Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: 1ste robotspore op maan se ‘donker kant’

China het onlangs ’n geskiedkundige landing op die ver kant van die maan gedoen, maar dit is nie sy eerste sending nie en dalk ook nie die laaste nie, skryf Elsabé Brits.

Al is China se sending na die ver kant van die maan onbeman, is sywurmeiers en plante in ’n geslote mini-ekosisteem saamgestuur.

Die eerste sade het intussen op die maan ontkiem – die heel eerste keer dat biologiese materiaal van die aarde dáár groei – maar dit is later weens erge koue dood.

Dit is ironies om te dink dat terwyl pres. Donald Trump van die VSA sy land gyselaar hou oor ’n muur wat hy wil bou, is dit vanjaar die 50ste herdenking van Amerika se eerste maanlanding.

Op 20 Julie 1969 het Eagle, die landingstuig, op die maan geland en ses uur later, op 21 Julie, was Neil Armstrong die eerste mens ooit wat op ’n ander plek as op die aarde loop. Sowat 20 minute later het Buzz Aldrin hom gevolg.

Byna 50 jaar later het China sy tweede tuig suksesvol op die maan gesit. Die Chang’e 4-sending is op 7 Desember verlede jaar gelanseer met sy Long March-3B-vuurpyl. Die landingstuig het die wentelbaan op 12 Desember bereik en eers ’n tyd lank daarin vertoef.

Op 3 Januarie het Chang’e 4 ’n perfekte landing uitgevoer, wat hy self afgeneem en na die aarde gebeeldsend het. Sowat 12 uur later het hy die robot (rover) Yutu 2, wat 140 kg weeg, ontplooi.

Hoewel die mensdom al dié kant van die maan gesien én afgeneem het, het China nou beslis die eerste robotspore daar gelaat. Dié kant van die maan is nie regtig “donker” nie, ons sien dit net nie van die aarde af nie.

Chinese spore op die maan. Foto: Getty Images

Dit is die gravitasiekrag van die aarde wat die rotasie van die maan oor miljoene jare vertraag het. Dit het die maan se rotasietydperk vertraag om ooreen te stem met sy wentelbaan van sowat 27,3 dae en hy is nou vasgevang daarin. Indien die maan nie geroteer het nie, sou ons uiteindelik die ver kant gesien het.

Maar omdat die rotasietydperk presies dieselfde as die orbitale tydperk is, is net een deel van die maan (sowat 50%, soms meer) na die aarde gekeer.

Daar is op elke plek op die maan – naby en ver – twee weke sonlig en twee weke donkerte. Dit gaan saam met die maan se siklusse.

Die verste kant het ’n ouer kors, met minder kraters en minder van die “maria” – die donker “oseane” van basaltlawa wat eens daar gevloei het.

Ongekende blik op maan se geskiedenis

Die Yutu 2 afgeneem kort ná die Chinese maantuig Chang’e 4 se landing. Foto: Getty Images

In 1959 is die eerste foto’s van die verste kant van die maan uit Rusland se Luna 3-tuig geneem. Die Russe het die kamerafilm wat hulle gebruik het, gegaps van die Amerikaanse spioenasieballone.

Die rede?

Die spesiale film was bestand teen bestraling, waarvan daar baie in die ruimte is. Net 29 foto’s is geneem, waarvan net ses goed was. Die “ruimtefotografie” van die tyd was dof en greinerig.

Die eerste mense wat die verste kant van die maan gesien het, was die ruimtevaarders van Apollo 8, wat in Desember 1968 om die maan gevlieg het. Frank Borman, Jim Lovell en Bill Anders was ook die eerste mense wat die aarde se lae wentelbaan verlaat het.

China het op die beste plek denkbaar vir wetenskaplike studies gaan land – in die Von Kármán-krater wat 180 km in deursnee is. Dié krater is geleë binne-in die diepste krater, bekend as die Suidpool-Aitken-kom wat 13 km diep en 2 500 km in deursnee is.

Chinese eksplorasie kan ’n ongekende blik op die maan se geskiedenis verskaf.

Dis die grootste en vermoedelik oudste krater op die maan en is ná ’n botsing met ’n asteroïed gevorm. Navorsing in dié gebied sal baie bydra tot ons kennis van hoe die maan gevorm is.

Daar word gehoop dat die Chinese van die diepste dele van die kors en mantel sal vind – wat ’n ongekende blik op die maan se geskiedenis sal verskaf.

