Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kunsmatige intelligensie 'kan staat help om ons te dien'

Kunsmatige Intelligensie (KI) kan die regering help om beter dienste te lewer, het die toekomskundige Jan Hofmeyr aan Murray La Vita gesê.

‘In terme van die gebruik van kunsmatige intelligensie in regeringsprosesse is daar grys areas omdat dié gebied so nuut is.’ Foto: Unsplash

Hofmeyr het as deel van sy MPhil-graad in toekomskunde aan die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool ’n studie voltooi waarin hy gekyk het watter impak KI teen 2030 op regeringsprosesse in Suid-Afrika behoort te hê.

Jy het bevind KI kan meer doen as om net regering te verbeter, dit kan – indien dit reg aangewend word – ook die omvang en gehalte van dienste aan Suid-Afrikaners verbeter. Meer hieroor asseblief.

Ek dink dit is belangrik om die konteks van Suid-Afrika te verstaan en dít is dat daar diép strukturele ongelykhede in die samelewing is, dat daar ook baie hoë vlakke van armoede is en dat sowel die gelykheid en die armoede én ander agterstande, meesal ’n historiese konteks het.

Ons weet dat die uitdaging om hierdie agterstande te oorkom baie groot is en daarom is dit nodig om enige instrumente te gebruik wat hierdie agterstande so gou as moontlik te kan uitwis, en derhalwe ook my belangstelling in die rol wat kunsmatige intelligensie kan speel.

So, wat dienslewering betref: Om goeie dienste te kan lewer, moet ’n mens eerstens die volle omvang van die probleem verstaan, met ander woorde jy moet weet wat die omvang is daarvan, maar tweedens is dit ook belangrik om die nuanses te verstaan van die probleem: Het armoede ’n spesifieke geografiese dimensie of ’n ouderdomsdimensie of ’n gender-dimensie? Of is dit ’n landelike of ’n stedelike probleem?

Ál daardie nuanses, wat konteks-spesifiek is, is belangrik wanneer dit kom by dienslewering, want ek dink een van die dinge wat ons al oor die jare gesien het, is dat mense makroplanne van bo af probeer afdwing op gemeenskappe met onderskeidelik ’n impak in terme van die doeltreffendheid daarvan.

Jan Hofmeyr Foto: Verskaf

Dit is volgens jou egter belangrik om ook ag te slaan op die etiese implikasies van die gebruik van KI in regeringsprosesse.

Ek verwys spesifiek na demokratiese regeringsetiek en die waardes wat fundamenteel tot 'n demokratiese regering is. Twee wat ek in my studie uitgelig het, was deursigtigheid en verantwoordbaarheid. Binne ’n demokrasie stem ons as burgers vir ’n regering en ons gee hulle ’n mandaat om ons te regeer.

Daardie vertroue is grootliks gefundeer in die waarborg dat ons ’n regering verantwoordbaar kan hou en dat daar ook stelsels in plek is om deursigtigheid te verseker. Die wigte en teenwigte is daar om seker te maak dat wanneer ons weer moet gaan stem, ons ’n ingeligte besluit kan neem oor die mate waartoe die regering sy mandaat en sy beloftes nagekom het.

In terme van die gebruik van kunsmatige intelligensie in regeringsprosesse is daar egter grys areas omdat die gebied so nuut is. Wat deursigtigheid byvoorbeeld betref, is dit nodig om te verstaan wie programmeer die algoritmes en watter kriteria word gebruik.

En wanneer besluite dan geneem word op grond van data wat gegenereer is deur kunsmatige intelligensie, wié neem verantwoordelikheid vir hierdie besluite? Is dit die algoritme of is dit die persoon in die burokrasie of is dit die persoon wat polities verantwoordelik vir ’n spesifieke domein is?

So, ’n mens kan vra tot watter mate die staat dan sy mandaat in terme van dienslewering sien? Is dit om beter sanitasie of behuising te verseker?

Die tweede vraag is natuurlik ook: Wát gebeur met ons data? Hou in gedagte dat 'n suksesvolle KI-stelsel aangewese is op groot hoeveelhede data in soverre dit die gedrag van gewone burgers aangaan.

So, ’n mens kan vra tot watter mate die staat dan sy mandaat in terme van dienslewering sien? Is dit om beter sanitasie of behuising te verseker?

Maar dan kom ’n mens op grys areas af soos reg en orde – tot watter mate kan intelligensie-agentskappe staatmaak op ons data of daarvan gebruik maak? Tot watter mate kan die polisie gebruik maak van ons data en tot watter mate is ons teen die misbruik van ons data deur onverantwoordelike elemente binne die regering beskerm?

‘ ’n Mens gaan ’n groot fout maak as jy dink dat jy eenvoudig tegnologieë kan aankoop van elders in die wêreld en dit dan net hier in Suid-Afrika kan toepas.’ Foto: IStock

Deel met ons jou aanbevelings ten opsigte van hoe die regering daarin kan slaag om ’n samehangende benadering tot KI te hê; een wat ook in voeling is met sy ontwikkelingsprioriteite?

Eerstens is dit belangrik om konsensus te hê oor wat ons ontwikkelingsprioriteite as ’n land is. Vir baie mense klink dit vanselfsprekend, maar as jy kyk na die polarisasie binne ons politieke bestel, voel ek ’n mens kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Verskillende mense het verskillende belange in die ontwikkelingstrajek.

En wanneer ons daardie konsensus oor ons prioriteite bereik het, is dit belangrik om ’n etiese raamwerk te skep waarbinne kunsmatige intelligensie aangewend kan word. Ek dink dáárdie etiese raamwerk sal grootliks bepaal word deur ons grondwetlike waardes en die regte van gewone mense, maar ook die prioriteit om die nalatenskap van historiese ongeregtigheid die hoof te bied.

En dan gaan dit belangrik wees om te besluit watter tegnologieë gebruik gaan word om die ontwikkelingsdoelwitte te kan bereik, en ook om ’n langtermynstrategie te ontwikkel wat die inwerkingstelling van hierdie infrastruktuur kan bewerkstellig, maar ook om KI-kapasiteit te ontwikkel binne Suid-Afrika om tegnologieë te kan ontwikkel wat die unieke probleme van Suid-Afrika kan takel.

’n Mens gaan ’n groot fout maak as jy dink dat jy eenvoudig tegnologieë kan aankoop van elders in die wêreld en dit dan net hier in Suid-Afrika kan toepas.

Vier scenario’s

Hofmeyr skets vier moontlike scenario’s oor waar Suid-Afrika in 2030 met betrekking tot KI kan wees.

Dit sluit in wat hy “Almal se China” noem – ’n onliberale demokrasie waar KI gebruik word om dienste en ekonomiese agentskap aan die meerderheid van Suid-Afrikaners te bied, maar waar die etiese benadering wat dit volg om dít te bereik, nie aan die grondwetlike vereistes van deursigtigheid en verantwoordbaarheid voldoen nie.

Die wenslikste uitkoms noem hy die “Estland van die Suide”. Dít verbeel ’n situasie waarin waardes soos individuele vryheid, deursigtigheid en verantwoordbaarheid na die digitale sfeer oorgedra word.

En dit fokus daarop om die agentskap van burgers te versterk (hulle te bemagtig) en hulle in staat te stel om hul potensiaal te bereik.

• Hofmeyr is benewens toekomskundige ook ’n sosiopolitieke ontleder en tussentydse uitvoerende direkteur en programhoof vir navorsing en beleid by die Instituut vir Geregtigheid en Versoening.

Meer oor:  Regering  |  Grondwet  |  Kunsmatige Intelligensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.