Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Biden ‘Super Tuesday’ se groot wenner

Die reeks voorverkiesings in 14 Amerikaanse deelstate, bekend as “Super Tuesday”, het groter duidelikheid verskaf oor wie ’n kans het om die Demokratiese Party se presidentskandidaat te word. Dit stuur af op ’n titaniese stryd tussen die gematigde Joe Biden en die uiters linkse Bernie Sanders. Leopold Scholtz het sy oor op die grond.

Nog selde, indien ooit, was daar só ’n dramatiese herstel as dié wat Joe Biden die laaste dae beleef het. Opeens lyk hy na die man wat pres. Donald Trump in November se presidentsverkiesing kan aandurf – en dalk selfs klop.

Net verlede Vrydag nog was Biden se verkiesingsveldtog op sterwe na dood. In die eerste reeks voorverkiesings, in Iowa, New Hampshire en Nevada, het hy sleg teen byna al wat ’n mededinger was, gevaar.

Hy het ’n moedelose en futlose indruk gemaak.

Saterdag was die keerpunt. Toe het veral die swart meerderheid in Suid-Carolina hulle in groot meerderheid geskaar agter Biden, wat adjunk-president was onder hul groot held, pres. Barack Obama.

Biden se groot oorwinning daar was ’n yslike inspuiting wat sy veldtog sterk laat herleef het. En daardie herlewing is op groot skaal voortgesit tydens Super Tuesday.

Op dié dag het kiesers in 14 deelstate (plus die Amerikaanse gebied van Samoa en kiesers in die buiteland) gestem. Biden is die duidelike wenner in nege van die 14 state.

Sy groot teenstander, sen. Bernie Sanders, het in vier state gewen. Dit sluit in die belangrikste staat, Kalifornië, met die meeste afgevaardigdes – maar daar het Sanders maar met ’n kortkop gewen.

Belangriker nog, Biden loop nou voor in die getal afgevaardigdes wat oor ’n paar maande formeel die Demokratiese kandidaat op die party se konvensie moet aanwys. Volgens die telling van die New York Times het hy in dié verkiesing 453 afgevaardigdes agter hom geskaar teenoor die 245 van Sanders.

Stryd om die siel van die Demokratiese Party

“Super Tuesday” het nuwe lewe geblaas in sen. Joe Biden se veldtog om as die Demokratiese Party se presidentskandidaat aangewys te word. Foto: AP

Die voorverkiesings is dus besig om te ontwikkel in ’n enorme stryd om die siel van die Demokratiese Party. Die vraag is: Watter rigting moet die party inslaan – moet hy Biden se gematigde, sentristiese koers volg, of Sanders se uiters linkse pad?

In dié stadium dui peilings daarop dat die meeste Demokrate hoofsaaklik deur één oorkoepelende faktor gelei word, naamlik hul walging van Donald Trump. Hulle sal by wyse van spreke selfs vir ’n besemstok stem as die party dié as kandidaat teen Trump stel.

Dus kyk hulle na wie die beste kans staan om Trump te verslaan, en slegs dán na die persoon se politieke rigting. Ná Super Tuesday lyk dit of die meeste Demokrate hul hoop op Biden vestig.

Dit word versterk deur peilings wat daarop dui dat die Demokrate in meerderheid eerder gematig of selfs konserwatief in hul politieke oortuigings is, pleks van radikaal links.

Tog hoort ’n voorbehoud hier. Dis nog te vroeg om nou al te sê wie die pyp gaan rook – Biden of Sanders.

Wat wel met taamlike sekerheid gesê kan word, is dít: Indien die Demokratiese konvensie Sanders as presidentskandidaat aanwys, is die kans oorweldigend dat Trump nog vier jaar in die Withuis sal kan woon. Bowendien meen die meeste politieke waarnemers dat die Demokrate dan ook in die verkiesings vir die Senaat en Huis van Verteenwoordigers ’n pak slae kan kry.

Is hy die man wat Donald Trump ore kan aansit in vanjaar se Amerikaanse presidentsverkiesing? Sen. Bernie Sanders kom by ’n byeenkoms aan op “Super Tuesday”. Foto: Reuters

Sanders is eenvoudig te links vir die gemiddelde Amerikaner. Hy noem homself ’n “demokratiese sosialis”, en die begrip sosialisme staan in dié land byna gelyk met ’n platvloerse vloekwoord.

