Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: 75 j. ná Hirosjima vrees wêreld steeds vonk in kern-kruitvat

Dit is Donderdag presies 75 jaar gelede dat Amerika ’n atoombom op die Japanse stad Hirosjima afgegooi het. Daarmee is die karakter van die internasionale politiek aansienlik verander. Leopold Scholtz gaan na wat gebeur het en wat die implikasies was – en steeds is.

Dis kwart oor agt op die oggend van 6 Augustus 1945. Hoog in die lug, op 31 000 voet, het kol. Paul Tibbets sy yslike B-29-bomwerper (met die naam “Enola Gay”) in ’n vlak duikvlug gebring om die snelheid te verhoog.

Onder op die grond is die inwoners van Hirosjima al aan die gang. Dan open die bomluike in die buik van die bomwerper, en die groot bom val uit.

Tibbets pluk die vliegtuig om en stook die vier kragtige motore tot maksimum revolusies. Hy is al 16 km ver wanneer die mees verblindende ligflits, wat die mensdom nóg in die opgetekende geskiedenis aanskou het, die wêreld verlig. Die bemanning dra spesiaal ontwerpte donkerbrille om nie verblind te word nie.

Jare later het Tibbets in ’n onderhoud gesê: “Die beeld wat ons oë begroet het, was veel erger as wat ons verwag het, want ons het hierdie wolk van kokende stof en puin onder ons gesien met die enorme paddastoel bo-op. “Daaronder was die ruïnes van die stad Hirosjima versteek.”

Onder op die grond was dit die ergste hel wat ’n mens jou kán voorstel. Binne ’n fraksie van ’n sekonde is 70 000 tot 80 000 mense dood in die ontploffing en vuurstorm wat daarop gevolg het. Binne ’n radius van sowat 1,2 km was alles, letterlik álles, platgevee.

Nog dekades later sou mense vol ellende aan die nagevolge sterf.

Tetsoeko Sjakoeda, ’n 14-jarige tremkondukteur, was in haar slaapplek besig met ontbyt toe die verblindende ligflits kom.

Stilte, toe yslike stofwolke. Kinders wat skreeu: “Mamma, help my!” Sy het jare later vertel: “Mense se klere het gedisintegreer en hul velle het van hul lywe gedrup.”

Eintlik is blote woorde totaal ontoereikend om te verduidelik wat die atoombom op die grond in Hirosjima aangerig het. Nog dekades later sou mense vol ellende aan die nagevolge sterf.

Verwoesting om bloedvergieting te beperk

75 jaar later: ’n Besoeker aan ’n museum in Hirosjima kyk na ’n reusefoto wat die verwoesting van 6 Augustus 1945 uitbeeld. Foto: Getty Images

’n Mens kan die kernaanval op Hirosjima – en die tweede, drie dae later op Nagasaki – nie los van die verloop van die oorlog sien nie.

Dit was Japan wat Amerika sonder waarskuwing op Sondagoggend 7 Desember 1941 aangeval en die dood van 2 403 mense veroorsaak het, en die helfte van die skepe in die vlootbasis Pearl Harbor in Hawaii gesink het.

Pres. Franklin Roosevelt het wraak gesweer en dit “a day that will live in infamy” genoem.

Hierna het Japan ver en wyd in Suidoos-Asië en die Stille Oseaan opgeruk voordat die Amerikaners die Japanners by Midway en Guadalcanal kon stuit. Dit is opgevolg deur ’n reeks wrede, bloedige veld- en seeslae, waarin die groter kragte en produksievermoë van Amerika die Japanse weerstand stelselmatig fyngemaal het.

Op Okinawa was dinge nog erger. Daar het meer as 12 000 Amerikaners gesneuwel en 35 000 is gewond.

Die hoogtepunte was Amerika se inname van die eilande Iwo Jima en Okinawa in 1945.

In die vyf weke wat dit die Amerikaners geneem het om Iwo Jima in te neem, het sowat 7 000 van hulle gesneuwel en sowat 25 000 is gewond. Omdat die Japanse kultuur oorgawe as die toppunt van skande beskou het, het die Japanse soldate hulle letterlik doodgeveg – van die 21 000 aan die begin van die geveg het slegs 216 oorleef.

Op Okinawa was dinge nog erger. Daar het meer as 12 000 Amerikaners gesneuwel en 35 000 is gewond, teenoor die sowat 110 000 dooie Japanners. Net meer as 10 000 is gevange geneem, maar duisende het van kranse af na hul dood gespring om die skande van oorgawe gespaar te bly.

