Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Breek era van ekstremisme vir Brasilië aan?

Ná die mees gepolariseerde en verdelende veldtog in sy moderne geskiedenis, het Brasilië ’n regse politikus wat openlik menseregte verag en militêre diktators bewonder tot sy volgende president verkies, skryf Helder Ferreira do Vale.

Jair Bolsonaro, ’n 63-jarige lid van die Brasiliaanse kongres wat sterk evangelies gesinde steun gekry het vir sy wet-en-orde-benadering tot polisiëring, steun vir vuurwapenregte en sy teenkanting teen aborsie, het 55,7% van die stemme op hom verenig.

Bolsonaro se linkse teenstander, Fernando Haddad, ’n voormalige minister van onderwys en oudburgemeester van São Paulo, het 45% van die rofweg 100 miljoen stemme gekry.

Bolsonaro se woedende, populistiese retoriek tydens sy veldtog het daartoe gelei dat baie koerante en openbare figure wêreldwyd sy kandidaatskap as ’n bedreiging vir die demokrasie beskou. Maar 55 miljoen Brasiliane was Sondag minder bekommerd oor Bolsonaro se boodskap.

Haddad, sy teenstander, het hom minder as ’n maand voor die eerste ronde van die verkiesing by die presidensiële wedloop aangesluit. Die Werkersparty, wat sedert 2002 die regerende party in Brasilië is, het Haddad gevra om Inácio Lula da Silva te vervang, ’n uiters gewilde voormalige president wat in Julie weens korrupsie tronk toe is. Haddad kon egter nie so gewild soos hy word nie.

Brasilië se politiek van ontnugtering

Jair Bolsonaro, Brasilië se nuwe president, het met sy populistiese retoriek vrese laat ontstaan dat sy regeringstydperk dalk ’n era van ekstremisme sal inlui. Foto: Getty Images

Bolsonaro se oorwinning sal waarskynlik ’n reeds akute krisis in Brasilië, die land in die Westelike Halfrond met die naasgrootste bevolking, vererger.

Brasilië was eens een van die blinkste sterre in die ontwikkelende wêreld, maar sy glans het aansienlik verdof danksy ’n ernstige resessie en politieke woelinge sedert 2015. Honderde politici, insluitende oudpres. Lula, is in hegtenis geneem en tronk toe gestuur ná ’n geregtelike ondersoek wat korrupsie op die hoogste regeringsvlak blootgelê het.

Die korrupsie het gevolge. ’n Opname wat in Augustus deur die Brasiliaanse Instituut vir Openbare Mening en Statistiek gedoen is, toon dat net 25% van burgers hul federale regering vertrou en dat net 18% die parlement vertrou.

Onder hierdie omstandighede was Bolsonaro se oorwinning as ’n anti-establishment-kandidaat voorspelbaar – en nie net omdat Bolsonaro duidelik voorgeloop het in die verkiesing sedert Lula hom in September onttrek het nie.

Nou het ontnugtering in Brasilië gelei tot die oorwinning van ’n regse populis wat beloof om die land te suiwer van sy linkse teenstanders.

Wanneer stemgeregtigdes nie glo in hul politici of in regeringsinstellings nie, kan kandidate wat munt probeer slaan uit stemgeregtigdes se minagting vir die politieke stelsel sukses behaal. In my eie navorsing oor demokratisering is dit wat ek noem “die politiek van ontnugtering”.

Hierdie fenomeen het konserwatiewe buitestanders gehelp om te wen in die VSA, Italië en Hongarye.

Nou het ontnugtering in Brasilië gelei tot die oorwinning van ’n regse populis wat beloof om die land te suiwer van sy linkse teenstanders.

“Of hulle gaan oorsee, of hulle gaan tronk toe,” het hy aan ’n reuseskare in São Paulo gesê in een van sy laaste verskynings voor Sondag se verkiesing.

