Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Brexit voorspel chaos vir Brittanje

’n Chaotiese tyd wag op Brittanje as premier Boris Johnson sy sin kry om die land op 31 Oktober desnoods sonder ooreenkoms uit die Europese Unie te laat tree. Leopold Scholtz ontleed die nuutste – taamlik opsienbarende – ontwikkelings.

Die witwarm woede waarmee die kantoor van die Britse premier, Boris Johnson, op ’n onthulling in die Londense The Sunday Times gereageer het, wys dat hy taamlik in ’n hoek is.

Al sy beloftes oor hoe maklik en voordelig Brexit – met of sonder ’n skeidingsooreenkoms – sou wees, blyk onwaar te wees.

Dit wil sê, as ’n mens ’n indringende ontleding, opgestel deur die kantoor van die kabinet, bekend as Operasie Yellowhammer, oor die saak kan glo.

Kort opgesom, kom die ontleding, in ’n dokument wat Sondag woordeliks deur The Sunday Times gepubliseer is, op die volgende neer:

* Daar kom ’n “harde” grens tussen Noord-Ierland en die Ierse Republiek. (Tevore het talle kenners al gesê die vredesooreenkoms in die gebied word daardeur in die gedrang gebring.)

* Ernstige brandstoftekorte word in die land voorspel.

* Tot 85% van die padverkeer tussen Brittanje en die Europese vasteland (hetsy per veerboot of deur die kanaaltonnel) kan twee tot drie dae vertraag word.

* “Beduidende ontwrigting” in die hawens wat twee tot drie maande kan duur.

* Twee olieraffinaderye sal só ernstig getref word dat hulle moet sluit, wat ’n verlies van 2 000 werkgeleenthede beteken.

* Die beskikbaarheid van vars voedsel neem af, waardeur veral arm mense getref word.

* Maatskaplike toelaes sal maande lank geraak word.

* Die lewering van vars water word geraak, wat honderdduisende mense kan benadeel.

* Tekorte aan mediese voorraad word eweneens voorspel.

Michael Gove, minister belas met Brexit, meen die ontstellende ontleding is 'n “ou dokument”. Foto: Reuters

In sy reaksie het Michael Gove, die minister wat Brexit moet hanteer, gesê dis ’n “ou dokument” en dat die regering reeds “betekenisvolle stappe” gedoen het om dié gevolge te neutraliseer.

In ’n hoofartikel het The Times egter Maandagoggend geskryf die dokument wat sy Sondag-susterkoerant onder oë gehad het, was vandeesmaand – Augustus (ná Johnson se oorname as premier) – gedateer.

’n “Bron in 10 Downing Street” het volgens The Times gesê ’n gewese minister het die dokument laat uitlek om Johnson se onderhandelingsposisie met die Europese Unie (EU) te verswak. Op Johnson se agenda is juis vandeesweek (Woensdag) ontmoetings met kanselier Angela Merkel van Duitsland en pres. Emmanuel Macron van Frankryk. Daarna volg ’n spitsberaad van die G-7-lande, wat aanstaande naweek in Biarritz plaasvind.

Dit lyk na Brexit sonder ooreenkoms

Boris Johnson, eerste minister van Brittanje, se beloftes oor hoe maklik en voordelig Brexit sal wees, blyk onwaar te wees. Foto: Reuters

’n Mens sal natuurlik nog moet sien of die geheime ontleding se donker prentjie bewaarheid word. Aangesien dit ’n geheime dokument is, slegs bedoel vir die oë van kabinetslede en hoë amptenare, kan dit nie so maklik van die tafel gevee word nie.

10 Downing Street se verweer kom in elk geval nie baie oortuigend oor nie.

Johnson se amptelike posisie is dat hy nie ’n Brexit sonder ooreenkoms wil hê nie, en dat hy ’n gewysigde ooreenkoms sal verwelkom. Maar kom wat wil, op 31 Oktober tree Brittanje uit die EU, ook al is geen ooreenkoms van krag nie.

Die politieke magsverhoudings is belangrik. Johnson, so lyk dit, kan vergeet om Brussel so ver te kry om die omstrede skeidingsooreenkoms wat sy voorganger, Theresa May, beding het, substansieel te verander.

EU-woordvoerders en -leiers het herhaaldelik laat blyk hulle is gewillig om hiér ’n woord en dáár ’n frase te verander. Hulle is ook gewillig om weer te kyk na die politieke slotverklaring (wat, in teenstelling tot die res van die ooreenkoms, geen regskrag het nie).

