Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Debat oor seks lê VSA se politieke oneerlikheid bloot

Die openbare debat oor prominente mense se seksuele gedrag het die fundamentele gebrek aan eerlikheid in die Amerikaanse politiek die laaste paar weke baie goed blootgelê. Leopold Scholtz bekyk die saak.

Politiek staan dikwels – eintlik meestal – gelyk met skynheiligheid. Die meeste politici (daar is opmerklike uitsonderings) is in ’n mindere of meerdere mate oneerlik.

Nêrens word dié stelling beter geïllustreer as in die debat oor leiers se seksuele gedrag nie. Die jongste voorbeeld is ’n beskuldiging dat die Demokratiese Party se waarskynlike presidentskandidaat, Joe Biden, ’n jong vrou betas het.

Eers die beskuldiging, afkomstig van ene Tara Reade, wat in 1992 as helper in die destydse sen. Biden se kantoor begin werk het: Sy beweer dat hy haar in 1993 in ’n gang teen die muur vasgedruk, sy hand onder haar rok ingesteek en haar met sy vingers gepenetreer het.

Toe sy teëstribbel, het hy glo gesê: “Komaan, man, ek het gehoor jy hou van my.” Daarna sou hy vererg bygevoeg het: “Jy beteken niks vir my nie, níks.”

Biden ontken dit ten sterkste. In ’n televisie-onderhoud waarin hy stewig aangepak is, het hy gesê: “Dit het nóóit gebeur nie. Ek weet nie wat haar motivering is nie . . . Maar dit is irrelevant. Dit het nóóit gebeur nie. Dit het nooit óóit gebeur nie. Punt.”

Die groot vraag in die Amerikaanse politiek is nou hoe geloofwaardig Reade is. Dis om verskeie redes ’n relevante vraag, want op die oog af is daar redes om vrae oor die akkuraatheid van haar verhaal te stel.

Dit klop nie met wat sy net ’n paar maande tevore, in Desember 2018, daaroor geskryf het nie.

Om mee te begin het sy haar storie herhaaldelik verander.

In April 2019 het sy in ’n onderhoud met ’n plaaslike koerant in Nevada gesê dat Biden haar op ’n vergadering aan haar skouer en gehou het terwyl hy sy wysvinger teen haar nek gevryf het.

Sy het glo ook gehoor sy moet drankies bedien omdat “Biden van my bene hou”.

Sy het glo by twee toesighouers daaroor gekla en is as gevolg daarvan uit Biden se kantoor geskop. (Albei toesighouers het sedertdien ontken dat hulle ooit met Reade daaroor gepraat het.)

Dit klop nie met wat sy net ’n paar maande tevore, in Desember 2018, daaroor geskryf het nie. Toe het sy te kenne gegee dat sy Biden se kantoor verlaat het omdat sy “Rusland met my hele hart bemin” en die “roekelose imperialisme van Amerika” verwerp.

Tara Reade, wat Joe Biden van seksuele teistering beskuldig, het ’n sagte plekkie vir pres. Wladimir Poetin van Rusland gehad. Foto: AP

Oor pres. Wladimir Poetin van Rusland het sy in November 2018 in ’n artikel geskryf: “Pres. Poetin het ’n verleidelike kombinasie van krag en sagtheid. Sy sensuele beeld projekteer sy liefde vir die lewe, die beliggaming van grasie in die aangesig van teenspoed.”

En: “Pres. Poetin se duidelike verering van vroue, kinders en diere, en sy sportiewe vermoëns laat Amerikaanse vroue swymel.”

Sy het haar later verweer deur te sê sy was besig met ’n “roman” oor Rusland. Sedertdien het sy glo haar oortuigings oor Poetin verander.

Daarna het sy haar by die linkervleuel van die Demokrate gevoeg en ’n aanhanger van sen. Bernie Sanders, ’n Biden-teenstander, geword.

Republikeine op die oorlogspad

Joe Biden, gunsteling om as die Demokratiese Party se presidentskandidaat aangewys te word, moet vure doodslaan ná bewerings van seksuele teistering teen hom. Foto: AP

Dit gaan hier nie om die waarheid al dan nie van die bewerings nie. Die punt is dat die Demokrate uiters kwesbaar op dié punt is.