Dié foto toon die verwoesting wat in 1945 in Hirosjima deur ’n kernbom aangerig is. Foto: Getty Images

Die volgende stap sou ’n amfibiese inval op die Japanse eilande wees. Maar die skrikwekkende ongevallesyfer, en die ongelooflik fanatiese Japanse weerstand op veral Iwo Jima en Okinawa het swaar op die gemoed van pres. Harry Truman gerus.

Hy het maar enkele maande tevore ná die dood van Roosevelt president geword. Hy het begryplikerwys weggeskram van die moontlikheid dat honderdduisende Amerikaners sou sterf.

Onder die skattings wat op sy lessenaar beland het, was een van die Amerikaanse vloot: As Japan op ’n ortodokse manier binnegeval word, kan 400 000 tot 800 000 Amerikaners sterf, met tot 10 miljoen ongevalle – dooies en gewondes – aan Japan se kant.

Dit was genoeg om enige geestesgesonde mens te laat wanhoop. Maar toe duik ’n uitkomkans op.

Dit is diep ironies dat die doel van die mees duiwelse wapen wat die mensdom tot in dié stadium ontwerp het, juis was om bloedvergieting te beperk.

Amerikaanse wetenskaplikes het al jare gewerk aan ’n tegniek om die atoom te splyt, iets wat ongelooflike hoeveelhede energie sou vrystel. Dit het bekend gestaan as die Manhattan-projek.

Dié nuwe wapen is op 16 Julie 1945 suksesvol in Nieu-Mexiko getoets, en daarmee was die saak eintlik beklink. Die ontploffing van die twee bomme bo Hirosjima en Nagasaki was die regstreekse gevolg.

Dit is diep ironies dat die doel van die mees duiwelse wapen wat die mensdom tot in dié stadium ontwerp het, juis was om bloedvergieting te beperk. En dit het gewerk, want die twee bomme het dit selfs aan die fanatiese Japanners duidelik gemaak dat die oorlog onherroeplik verlore was. Dit was die einde van die konflik.

Kan ons deesdae rustig slaap?

Die sampioen-wolk bo Hirosjima nadat die kernbom op 6 Augustus 1945 ontplof het. Foto: Getty Images

Die twee atoombomme het die aard van die internasionale politiek duidelik beïnvloed.

In Japan self is die oorlogsugtige en aggressiewe nasionalisme deur ’n sagaardige pasifisme vervang. Die Japanse grondwet bepaal byvoorbeeld dat die land afstand doen van oorlog as ’n middel om internasionale geskille te besleg.

Natuurlik het die harde praktyk meegebring dat Japan spoedig weer ’n weermag – eufemisties “selfverdedigingsmag” genoem – gekry het. Maar die aggressiewe vooroorlogse houding het steeds nie teruggekeer nie, en dit sal ook nie maklik gebeur nie.

Die belangrikste implikasie was egter op wêreldwye vlak. Teen 1949 het die Sowjetunie ook kernwapens ontwikkel, en toe het die twee supermoondhede mekaar in ’n dodelike greep beetgekry.

In ’n stadium was daar genoeg kernwapens om alle lewe op aarde teoreties tot 20 keer uit te wis. Dit het ’n soort perverse stabiliteit meegebring, want albei kante wis dat ’n aanval op die ander tot ’n teenaanval – en dus selfmoord – sou lei.

Hou die toekoms vrede vir die aarde in en is die gebruik van kernwapens iets van die verlede? Duiwe, ’n simbool van vryheid, is verlede jaar in Nagasaki vrygelaat met die 74ste herdenking van die Amerikaanse kernbom-aanval in 1945. Foto: Getty Images

Dié stabiliteit het sedertdien plek gemaak vir toenemende ónstabiliteit. Naas Amerika en Rusland (die USSR se opvolger) het die volgende lande nou ook kernwapens: Brittanje, Frankryk, China, Israel, Pakistan, Indië en Noord-Korea.

Suid-Afrika het in ’n stadium ook kernwapens gehad, maar het vrywillig afstand daarvan gedoen.

Die Koue Oorlogse situasie was eenvoudig en taamlik stabiel. Verskeie kere – in 1961 en 1983 – het dinge so amper-amper tot oorlog gelei, maar elke keer het die bewindhebbers teruggedeins.

Met nege kernwapenmoondhede word dit egter buitengewoon moeilik om die vrede te bewaar. Dit verg maar ’n vonk om die kruitvat op verwoestende skaal te laat ontplof.

En met leiers soos press. Donald Trump, Wladimir Poetin, Xi Jinping en Kim Jong-oen aan die roer van sake moet ’n mens dalk maar lig slaap.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Hirosjima

Meer oor:  Tweede Wêreldoorlog  |  Xi Jinping  |  Donald Trump  |  Kim Jong-Oen  |  Wladimir Poetin  |  Amerika  |  Japan  |  Atoombom  |  Kernwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.