Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Brexit: Niemand kan wen nie

’n Internasionale politieke pokerspel soos die Weste sedert 1945 nie gesien het nie. Dít is waarop die onderhandelinge rakende Brexit tans neerkom. Leopold Scholtz ontleed die spel wat uiteindelik moontlik slegs verloorders kan oplewer.

Brexit is ’n feit. Sedert die Britte in 2016 in ’n referendum met ’n klein meerderheid (52-48%) besluit het om uit die Europese Unie (EU) te stap, het ’n trein in beweging gekom wat nie gestuit kon word nie, ondanks die groot ekonomiese skade wat dit kon meebring.

Tog kon die skade beperk word indien Londen en Brussel ’n behoorlike egskeidingsooreenkoms kon bereik. Op die oog af lyk dit egter nie asof dit gebeur nie.

Formeel bly die betrekkinge tussen Brittanje en die EU tot 31 Desember asof die land steeds lid van die EU is. Dis deel van ’n oorgangstyd van 11 maande, en die bedoeling was dat ’n permanente ooreenkoms in dié tyd gesluit sou word.

Die verskille gaan oor visseryregte, oor invoertariewe, asielregte, die deportasie van misdadigers, ensovoorts. Baie miljarde euro’s en ponde is hiermee gemoeid.

As geen ooreenkoms bereik word nie, sal die betrekkinge oor die Engelse Kanaal deur die reëls van die Wêreld-Handelsorganisasie bepaal word. En húlle is verreweg nie so positief vir vryhandel as die EU se onderlinge oop mark nie.

Die afsnydatum vir ’n beginselooreenkoms was 15 Oktober. Maar die dag het gekom en gegaan, en geen ooreenkoms is selfs maar op die horison in sig nie; albei kante het hul hakke in die sand geslaan en weier om te beweeg.

Op hul maandelikse spitsberaad in Brussel het die 27 oorblywende EU-regeringshoofde verlede Donderdag besluit om self geen nuwe voorstelle te doen nie, maar om op Londen te wag. En premier Boris Johnson se reaksie was: Nee, beweeg júlle eerste!

Johnson het onmiddellik ’n verklaring uitgereik waarin hy gedreig het dat Brittanje die oorgangsperiode dan desnoods sónder enige ooreenkoms sal afsluit. Brussel se aanbod om Michel Barnier, sy hoof-onderhandelaar, gister vir verdere gesprekke na Londen te stuur, is verwerp. Nou gaan dit hárd teen hárd.

Johnson se swak posisie

Boris Johnson, eerste minister van Brittanje, gesels met die media oor die Covid-19-pandemie. Waarnemers meen hy probeer met Brexit-onderhandelings net om sy eie aansien te red. Foto: Getty Images

Dis ’n internasionale politieke pokerspel waarby dit belangrik is om ’n strak en vasbeslote gesig te wys. Om te bluf.

Die probleem is dat Johnson se onderhandelingsposisie swak is.

Om mee te begin staan Brittanje alleen teenoor ’n blok van 27 lande. Nou is dit waar dat die EU berug is vir die moeisame wyse waarop konsensus bereik word, iets wat die blok soms heeltemal verlam.

Maar hiéroor is die 27 dit merkwaardig eens. As net één van hulle ’n ander rigting wil inslaan, word die EU se onderhandelingsposisie ernstig ondermyn. Maar dit gebeur nie, en daar is geen aanduiding dat dit sal verander nie.

Ten tweede: Ofskoon die EU ook sal seerkry as 31 Desember sónder ’n ooreenkoms verbygaan, gaan Brittanje sommer báie seerder kry.

’n Pokergesig. Michel Barnier, die Europese Unie se hoofonderhandelaar met Brittanje, ná ’n perskonferensie verlede week. Foto: AP

Die Konfederasie van Britse Nywerhede (CBI) het die land se regering gewaarsku: Die breuk met die EU val saam met die koronavirus, en saam gaan dit vir ’n enorme ekonomiese en maatskaplike ontwrigting sorg. Brittanje is juis die land in Europa wat tans die ergste deur die virus geteister word.

