Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kunstenaars in die knyp

Mense was verontwaardig toe Master KG se platemaatskappye tantième-rekenings stuur aan maatskappye en organisasies wat die “Jerusalema”-dans gedoen het. Maar, skryf Carla Lewis, dis tyd om kunstenaars te betaal vir hul werk.

Selfs die polisie het verlede jaar in Pretoria ingespring met hul eie weergawe van Master KG se ‘Jerusalema’. Dit was na pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrikaners uitgedaag het om mee te doen aan die dans.Foto: GALLO IMAGES

Verbeel jou jy maak iets moois, kosbaars en unieks wat mense in ’n donker tyd met hoop vul. Van Khayelitsha tot Kathmandu sien jy hoe mense dit hul eie maak en hoe dit vreugde verskaf.

Maar wag, skielik is dit nie net meer gewone mense wat jou geesteskind gebruik nie. Regerings­organisasies en skatryk korporatiewe maatskappye het ook nou op jou musiekwa gespring. Die probleem is dat hulle nie ’n kaartjie wil koop vir die rit nie.

Luukse motormaatskappye wys die sexy kurwes van hul sportmotors en uitnemende Duitse ingenieursvernuf – met jou liedjie as klankbaan. ’n Europese lugdiens se lugwaardinne gooi behoorlik mielies op YouTube, met een van hul stralers op die agtergrond.

Wanneer die kunstenaar en sy platemaatskappy dit durf om ’n rekening te stuur, verander die vreugde gou in verwyt. Hoe durf jy geld vra vir iets wat soveel vreugde versprei het? Is jy dan geldgierig?

Kunstenaars ly

Dis presies wat met die kunstenaar Master KG se wêreldtreffer “Jerusalema” gebeur het. Dié liedjie het verlede jaar soos ’n veldbrand versprei en die temalied vir ’n wêreld in inperking geword.

Die Suid-Afrikaanse musikant en sy platemaatskappye het egter nou ’n openbare weerslag ervaar toe hulle vir die maatskappye en organisasies wat die liedjie gebruik het, ’n rekening vir tantième gestuur het.

David Alexander, voorsitter van The Music Publishing Asso­ciation of South Africa (MPASA), ’n organisasie wat hom beywer vir die beskerming van musiekuitgewers, sê die publiek moet bewus gemaak word van hoe musikante en liedjieskrywers vir hul kuns vergoed word.

“Covid-19 het verskeie bedrywe gerysmier, maar musiekkunstenaars het veral ’n knou weg met teaters wat gesluit is. Wanneer dit by tantième kom, is dit nie net die kunstenaar wat vergoed moet word nie, maar al die mense wat by die vervaardiging van ’n liedjie betrokke was. Dit sluit in liedjieskrywers, uitgewers en musikante.

“Dis ook die mense wat tydens Covid-19 eerste geraak is deur ’n verlies aan tantième omdat plekke soos casino’s, lugdienste en restaurante, wat gewoonlik musiek vir atmosfeer sou speel, ook deur die pandemie geraak is.

“Voor Covid-19 het dié inkomste sowat 20% van die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) se invorderings behels. Dis inkomste wat die musiekbedryf vanjaar nie gaan kry nie. So word dit ’n rimpeleffek.”

En weens die geldnood waarin dit kunstenaars gedompel het, moes baie van hulle skielik ander planne maak om te oorleef.

Alexander sê hy weet van ’n sanger wat in Andrew Lloyd Webber-produksies opgetree het, wat nou ’n lewe maak met skrynwerk.

Van regeringskant af is daar ook nie veel verligting nie; Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, moes vandeesweek verskoning maak oor die noodfinansiering van R300 miljoen wat die nasionale kunsteraad (NAC) wanbestuur het. Intussen bloei die Suid-Afrikaanse kunste.

Virale roem?

In die lig daarvan dat kunstenaars hulle saam met restaurateurs en die toerismebedryf in ’n bestaanskrisis bevind, vind ’n mens die kritiek op die invordering van tantième ietwat misplaas.

“Maar dink aan die blootstelling!” kom die teenstand.

Master KG, ’n kunstenaar van Afrika, moet net te bly wees dat sy liedjie wêreldwyd vlamgevat het, is die argument.

Justin Bieber en Ed Sheeran se loopbaan het op YouTube afgeskop. Die musiekvervaardiger Scooter Braun het terloops op een van Bieber se video’s gekliek en hom ’n kontrak aangebied. Vandag word die voormalige tienerpopster se netto waarde op meer as R2 miljard geraam.

Bieber het ook van sy roem gebruik om ander sterre ’n deurbraak te gee. Die popster Carly Rae Jephsen se “Call Me maybe” het soos ’n veldbrand versprei toe Bieber ’n video daarvan op YouTube opgelaai het.

Die tipe Aspoesterstories is egter die uitsondering.

Alexander sê hoewel kunstenaars dikwels ’n inkomste van platforms soos YouTube ontvang, is dit baie min. Slegs die mega-kunstenaars kan ’n volhoubare inkomste hiermee verdien.

“Virale roem op ’n platform soos YouTube is voordelig vir ’n kunstenaar en ja, dit bied blootstelling aan hulle,” gee Alexander toe. Maar oor die model waarvolgens YouTube kunstenaars vergoed wanneer daar na hul video’s gekyk word en of dit regverdig is, kan ook gedebatteer word.

“Daar moet etlike duisende kere, of selfs miljoene kere, na ’n video gekyk word voordat ’n kunstenaar geld daaruit maak,” sê Alexander.

