Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Brexit-chaos word net groter

As daar één woord is wat die Britse politiek van die laaste drie en ’n half jaar beskryf, is dit die begrip van chaos. Vandeesweek moes die Brexit-knoop uiteindelik deurgehak word. Maar die chaos word net ál groter. Leopold Scholtz rig ’n vermoeide blik op ’n vermoeidende proses.

’n Engelse spreekwoord lui: “It’s as clear as mud.” Dít is ’n goeie beskrywing van waar sake rakende die chaotiese Brexit-proses in die Britse politiek tans staan.

Die Britse laerhuis het nou al verskeie kere oor Brexit of aspekte daarvan gestem. Konsekwentheid was daar nooit; hulle kon wel besluit wat hulle nié wil hê nie, maar nie wat hulle dan wél wil hê nie.

Maandag het die eerste spreekwoordelike wit rook uit die skoorsteen geborrel toe die laerhuis die tweede lesing van premier Boris Johnson se Brexit-wetsontwerp verrassend goedgekeur het. Die uitslag was geen oorweldigende meerderheid nie, maar ’n werkbare een, 329 teen 299.

Hiermee het ’n meerderheid van die LP’s hulle agter die beginsel van die wetsontwerp gestaan. Dit was die heel eerste keer in die hele proses dat ’n positiewe meerderheid agter enige voorstel gevind kon word.

Op die televisie het Johnson baie tevrede met homself gelyk. Maar net enkele minute later is hy wreed ontnugter.

Hy het naamlik ’n mosie ingedien met die strekking dat die komiteestadium van die wetsontwerp slegs twee dae duur. In dié fase omvorm die laerhuis homself tot ’n komitee wat die klousules een vir een behandel en daaroor stem.

Dis die hoeveelste vernedering wat Johnson in die paar maande van sy premierskap ervaar.

Dis meestal hiér waar veranderings aan die detail van die wetsontwerp voorgestel word. Dan volg die finale fase, die derdelesingsdebat.

Maar die laerhuis wou niks van Johnson se gejaagdheid weet nie. Dis ’n lewensbelangrike maatreël, het die meeste geoordeel, en hulle wil genoeg tyd hê om dit ordentlik te bestudeer en daaroor te besin.

Dié keer was die frustrasie op Johnson se gesig duidelik sigbaar. Dis die hoeveelste vernedering wat hy in die paar maande van sy premierskap ervaar.

Dus het hy die hele wetsontwerp op ys geplaas. Die vraag is hoe nou verder? En dis so duidelik soos modder.

Boris het verskeie keuses

Nou wát wil julle hê? ’n Gefrustreerde Boris Johnson, Britse premier, Dinsdag in die debat oor Brexit in die Britse parlement. Foto: AP

Die formele datum vir Brexit is 31 Oktober, sommer om die draai. Die terugtrekking van die wetsontwerp maak dit onmoontlik dat dié datum gehaal kan word.

Die laerhuis het tevore al ’n wetsontwerp aanvaar om Johnson te dwing om ’n verdere uitstel van drie maande by die Europese Unie (EU) te vra as die proses teen 31 Oktober nog nie afgehandel is nie. Dit bring jou by 31 Januarie 2020.

Hy het dit, by wyse van spreke, al skreeuende en spartelende gedoen. Sy herhaalde belofte was immers dat Brittanje – wat ook al gebeur – die EU op 31 Oktober sál verlaat. “Ek lê liewers dood in ’n sloot,” was sy woorde.

Die meeste EU-leiers is heeltemal keelvol vir die Britte, maar hulle het prakties geen invloed op die proses in Westminster nie.

Uit Brussel word verneem dat Donald Tusk, president van die Europese Raad (die liggaam waarin alle EU-regeringsleiers sitting het), begin het om die leiers van die 27 oorblywende EU-leiers te raadpleeg. Die algemene verwagting is dat uitstel toegestaan sal word, al was dit slegs om te voorkom dat die EU die skuld vir die debakel kry.

Die meeste EU-leiers is heeltemal keelvol vir die Britte, maar hulle het prakties geen invloed op die proses in Westminster nie en staan noodgedwonge maar eenkant.

Hulle is vermoedelik wel te vinde vir iets wat “flextention” genoem word. Met ander woorde, die gevraagde uitstel hoef nie noodwendig die volle drie maande te duur nie; as ’n deurbraak voor 31 Januarie in Londen kom, kan Brexit gouer plaasvind.

Johnson het nou verskeie opsies. Die eerste is dat hy dan maar teen wil en dank inval by die wense van die parlement en die tydsame pad met die Brexit-wetsontwerp stap. In die lig van sy ongeduldige en oorheersende karakter word dit nie baie waarskynlik geag nie.

