang is, in ’n poging om die verspreiding van die Delta-variant te bestry. Foto: Getty Images

Die ervaring in Brittanje is waarheen ons op pad behoort te wees. Dis om terug te keer na ’n relatief normale leefstyl, mits ons genoeg mense ingeënt het – veral diegene wat ’n hoër risiko het om ernstige Covid-19 te ontwikkel.

Brittanje is na aan 85% van volwassenes wat minstens een dosis van ’n entstof ontvang het.

Gevolglik kan hulle byna alle beperkings ophef. Brittanje sien wél toenemend meer gevalle wat deur die Delta-variant veroorsaak is, maar hulle sien baie nominale veranderinge wat hospitalisasies en sterftes betref.

Die meeste Britte wat in hospitale beland en sterf (97%), is dié wat besluit het om nie ingeënt te word nie.

* Madhi is dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe en ’n professor in entstofkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), asook direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en navorsingseenheid vir die ontleedkunde van aansteeklike siektes aan Wits. Hierdie artikel het die eerste keer op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Shabir Madhi  |  Suid-Afrika  |  Brittanje  |  Derde Vlaag  |  Pandemie  |  Delta-Variant  |  Variante  |  Covid-19  |  Kudde-Immuniteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.