Maar verder as dít sal hulle nie gaan nie. En, aangesien dit hier één land (Brittanje) teenoor ’n geslote blok van 27 lande is, is die magsverhouding nie in Johnson se guns nie.

Soos sake táns staan, is Brittanje op pad na ’n Brexit sónder ooreenkoms. Aangesien die Britse ekonomie sedert sy toetrede tot die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap begin 1973 volledig met dié van die Europese vasteland geïntegreer is, sal só ’n Brexit vergelyk kan word met ’n arm wat van ’n liggaam afgeskeur word.

Dit kook en borrel soos Brexit-teenstanders woel om ’n stokkie voor ’n Brexit sonder ooreenkoms te steek.

In ’n hoofartikel het The Times – ’n taamlik konserwatiewe koerant – Maandag geskryf ’n ooreenkomslose Brexit kan die land 30 miljard pond per jaar kos. Eweneens het Carolyn Fairbairn, direkteur-generaal van die Konfederasie van Britse Nywerhede, in ’n verklaring gesê Brexit sonder ooreenkoms “sal ongelooflik ernstige gevolge vir ons ekonomie hê”.

Die ontleding wat pas in The Sunday Times onthul is, lyk inderwaarheid baie sag gestel.

Terloops, Brexit gaan ook die EU beskadig, maar daar is konsensus onder kenners dat die skade vir die Europese vasteland veel kleiner as dié vir Brittanje sal wees.

Naels gaan nog stomp gekou word

Kan Brexit nog gekeer word soos dié betogers hoop? Foto: AP

Dis teen dié agtergrond dat dit tans in die Britse politiek kook en borrel soos Brexit-teenstanders woel om ’n stokkie voor ’n Brexit sonder ooreenkoms te steek.

Om mee te begin, het Johnson reeds hardop gegis dat hy die parlement sal ontbind om te keer dat dié sy planne dwarsboom. Die speaker, John Bercow, se antwoord was dat hy met elke been in sy liggaam sal veg om te verseker dat die parlement die laaste sê het.

Die volgende was ’n poging van die Arbeidersparty se leier, die harde Trotskiïs Jeremy Corbyn, om steun te werf vir ’n mosie van wantroue in die Johnson-regering wanneer die laer huis weer begin September ná die somerreses byeenkom. Sy plan is dat hy self, met steun van die kleiner partye en ’n aantal Tory-rebelle, ’n oorgangsregering lei wat dan óf nuwe verkiesings óf ’n tweede referendum oor Brexit organiseer en terselfdertyd verdere uitstel vir Brexit by Brussel kry.

Gesien die feit dat Corbyn só ekstremisties links is dat hy selfs vir baie in sy eie party onaanvaarbaar is, was dit ’n doodgebore kind.

Die leier van die Liberaal-Demokrate, Jo Swinson, het twee senior LP’s van die Tories en Arbeiders as moontlike oorgangspremiers genoem, maar dit lyk asof ook dít nie genoeg steun sal kry nie.

Corbyn het laat blyk dat hy nie in die pad van só ’n alternatief sal staan nie.

Betogers wat niks van Brexit wil weet nie het onlangs tydens ’n optog in Londen skape gebruik om hul punte te probeer staaf.Foto: AP

Die jongste is dat daar gedink word aan ’n formele wetsontwerp in die laerhuis om die Johnson-regering te verbied om die EU sonder ooreenkoms te verlaat. Meer as 100 LP’s het in die naweek geëis dat die parlement onmiddellik teruggeroep word om oor Brexit te beraadslaag.

Aangesien Johnson se meerderheid in die laer huis net één setel is, sal dit nie veel kos om sy planne te dwarsboom nie.

’n Lewendige paar weke wag vir die Britse politiek.

Volgens ’n peiling wat verlede week deur die organisasie YouGov bekend gemaak is, vind 49% van die Britte dat ’n Brexit sonder ooreenkoms onaanvaarbaar is, met 38% wat daarmee kan saamleef. Dieselfde peiling wys ook dat 48% liewer ’n Brexit sonder ooreenkoms bo Corbyn as premier sal aanvaar.

Luidens ander peilings – wat voor die nuutste ontwikkelings gedoen is – sou die Tories nou 31% van die stemme in ’n algemene verkiesing kry teenoor 24% vir die Arbeiders en 19% vir die LibDems. Wat moontlik weer ’n koalisieregering verpligtend sal maak.

Hoe ook al, ’n lewendige paar weke wag vir die Britse politiek. Heelparty mense se naels gaan stomp gekou word.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.