Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Boere se Woodstock-oomblik by Bela-Bela

Dis moeilik om te glo dat 600 boere deesdae “voos van al die goeie nuus” by ’n saamtrek kan uitstap, maar dis wat onlangs in die Bosveld gebeur het, berig Le Roux Schoeman.

Afgevaardigdes by die Grond-Oplossing-beraad wat Landbouweekblad op 23 en 24 Augustus op Bela-Bela in Limpopo gehou het, kon sprekers op groot skerms volg en die program was volgepak met kort sessies (10 minute) waar boere hul suksesverhale met grondhervorming en ander voorstelle kon deel. Foto: Le Roux Schoeman

Die “bomb-sweep” het Donderdag om 07:00 plaasgevind. Standaardprosedure met die adjunkpresident in aantog. Maar terwyl ’n mens die scenario van ’n aanslag op David Mabuza se lewe hier in ’n veilingsaal buite Bela-Bela bepeins, besef jy hoeveel eiers georganiseerde landbou op 23 en 24 Augustus in een mandjie gepak het.

Boerdery in Suid-Afrika sou voorwaar ’n stewige knock gevat het indien die groep rolspelers wat Mabuza moes toespreek uit ons midde geneem sou word. Dit was immers ’n saamtrek van wat organiseerders die “breintrust” van transformasie in die landbou noem.

Ook Mabuza het die kernrol van die 600 mense in die gehoor beaam in sy toespraak op die eerste dag van Die Grond-Oplossing. “(As regering) sal ons ons bes doen om die geskatte R460 miljard se belegging in ons landboubates te beveilig sodat ons dit as hefboom vir die verdere belegging in dié sektor kan gebruik,” was die rand-en-sent-boodskap van hoe belangrik boere vir politici is.

Maar daar was toe nie ontwrigting nie. Daar was net wat gevoel het soos ’n vyfdagkonferensie wat in twee dae ingekonsertina is deur ’n begeesterde Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, wat die konsep van só ’n saamtrek bedink en met senior redaksielede, asook Agri SA uitgevoer het.

Chris Burgess, die redakteur van Landbouweekblad, se visie vir die beraad was dat afgevaardigdes saam kon brood breek en suksesverhale oor transformasie deel. Foto: Le Roux Schoeman

Jannie de Villiers van Graan SA, was in die kol toe hy ná ’n 12 uur-dag tydens sy spreekbeurt, die laaste van die dag, geskerts het dat hy pootuit is van al die goeie nuus. Hierdie goeie nuus-vermoeidheid was deel van Burgess se visie.

“Wat ons probeer doen is om die breintrust van SA Landbou bymekaar te kry wat transformasie betref,” het hy verlede week op die vooraand van die funksie gesê.

“Dis die eerste keer dat ons so versameling mense saam het wat almal al oplossings vir die grondkwessie het – nie net ontwikkel het nie, maar eintlik in werking gestel het. Dis alles van kommunale grond, na familieplase, na restitusieplase, plaaswerker bemagtiging . . . die hele spektrum,” aldus Burgess, wat grondonteiening as plaasseun aan sy eie bas gevoel het.

Burgess (45), het in ’n onderhoud met Murray La Vita van Netwerk24 vertel hoe een van hul familieplase in die Oos-Kaap in 1983 deur die NP-regering onteien is as deel van die “konsolidering” van die ou Transkei se grense. So dis ’n diepe gedrewenheid waarmee dié tydskrifredakteur oënskynlik sy eie kantoor-“KPA” herskryf het na iets breër, naamlik ’n rolspeler in eie reg, ’n tipe koppelaar. “(Landbouweekblad) werk nou al ’n geruime tyd in die landbou,” sê hy met ’n skalkse laggie om die lippe oor dié eeue oue tydskrif. “Dis ons werk om te weet waar wie is en baie (van die boere hier) ken nie mekaar nie. Dis een van die goed wat ons probeer bewerkstellig dat mense met dieselfde uitkyk begin netwerk . . . jy weet nooit wat daaruit gaan kom nie.”

Hier gaan dit nie oor politiek nie

Sy aanslag was pretensieloos, prakties en oplossingsgerig. Toe iemand per abuis ’n motor se ligte aanlos, kondig Burgess aan: ’n Wit bakkie, nommerplaat so en so se ligte is aan “as jy jumper-kabels soek, kom vra.” Hy wou hê mense moes luister én gesels. “Brood breek,” het hy dit genoem.