“Ek meen dat ’n kanaal soos YouTube gebruikers eerder sal noop om die album of liedjie op ’n stromingsdiens soos Apple Music of Spotify te gaan opsoek. Myns insiens is dit die eintlike waarde van die platform.

“Die kunstenaar sal dan geld verdien wanneer sy liedjie op een van die stromingsdienste geluister word, maar weer moet dit talle kere afgelaai en geluister word voordat dit werklik tot ’n volhoubare inkomste lei.”

Kommersiële gebruik

Omdat musiek en ander kreatiewe inhoud wat aanlyn beskikbaar is, so maklik afgelaai kan word, is daar ’n wanpersepsie dat enigiemand ’n liedjie mag aflaai en gebruik, sê Stephen Hollis, ’n prokureur wat spesialiseer in handelsnaamreg.

Alexander sê talle gebruikers oortree dikwels onwetend die wet, maar onkunde vrywaar jou nie van vervolging nie.

“Miljarde mense kry toegang tot kunstenaars se inhoud op aanlyn platforms, dus is daar nie eintlik iets wat hulle dryf om die liedjies of kreatiewe inhoud te koop nie. Uiteraard is dit die kunstenaars wat ingeloop word en nie inkomste kry uit potensiële inhoud wat hulle uit stromingskoste en tantième kon verdien nie.

“In die musiekbedryf verwys ons na die ‘waardegaping’. Saam met die ongeoorloofde toeëiening van kreatiewe eiendom is dit een van die grootste uitdagings wat kunstenaars en musikante tans in die gesig staar,” sê Hollis.

As jou selgroepie die “Jerusalema”-dansie vir die pret gedoen en die video op sosiale media gelaai het, sal julle waarskynlik nie ’n rekening van Master KG se platemaatskappye ontvang nie.

Organisasies wat die liedjie vir kommersiële doeleindes gebruik het, sal waarskynlik moet opdok, het Dumisani Motsamai, ’n vermaakprokureur en regsman vir Open Mic Productions, Master KG se plaaslike platemaatskappy, aan Eyewitness News gesê.

Alexander meen enige groot maatskappy met ’n goeie bemarkingspan behoort te verstaan hoe tantième en vergoeding aan kunstenaars werk.

Onkunde in die Suid-Afrikaanse reg is nooit ’n verskoning nie; ’n maatskappy kan nie sê “hulle het nie geweet” en hoop vir kwytskelding nie.

“Ons het op sosiale media gesien hoe Warner, ons internasionale vennote, van geldgierigheid beskuldig word. Mense kibbel teë: ‘Ons doen hierdie ding oor sosiale afstand en omdat ons gees wil bou tydens Covid-19, en hulle het ’n punt beet,” het Motsamai gesê.

“Maar daar was verskillende weergawes van die uitdaging. Daar is weergawes waar ’n gesin die uitdaging in hul sitkamer aanpak. Daarmee is daar niks verkeerd nie. Maar daar was ook gevalle waar die uitdaging ’n bietjie te ver gevoer is en mense dit gebruik het om hul beeld, eerder as gees, te bou.”

Rooi ligte flikker

Hollis sê wanneer ’n aanhanger ’n liedjie gebruik met die oog op kommersiële gewin, moet rooi ligte gewoonlik flikker.

En as jy onseker is, is omsigtigheid altyd ’n goeie idee.

Min kunstenaars en hul platemaatskappye glo aan die beginsel waar jy agterna smeek om vergifnis eerder as om vooraf toestemming vra.

As jy twyfel, vra.

As jy ’n video oplaai van jou kat wat iets ouliks doen, met ’n bekende liedjie op die agtergrond, sal jy waarskynlik nie probleme hê nie, sê Alexander.

As jy egter jou kat en die video gebruik om ’n sekere katkoshandelsnaam te bemark, moet jy regmaak om die tantième te betaal.

Kunstenaars is soms gewillig om die meriete van die gebruik van hul materiaal te oorweeg. Al word hulle ruim vergoed in tantième en lisensiegelde, kan hulle steeds ’n interdik teen die gebruik daarvan en ’n spesifieke individu kry.

Business Insiderhet verlede jaar berig hoe John Fogerty, ’n lid van Creedence Clearwater Revival, ’n hof genader het omdat oudpres. Donald Trump die groep se “Fortunate Son” in sy herverkiesingsveldtog gebruik het.

“Ek teken beswaar aan teen die president wat ‘Fortunate Son’ in enige vorm in sy veldtogte gebruik. Hy gebruik my woorde en stem om ’n boodskap oor te dra waarmee ek geensins saamstem nie,” het Fogerty aangevoer.

Dié Viëtnam-oorlogsveteraan het die liedjie geskryf as protes teen individue wat militêre diensplig vrygespring het weens hul politieke en finansiële bevoorregting.

Trump is ’n voorbeeld van albei euwels, het hy gesê.

Hollis vertel ook van die geval van die ruimtevaarder Chris Hadfield, wat ’n video van hom in die ruimte gemaak het met David Bowie se “Space Oddity” as agtergrondmusiek. Pleks om vir Hadfield ’n rekening te stuur, het Bowie die ruimtevaarder bygestaan om die video aanlyn te hou omdat dit volgens Bowie een van die kragtigste weergawes van sy liedjie was.

Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Kunswerk  |  Kunstenaars  |  Musikant  |  Tantieme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.