’n Betoger wat niks van Brexit wil weet nie buite die Britse parlementsgebou. Foto: Reuters

’n Tweede is dat hy die stang byt en sy belofte uitvoer om Brittanje op 31 Oktober uit die EU te laat stap. Dit sal dan sónder ’n ooreenkoms wees, iets wat volgens talle waarnemers ’n groot chaos, veral in Brittanje en in ’n mindere mate ook op die Europese vasteland, sal meebring.

Indien dié voorspellings, wat onder meer deur ondersoeke van die regering self uitgewys word, korrek is, kan dit teen Johnson boemerang en sy gewildheid aansienlik aantas.

Dit bring ons dan by die derde moontlikheid, ’n nuwe algemene verkiesing. Luidens ingeligte ontledings in die Britse media is dít die mees waarskynlike opsie.

’n Ondersteuner van Brexit se T-hemp. Foto: Reuters

Hy sal dit dan wel taamlik vinnig moet hou. Peilings wys dat die Konserwatiewe Party, soos sake táns staan, sal wen, maar niemand weet hoe lank dit gaan duur nie.

Dis hoofsaaklik omdat hy weens sy steun vir Brexit baie stemme van die Brexit-Party van Nigel Farage kan terugkry. Terselfdertyd is daar groeiende wantroue onder die tradisionele Arbeider-ondersteuners in dié party se links-populistiese leier, Jeremy Corbyn.

Daar is wel een vlieg in die salf.

Konsekwentheid was nog nooit iets waarvan jy die Britte kon beskuldig nie.

Die reëls bepaal dat Johnson nie, soos in die verlede, op eie houtjie ’n vervroegde verkiesing kan uitroep nie; hy moet die laerhuis se toestemming kry. Gesien die talle nederlae wat hy in die laaste tyd gely het (met inbegrip van een oor ’n poging om ’n verkiesing uit te skryf), is dit ’n ope vraag of hy dit sal kan doen.

’n Vierde moontlikheid is ’n tweede referendum. Sommige LP’s sê hulle sal vir die Brexit-wetsontwerp stem, mits dit aan die kiesersvolk vir finale goedkeuring voorgelê word.

Dis een van daardie Britse eienaardighede dat peilings nie alleen ’n oorwinning vir die oorwegend Brexit-gesinde Konserwatiewe Party voorspel nie, maar ook ’n nederlaag vir die Brexiteers in ’n referendum. Maar nou ja, konsekwentheid was nog nooit iets waarvan jy die Britte kon beskuldig nie.

Gevolge van die chaos

Dié betogers wil hê dat Brittanje ’n lid van die Europese Unie bly. Die foto op die plakkaat is dié van Jacob Rees-Mogg, leier van die laerhuis. Foto: Reuters

Die chaos het gevolge. Die een is dat die Britse internasionale reputasie vir betroubaarheid en geloofwaardigheid, veral in Europa, ’n knou gekry het.

’n Tweede gevolg is dat die voortdurende onsekerheid die Britse ekonomie nou reeds benadeel. Heelparty groot internasionale maatskappye het reeds aangekondig dat hulle hul Europese hoofkwartiere van Londen na Parys, Brussel, Amsterdam of Frankfurt gaan skuif (of hulle oorweeg dit).

Die derde is dat die voortbestaan van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland as sodanig in die gedrang kan kom.

Deurdat ’n formule in die gewysigde Brexit-ooreenkoms gevind is om ’n harde grens tussen Noord-Ierland en die Ierse Republiek te voorkom, kan ’n geleidelike verwydering tussen Noord-Ierland en Brittanje ontstaan. Dit kan gepaardgaan met ’n toenadering tussen en dalk uiteindelike hereniging van die twee Ierse gebiede.

Dis wel ver weg, maar peilings wys dat selfs Noord-Ierse Protestante, wat voorheen bankvas agter die unie met Brittanje was, begin weifel.

Brexit is byna van die begin af deur ’n chaos gekenmerk.

Ook in Skotland groei die druk vir ’n referendum oor Skotse onafhanklikheid. Die Skotse nasionaliste se argument is dat dié gebied in die Brexit-referendum van 2016 oorweldigend teen uittrede uit die EU gestem het.

Sommige peilings wys dat die separatiste nou al ’n effense meerderheid het. Ander wys die teenoorgestelde beweging. Ook hier is dus groot onsekerheid.

Brexit is byna van die begin af deur ’n chaos gekenmerk. En net sou gou as wat jy dink nóú kan die chaos nie groter word nie, wórd dit groter.

Nugter weet waar dit gaan eindig.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Europese Unie  |  Jeremy Corbyn  |  Boris Johnson  |  Donald Tusk  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.