Nou spoel vinnig vorentoe. Ná twee kongresdae steier ’n ewe goeie-nuus-vermoeide Nick Serfontein uit die kongres-venue en ’n mens vra hom na sy indruk. Serfontein, van viral-brief aan pres. Cyril Ramaphosa-faam en voorsitter van die Sernick-groep, het self die kongresgangers toegespreek en sy geesdrif lê vlak.

“Hierdie gaan waarskynlik een van die grootste landmerke in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse landbou wees,” meen dié leierboer.

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, kyk toe terwyl Mike Mlengana, direkteur-generaal: Landbou, Bosbou en Visserye, vure doodslaan oor wat hy noem die idee dat die regering "guns blazing" besig is om kommersiële boere se grond te onteien. Foto: Le Roux Schoeman

So waaroor die bohaai?

Selfs met ’n oppervlakkige blaai deur die stampvol sprekersprogram, kan ’n mens sien dit gaan nie hier oor politiek nie. Die politieke insette van Mabuza en later deur Mike Mlengana, direkteur-generaal: landbou, bosbou en visserye, is wel oënskynlik goed ontvang, maar dit was die suksesstories en saaklike mededelings oor dit wat werk wat die gehoor vasgenael gehou het.

Diep Limpopo se antwoord op Ted Talks. Die berugte twiet deur die president van Amerika oor grondonteiening in Suid-Afrika het soos ’n bosloerie oor die eerste dag gevlieg en nie sitplek gekry nie.

Die “vibe” was meer Kleinjan Gasekoma as Donald Trump. Gasekoma, was een van ’n rits swart boere wat die gehoor toegespreek het.

Hy was in 2015 die eerste swart kommersiële beesboer van die jaar. Op 71-jarige ouderdom was dié nederige man opgewonde om te praat oor die leiding wat hy by sy landboumentor Cois Harman gekry het.

Harman sê Gasekoma het “ingekoop om nie verlei te word as finansiële instansies vir die wenner-boer maklik ’n lening wil gee nie. Hy is ’n boer wat daarna strewe om skuldvry te bly. Sy beeste is sy sekuriteit en sy bank,” aldus Harman.


Boodskap wat moet uitgaan na samelewing

“My oupa het op 70 akkers geboer, my pa het op 110 morg geboer en ons boer vandag op 2 440 hektaar,” het Ralph Swart, ’n Overbergse boer, vertel. Foto: Le Roux Schoeman

En daar was baie sprekers soos Gasekoma. Swart boere oor hul ervaring en visie vir die land. Ralph Swart, wie se familie al meer as ’n eeu rondom Elim boer, het ’n sêding oor moed hou uit die Overberg kom deel: “Praat is afdraand, doen is opdraand.”

Daar was Whiskey Kgabo van Limpopo, daar was Tshilidzi Matshidzula van Alexandria . . . en nog vele wat in woertswarts-sessies van 10 minute elk kom gesels het. Natuurlik was die kwessie van onteiening sonder vergoeding tog deel van die agtergrond waarteen die gesprekke plaasgevind het. Mabuza is na die verhoog genooi met die volgende woorde van Dan Kriek van Agri SA: “Adj.pres, ons kan nie onsself uit die moeilikheid uit eksproprieer nie, ons moet onsself uit die moeilikheid uit ontwikkel.

“Hierdie is die boere wat nou praat en impetus gee en sê, luister, daar’s ’n boodskap wat moet uitgaan na die samelewing: Ons kan transformasie doen, ons kan grondhervorming doen. Ons sal verantwoordelikheid daarvoor neem en ons sal saamwerk met die regering.”

Op sy beurt het Mabuza gesê die regering sal “sy eie hand versterk teen grondgrype”.

Hy het ook verduidelik wat wel sal gebeur op grondtransformasie-front: “Ons benadering tot grondhervorming sal drie elemente bevat, naamlik: Groter sekerheid van eiendomsreg (“tenure”), grondrestitusie, grondherverdeling.”

Ons het nog niks in werking gestel nie. Waar kom (dié gerug) vandaan dat ons kom, ‘guns blazing’ om wit kommersiële grond te vat.
Mike Mlengana

In ’n toespraak wat meer as 20 minute geduur het, het Mabuza gesê: “Ons is duidelik as ANC dat (niks) die produktiewe gebruik van ons grond moet ontwrig nie. Ons moedig julle aan om te produseer en te produseer – niks sal daardie produksie ontwrig nie.”

Mlengana, wat op die tweede dag gepraat en die funksie met ’n gebed afgesluit het, het eweneens verwys na moontlike wanopvattings oor die regering se benadering tot grondhervorming: “Op hierdie oomblik is daar ’n proses genaamd ’n grondwetlike hersieningsproses.