En Mike Cherry, voorsitter van die Federasie van Klein Sake, het gewaarsku dat baie ondernemings “eenvoudig nie die tyd of geld het om aanpassings te maak nie, selfs al wil en moet hulle”.

Ian Wright, uitvoerende hoof van die Voedsel- en Drankfederasie, het gesê as daar geen ooreenkoms is nie, kan dit ernstige ontwrigting vir ondernemings beteken, dit kan voedselsekerheid aantas en pryse vir verbruikers in die winkels beduidend opstoot.

Ook die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso), wat die wêreld se 37 mees gevorderde ekonomieë verteenwoordig, het gewaarsku dat ’n Brexit sónder ooreenkoms die Britse ekonomie met 6,5% kan laat krimp.

Ruimte vir ’n kompromis

Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland, glo daar is ruimte vir ’n kompromis tussen Brittanje en die Europese Unie oor Brexit. Foto: AP

Dis nie dat Brussel volkome onbeweeglik is nie. Afgesien van Barnier se gewilligheid om na Londen te reis, het die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, uitdruklik op ’n perskonferensie gesê: “Albei kante moet ’n stap in die rigting van die ander party doen. Daar ís ruimte. Daar is ruimte vir ’n kompromis.”

As dit só is, hoe moet ’n mens Johnson se koppigheid dan verstaan?

In The Guardian (Londen) skryf Daniel Boffey, die koerant se Brusselse korrespondent, dat die EU 12 November as die égte afsnypunt vir ’n ooreenkoms sien. Een EU-amptenaar se kommentaar oor Johnson se aankondiging was kripties: “Wat ’n klomp nonsens. Wat was die doel daarvan?”

Dit lyk asof Johnson eerder sy eie aansien probeer red, meen EU-amptenare volgens Boffey.

Daarby berig Die Welt (Berlyn) dat die kredietgradeerder Moody die Britse kredietwaardigheid van Aa1 tot Aa3 verlaag het. Die land se Brexit-probleme is die regstreekse aanleiding.

’n Aanbod van die Europese Unie om Michel Barnier vir verdere gesprekke na Brittanje te stuur, is verwerp. Foto: AP

Prof. Nauro Campos, hoogleraar in ekonomie aan die vermaarde London School of Economics, voorspel dat buitelandse beleggings in Brittanje met tot 37% kan daal as die land geen ooreenkoms met die EU bereik nie. Daarmee sal die tempo waarteen dit rééds afneem, toeneem: Waar die land in 2017 nog £80,6 miljard aan beleggings uit die buiteland getrek het, het dit in 2018 al tot £49,3 miljard gedaal.

Campos meen ook vrye toegang tot die EU se interne mark beteken aansienlik meer vir die Britse ekonomie as wat bilaterale ooreenkomste met ander lande sal meebring. Johnson sien laasgenoemde as die alternatief vir sy land se bande met die EU.

Nog ’n nadeel vir Brittanje is dat ’n Brexit sonder ooreenkoms die aandrang op ’n “Skoxit”, ’n afskeiding van Skotland van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland beduidend kan laat toeneem. Volgens die jongste peiling is 58% van die Skotte nou ten gunste van wegbreek. Hulle wil deel van die EU bly.

Leopold Scholtz

Op kort termyn is dit weliswaar geen praktiese moontlikheid nie (dit kan nie sonder Londen se toestemming gebeur nie, en dít is ondenkbaar). Maar dit verswak Londen se onderhandelingsposisie.

Om al dié redes meen ingeligte waarnemers dat die gespierde taal aan weerskante van die Kanaal waarskynlik ’n tipiese blufspel is waarmee poker meestal gespeel word. Ontsettend baie is op die spel.

Die verwagting is dus dat albei kante binnekort stappe sal doen om die spanning te verlig, maar op ’n manier dat dit nie na toegewings lyk nie. Vir onderhandelaars met te veel testosteroon, iets waaraan veral Johnson en pres. Emmanuel Macron ly, is dit belangrik om sterk voor te kom.

As die testosteroon die oorhand hou, gaan álmal seerkry. Vir Brittanje gaan dit egter ’n hamerslag beteken.

* Dr. Scholtz is ’n politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Europese Unie  |  Michel Barnier  |  Boris Johnson  |  Angela Merkel  |  Skotland  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.