Verskeie instrumente word ingespan om die chemiese samestelling van die rotse en grond te bepaal, die temperatuur te neem, ’n studie van kosmiese straling te maak, die son se korona te ondersoek en na die son se koronale massa-uitbarstings te kyk. Chang’e 4 en Yutu 2 het wonderlike kameras aan boord en het reeds foto’s teruggestuur.

Op die eerste foto’s het die grond rooierig – in stede van die tipiese grys van die maan – gelyk. Dit is omdat die foto’s nog nie verwerk is nie, het prof. David Rothery, planetêre geowetenskaplike, in ’n artikel op The Conversation, verduidelik. Dit is omdat kameras op ruimtetuie rooi, groen en blou afsonderlik afneem en die kleurkorreksie nog nie gemaak is voordat die Chinese Nasionale Ruimteadministrasie dit uitgereik het nie.

Om te kommunikeer het China ’n herleiersatelliet, genaamd Queqiao, ontplooi. Dit is omdat ’n mens nie direk van die verste kant van die maan boodskappe kan stuur nie. Queqiao herlei boodskappe van Chang’e 4 na die aarde toe en weer terug.

Plante op die maan

Die Yutu 2 op die maan. Foto: Getty Images

Vir die eerste keer tot nog toe is plante (aartappelsade en ’n soort mosterdkruid oftewel Arabidopsis thaliana) na die maan gestuur, asook sywurm- en vrugtevliegeiers. Dit is in ’n klein silinder van 3 kg. Die plan is dat die plante die wurms van suurstof en kos sal voorsien, terwyl die wurms se afval weer die plante van koolstofdioksied en voedingstowwe sal voorsien. Sonlig sal glo deur ’n buisie kom en klein kameras sal alles dophou.

China het niks gesê nie, maar dit sou redelik wees om te aanvaar dat hulle mense na die maan wil stuur. Hulle het reeds ’n kragtige vuurpyl, die Long March-9. Dié huidige sending is vooruitgeloop met die Chang’e 3, met sy robottuig die Yutu, wat in 2013 op die nabye kant van die maan geland het.

Ná die sending is albei tuie aangepas. Chang’e 2 en 1 het onderskeidelik in 2007 en 2010 om die maan gewentel.

Met hul volgende sending wil hulle materiaal van die maan na die aarde terugbring.

Buiten die verskeie wenteltuie om die maan en verbyvlugte, het nog net die VSA en Rusland – en nou China – daarin geslaag om ’n beheerde, sagte suksesvolle landing op die maan uit te voer.

Die Amerikaanse ruimtestasie sal soos ’n lughawe wees vir dié wat na die maan, en later na Mars, wil gaan.

Nog lande wat robotte wil stuur, is Israel, Duitsland, Rusland, Amerika en Japan. Almal droom steeds oor die maan. Dit is nie die kennis en tegnologie wat hulle ontwyk nie, maar die geld.

Nasa huil nie in sy hande nie. Amerika wil ’n ruimtestasie – genaamd die Gateway – bou en dit in ’n wentelbaan om die maan plaas. Dit sal soos ’n lughawe wees vir dié wat na die maan, en later na Mars, wil gaan.

Dié voorstel is in Oktober gunstig deur talle van sy ruimtevennote op die internasionale astronomiese kongres ontvang.

Die ver kant van die maan soos afgeneem in 2017 deur Nasa se Lunar Reconnaissance Orbiter. Foto: Nasa/Goddard Space Flight Center/Arizona State University

Tuie wat na die maan of Mars onderweg is, kan eers daar aandoen, of dit kan dien as ’n basis sodat sendings na die maan so lank as ses maande kan duur. Nasa beplan om in 2022 aan die Gateway te begin bou met sy nuwe ruimtelanseerstelsel – die kragtigste vuurpyl tot nog toe – en die nuwe tuig, die Orion, wat voorraad en mense opneem.

As alles vlot verloop, keer Amerika in 2026 terug na die maan. Of dalk is China voor hulle daar.

Dit is egter jammer dat Amerika en sy vennote by die Internasionale Ruimtestasie nie daarin kon slaag om die wêreld weer in vervoering oor die wetenskap te kry met ’n reis na die maan in Julie vanjaar nie. Dit sou met die hedendaagse tegnologie ’n fantastiese reis vir ons almal gewees het.

* Bronne: Nasa, Europese-ruimteagentskap, www.moonconnection.com; The Conversation; www.space.com

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 

Meer oor:  Buzz Aldrin  |  Neil Armstrong  |  China  |  Amerika  |  Mars  |  Maan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.