Sanders is weliswaar geen volslae kommunis nie, maar sy sosialisme is wel baie radikaal links.

Hy vergelyk sy sosialisme met die sosiaal-demokrasie in die Skandinawiese lande. ’n Nugter kommentator soos Fareed Zakaria wys tereg daarop dat die inhoud van sy sosialisme eerder ooreenstem met dié van die jare sestig in Skandinawië.

Veral sedert die begin van die jare tagtig het dié lande hul benadering grootliks in die rigting van die kapitalisme verander. Wat wys dat Sanders sedert dié tyd niks verander het nie.

Trump-hulle het nog nie eens begin om Sanders se radikale verlede uit te buit nie.

Om die waarheid te sê, die laaste tyd is al sy radikale politieke uitsprake van die verlede uitgegrawe. Hy het verkies om sy wittebrood in die ou Sowjetunie deur te bring, en het kommunistiese regimes soos dié in Kuba en Nicaragua en sosialistiese regerings soos dié in Bolivia en Venezuela uitvoerig geprys.

Hy was ook vol lof vir Palestynse terreurbewegings en het voortdurend teen Israel te velde getrek – wat in Amerika swaar teen jou tel.

Dit gaan nie hier om die meriete al dan nie van sy idees nie. Die punt is eenvoudig dat, tensy ’n wonderwerk plaasvind, Trump hom waarskynlik in ’n verkiesing met die grond gaan gelyk maak.

In landwye peilings vaar Sanders tans effens beter as Trump. Maar Trump-hulle het nog nie eens begin om Sanders se radikale verlede uit te buit nie.

Die vriendelike oupa

Daar is geen twyfel wie dié mense se gunsteling is om die Demokratiese Party se verkiesingskandidaat te wees nie. Foto: Reuters

Terug by Biden. Biden is self nie die mees sprankelende politikus wat Amerika al opgelewer het nie. Hy maak die indruk van ’n vriendelike oupa, ’n aangename mens, maar sonder die vuur en geesdrif wat mense opgewonde maak.

Dit tel teen hom. Daarteenoor staan dat Trump sy vier jaar aan die bewind gebruik het om teenstanders (en dikwels ook potensiële bondgenote) links en regs gruwelik te beledig en oor die algemeen platvloers op te tree.

Trump-ondersteuners sien rooi as hulle sulke woorde lees, maar feite is nou eenmaal feite.

Die gemiddelde van alle peilings, soos gepubliseer op die webwerf RealClearPolitics, gee táns vir Biden landwyd ’n voorsprong van 5,4 persentasiepunte bo Trump.

Twee voorbehoude moet ewenwel hier geld.

Ten eerste gee die peilings ’n momentopname weer – dis soos sake nóú staan. Daar is nog agt maande voor die verkiesing oor, en baie kan in dié tyd gebeur.

’n Grootskaalse terreuraanval, met ’n besliste Trump-reaksie, kan byvoorbeeld alles deurmekaar krap. Dieselfde kan gebeur as Sanders tóg die Demokratiese kandidaat word.

’n Ondersteuner van pres. Donald Trump maak dit duidelik vir wie hy in November se Amerikaanse presidentsverkiesing gaan stem. Foto: Reuters

Tweedens het ons in die verkiesing van 2016 gesien hoe ’n verloorder – Trump – tog wettig president kon word. Hillary Clinton het toe met 2,1 persentasiepunte, byna 3 miljoen stemme, gewen, maar die eienaardighede van die Amerikaanse verkiesingstelsel het Trump die reg gegee om sy koffers in die Withuis uit te pak.

Dis nie onmoontlik dat iets soortgelyks ook later vanjaar kan gebeur nie.

Intussen is Trump se posisie in die Republikeinse Party absoluut onaantasbaar. Selfs nie eens daardie groot Republikeinse held, pres. Ronald Reagan, het só sterk in die party gestaan soos Trump tans nie.

Daarteenoor is die weersin in hom onder Demokrate ewe groot. Dit kom dus uiteindelik op die onafhanklike kiesers neer. Húlle gaan die deurslag gee.

’n Spannende agt maande lê voor. Al wat ’n mens kan sê, is dat die tekens dui op maklik die vuilste verkiesing in menseheugenis.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.