Net verlede jaar het die Demokrate wild te kere gegaan toe dr. Christine Blasey Ford regter Brett Kavanaugh, wat deur pres. Donald Trump as lid van die hooggeregshof benoem is, daarvan beskuldig het dat hy haar jare tevore, toe hulle nog studente was, probeer verkrag het.

Die Demokrate se punt verlede jaar was dat vroue geglo moet word as hulle sulke bewerings maak. Die probleem is natuurlik dat hulle probeer keer het dat die senaat die aanstelling van Kavanaugh, ’n konserwatiewe regter, goedkeur.

In Amerika is die hooggeregshof terselfdertyd die konstitusionele hof en as sodanig polities uiters belangrik. Baie was op die spel.

Nou trap die Demokrate baie fyn oor Reade se klag. Nou sê hulle nie vroue moet geglo word nie, want as dit so is, is dit neusie verby met die Demokrate se poging om Trump uit die Withuis te verdryf. Baie is op die spel.

Joe Biden is die gunsteling om pres. Donald Trump as die Demokratiese Party se verteenwoordiger later vanjaar in die Amerikaanse presidentsverkiesing aan te durf. Foto: AP

Maar dit is nie net die Demokrate wat skynheilig is nie; die Republikeine is dit ook.

Verlede jaar het hulle Ford en die Demokrate se klag teen Kavanaugh verwerp omdat die beweerde gepoogde verkragting dekades gelede sou plaasgevind het en niks meer bewys kon word nie. Kavanaugh het die reg op billike behandeling, het hulle gesê.

Reade se klag en gedrag openbaar ook baie inkonsekwenthede, en die beweerde betasting het eweneens dekades gelede gebeur. Niks kan bewys word nie.

Maar die Republikeine is nou op die oorlogspad. Sen. John Cornyn, ’n Republikein van Texas, het byvoorbeeld gesê:

“Wat so verskriklik is, is die dubbele standaard. Ek onthou nog toe hulle gedink het ’n billike verhoor is ’n grap en dat dit nie op Brett Kavanaugh van toepassing was nie. Op die een of ander manier verwag hulle nou dat Joe Biden ’n billike verhoor moet kry.”

En wat van Trump?

Pres. Donald Trump van Amerika se losbandige seksuele lewe is wyd bekend. Foto: AP

Om billik te wees, Trump self was tot dusver katvoet oor die beskuldiging teen Biden. “Ek weet nie of dit vals is of nie. Joe sal moet bewys wat hy moet bewys, of sý sal dit moet bewys, maar dis ’n geveg wat hy moet veg.”

Wat ’n mens in die proses nié van die Republikeine hoor nie, is dat die 20 beskuldigings van verkragting – nie “bloot” betasting nie – teen Trump hom vir die amp van president diskwalifiseer. Sy stem is op ’n bandopname uit 1995 te hoor waarin hy spog dat hy vroue tussen die bene kan gryp net omdat hy ’n “ster” is.

Trump – en sy ondersteuners – se verweer is dat dit maar net “kleedkamerpraatjies” was.

Die harde kern van Trump se ondersteuners, met inbegrip van uiters konserwatiewe Christene, vergewe hom egter alles.

Nietemin is sy losbandige seksuele lewe wyd bekend. Hy het selfs die porno-ster Stormy Daniels $130 000 betaal om stil te bly daaroor dat hulle seks gehad het – dit in ’n tyd toe sy vrou verwagtend was.

Die harde kern van Trump se ondersteuners, met inbegrip van uiters konserwatiewe Christene, vergewe hom egter alles. Die argument is dat hulle geen “heilige” in die Withuis soek nie, en dat koning Dawid ook foute gemaak het.

Dieselfde argument hoor ’n mens nie uit daardie kringe oor Biden nie.

Die punt is dat die politiek, veral in Amerika, uiters skynheilig is. Met goeie rede: Baie is op die spel.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Demokratiese Party  |  Wladimir Poetin  |  Joe Biden  |  Stormy Daniels  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Seks  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.