Opruiende retoriek en militarisme

Dié ondersteuners is skynbaar nie gepla deur Jair Bolsonaro, die nuwe president van Brasilië, se uitlatings oor vroue nie. Hulle kon nie wag om hul vreugde te toon met sy sege in die presidentsverkiesing nie. Foto: Reuters

Bolsonaro was drie dekades in die kongres. Om populêre woede teen die stelsel in te span, het hy sy veldtog geskoei op die fel kritiek van ’n buitestander teen die Brasiliaanse samelewing.

In reaksie op die buitensporige politieke korrupsie en uiterste geweld in Brasilië het Bolsonaro militêre diktatorskappe verdedig soos dié wat Brasilië van 1964 tot 1985 regeer het. Die enigste probleem met Brasilië se voormalige outoritêre leiers, het Bolsonaro gesê, is dat hulle andersdenkendes gemartel het en nie vermoor het nie.

Kritici sê sy bewondering vir die leër lei tot ernstige twyfel oor die toekoms van Brasilië se 33 jaar oue demokrasie.

Mense skree slagspreuke teen Jair Bolsonaro, Brasilië se nuwe president, by die São Paulo-modeweek. Foto: Reuters

Bolsonaro, ’n voormalige kaptein in die weermag, gebruik gereeld homofobiese en rassistiese retoriek, sowel as haatspraak teen vroue, teen groot dele van Brasilië se bevolking. Hy het al gesê hy sou sy kinders “nooit toelaat” om romanties betrokke te raak by ’n swart persoon nie en dat hy “nie daartoe in staat is om ’n homoseksuele seun lief te hê nie”.

Bolsonaro het ook eenmaal ’n medelid van die kongres toegesnou dat sy “nie verdien om deur hom verkrag te word nie omdat sy verskriklik en lelik is”.

Sy verkiesingsveldtog is gekenmerk deur ontevredenheid en massaprotes deur vroue.

Bolsonaro se dubbelsinnige politieke agenda

’n Ondersteuner van Jair Bolsonaro, Brasilië se nuwe president, by ’n verkiesingsbyeenkoms. Foto: Reuters

Benewens sy opruiende retoriek het Bolsonaro weinig besonderhede gegee oor hoe hy Brasilië sal regeer. Hy het nie opgedaag vir presidensiële debatte nie en moeilike vrae vermy oor of hy ekonomiese en politieke hervormings van stapel sal stuur om Brasilië te help om uit sy drie jaar lange krisis te ontsnap.

Om die rekordhoë misdaadsyfer te takel, het die pas gekose president gesê hy sal vuurwapenwetgewing verslap en die ouderdom van strafregtelike verantwoordelikheid van 18 tot 16 verlaag. Hy is ’n onwrikbare ondersteuner van die herinstelling van die doodstraf in Brasilië en het gesê hy sal “inwillig om terdoodveroordeeldes self dood te maak”.

Brasilië het die wêreld se derde grootste gevangenisbevolking, en 64% van die tronkbevolking is swart.

Hy beskou aborsie as moord.

Bolsonaro wil ook regstellende aksie by Brasilië se openbare universiteite beëindig.

Hy beskou aborsie as moord. Die prosedure is verbied in Brasilië, maar in die afgelope jare het vroueregtegroepe probeer om aborsiewetgewing te liberaliseer. Dit is onwaarskynlik dat dit sal gebeur onder Bolsonaro se regering.

Party ontleders het voorspel dat die kongres sommige van Bolsonaro se meer radikale neigings sal tem. Maar bewyse uit die VSA en elders dui daarop dat sover dit die politiek van ontnugtering betref, presidente wat hul verkiesingsveldtogte as ekstremiste voer, as ekstremiste regeer.

Bolsonaro neem die leisels op 1 Januarie oor. Brasilië se politieke instellings, wat reeds verswak is deur korrupsie en openbare woede, sal onder groot druk kom om te wys dat hulle die nuwe leier se populistiese ambisies en militêre instinkte kan weerstaan.

Dit is ’n groot uitdaging vir Brasilië se jong en, ek vrees, struikelende demokrasie.

* Helder Ferreira do Vale is medeprofessor by die Hankoek-Universiteit vir Buitelandse Studie. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Jair Bolsonaro  |  Brasilië  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.