“Ons het nog niks in werking gestel nie. Waar kom (dié gerug) vandaan dat ons kom, ‘guns blazing’ om wit kommersiële grond te vat.

“Die sogenaamde 139 plase (wat op ’n lys verskyn en versprei is) is ’n gevorderde debat van die gewillige koper en -verkoper waar mense gesê het ek verkoop my plaas en die regering gesê het, ja, hier is die prys. En die ander een sê nee, nou verskil ons.

“Nou vat ons dit om waardeer te word. Maar die verkoper sê, hokaai, ek skuld nog geld vir die bank – daar is ’n verskil. Dan sê ons die beginsel van regverdige en billike verkoping, of wat ook al, moet nou geld. Ons gaan nou hof toe en vasstel wat die regverdige pryse is.

“Die regering sê ons gaan hof toe omdat ons van mening verskil.”


Waarvoor sal hierdie Bela-Bela-dae onthou word?

Daar is by herhaling rondom kostafels met roosterkoek en koeksisters gesê hoe positief die atmosfeer van die konferensie was. Ondanks die ooglopende risiko wat met grond-onsekerheid in dié sektor gepaardgaan. Ook ’n diep gelowigheid het ’n mens opgeval.

Dit was enersyds meer Nampo as Mighty Men, maar dit was andersyds ook nie ’n tipe rubberstempel bid-voor-braaivleis-spiritualiteit nie. Dit blyk uit veral iemand soos Ellouise Volmink se storie.

Haar pad na bemagtiging is vervleg met dié van ’n Karooboer, Christof Cloete, van ’n vrugteplaas buite Laingsburg. Dié twee het kom praat oor die “geleidelike oordrag van plaas na aandeelhouers”. Die trajek van hul storie met bemagtiging nie is g’n plat Karoopad nie.

Dis ook maar op en af, vertel Cloete: Hy’t een jaar ’n misoes gehad as gevolg van rypskade, maar 12 km van hom het ’n plaas, wat nou hul bemagtigingsplaas is, ’n “bumper-oes” gehad.

“Toe praat ek met die produksieadviseur van Pioneer Foods,” vertel Cloete. Dié twee plase kon mekaar aanvul, het hy gesê. Pioneer se man sê toe dis reg: hulle wil juis bemagtiging doen en het geld beskikbaar.

“Dit het letterlik – van Pioneer se mense die plaas kom besoek het, tot ons aan die boer gekom het – twee maande gevat,” sê Cloete.

Om by die musiekwêreld ’n beeld te gaan leen, kan ’n mens sê daar was iets Woodstock-agtig omtrent die geleentheid. ’n Moedige genot.

Nou is Volmink, ’n voormalige algemene werker op die buurplaas, ’n aandeelhouer in die volwaardige bemagtigingsplaas Doornkloof.

“Ek glo met my hele hart dat dit die manier is hoe die Here ook gewerk het,” sê Volmink.

“Dat ek in daardie aandeelhoudingskap ingegaan het. Ek het daar ingestap en vir die Here gevra, ek het nie die ervaring en die kennis nie, maar U is by my.”

Saam-saam op die verhoog voor die honderde afgevaardigdes het Volmink en Cloete ’n PowerPoint-skyfie met mede-boere kom deel getiteld: Belangrike korttermyn gebeure vir langtermyn sukses.

Om by die musiekwêreld ’n beeld te gaan leen, kan ’n mens sê daar was iets Woodstock-agtig omtrent die geleentheid. ’n Moedige genot.

Nes by Woodstock was daar ’n tipe kenteringsgevoel.

Barry Levine, wat Woodstock in 1969 as fotograaf “gedek” het, het oor sy sesdaagse belewenis van dié legendariese Amerikaanse rockfees gesê daar was iets “magneties” daaraan. “The vibe was one of people understanding that there is a little heaven in every disaster,” het Levine in ’n Telegraph-artikel oor die nalatenskap van Woodstock gesê.

Hier in die Limpopo-Bosveld was daar natuurlik g’n kitare of modder of Viëtnam-oorlog nie, maar nes by Woodstock was daar wel ’n tipe kenteringsgevoel. Indien Woodstock ten minste in Amerika snelskrif geword het vir die ekstase van tydsgees teenoor die rompslomp van eietydse probleme, wonder ’n mens waarvoor hierdie Bela-Bela-dae onthou sal word.

Te midde van onsekerheid oor hoe behendig Suid-Afrika sy grondhervorming sal bestuur, kan ’n mens seker wees Kleinjan Gasekoma staan vandag tussen sy diere.

Hy was laasweek deurgaans kriewelrig om weer pad te vat na die plaas. “Ons moet die beeste was, vet maak, dan skou toe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.