Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Dís wat Tories se sege vir Brexit beteken

Wat beteken die reuse-oorwinning wat die Konserwatiewe Party pas in die Britse verkiesing behaal het? Leopold Scholtz ontleed die implikasies van die uitslag.

Reeds onmiddellik nadat die stembusse Donderdagaand gesluit het, het uitgangspeilings op ’n yslike oorwinning vir Boris Johnson se Konserwatiewe Party gedui.

Dis duidelik dat dit die grootste Tory-oorwinning sedert 1935 is. Daarmee is Johnson se politieke magsposisie sterker as ooit en dié van die Arbeidersparty se leier, Jeremy Corbyn, is geknak.

Vooraf het peilings ’n veel beskeier Tory-oorwinning – selfs met die moontlikheid van ’n onbesliste uitslag – voorspel. Dis nie dat die peilings so ver verkeerd was nie; die Britse politieke stelsel maak dit buitengewoon moeilik om die setelverdeling akkuraat te voorspel.

Talle kiesafdelings het ’n naelskraapse oorwinning vir die Konserwatiewes meegebring. Wat beteken dat hulle selfs met ’n absolute minderheid van die stemme, ’n historiese oorwinning kon behaal wat seteltal betref.

Dit neem egter niks weg van die groot implikasies van dié historiese Tory-oorwinning nie.

‘Kry Brexit afgehandel!’

Die mense se leier? Boris Johnson, premier van Brittanje, se Konserwatiewe Party het ’n reuse-oorwinning in die Britse verkiesing behaal. Foto: Reuter

Maar kom ons kyk eers na die redes daarvoor. Veral twee faktore is verantwoordelik.

Die eerste is Brexit – Brittanje se vertrek uit die Europese Unie (EU). Johnson se belangrikste leuse, een wat hy op elke openbare optrede ingehamer het, was: “Kom ons kry Brexit afgehandel!”

Peilings wys steeds dat ’n ligte meerderheid van die Britte teen Brexit is. Hoe rym dit?

Feit is dat Brexit tot dusver gepaard gegaan het met ’n politieke chaos. Johnson en sy voorganger, Theresa May, het herhaaldelike nederlae in die laer huis gely oor die presiese pad wat geloop moet word – en daarvoor was die gemiddelde kieser hartlik siek en sat.

Dus kon die harde voorstanders van Brexit en dié wat ’n einde aan die politieke chaos wou bring, die hande ineen slaan om die Konserwatiewe Party dié oorwinning te gee. Die basiese boodskap is: Hou nou op met jul kleinlike bekgevegte en kry Brexit afgehandel!

Natuurlik het ander vraagstukke – die ekonomie, die nasionale gesondheidsorgstelsel, die vrees vir terrorisme, ensovoorts – ook ’n rol gespeel. Maar Brexit het alles oorheers.

Dit was die eerste rede vir Johnson se oorwinning. Maar daar was ook ’n tweede, naamlik Jeremy Corbyn se radikaal linkse ideologie.

Wat sake des te erger maak, is Corbyn se gebrek aan selfondersoek: Hy het die media se 'demonisering' van hom die skuld vir die slegte uitslag gegee.

Corbyn wou terugkeer na die Arbeiders se vuurrooi beleid van die 1950’s en 1960’s. Hy wou byna alles wat nie vasgeketting is nie, nasionaliseer en die kapitalisme nekomdraai.

Vir talle gematig linkse Britte, ook dié wat teen Brexit is, was dit sommer ’n hele paar brûe te ver.

Ook sy vae houding rakende Brexit het teen hom getel. Hy wou ’n tweede referendum hê, maar sou geen houding vír of téén Brexit inneem nie.

In sy hart koester Corbyn ’n afkeer van die EU, wat vir hom ’n kapitalistiese sameswering is. Bowendien steun hy al wat linkse diktatuur en terreurbeweging is, en het hy níks gedoen om die sweer van antisemitisme in sy eie party hok te slaan nie.

Daarvoor het die kiesers hom gegesel soos byna geen ander leier in die verlede nie. Wat sake des te erger maak, is sy gebrek aan selfondersoek: Hy het die media se “demonisering” van hom die skuld vir die slegte uitslag gegee.

Corbyn het aangedui dat hy die Arbeiders nie in die volgende verkiesing gaan lei nie, maar dat hy voorlopig as leier aanbly.

Talle waarnemers gee Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, die skuld vir sy party se swak vertoning by die stembus. Foto: AP

Die Liberaal-Demokrate het marginaal beter as drie jaar gelede gevaar, wat nie goed genoeg was om tevrede te voel nie. Inteendeel, hul leier, Jo Swinson, het selfs haar kiesafdeling verloor.

’n Ander opmerklike aspek van die verkiesingsuitslag is dat streekpartye goed gevaar het. Die Skotse Nasionale Party (SNP) het ’n hele paar setels bygekry, nes die Noord-Ierse nasionalistiese groepe. Dit het ten koste van sowel die Tories as die Arbeiders geskied.

Dit beteken dat die Konserwatiewe Party in die praktyk maar sy naam kan verander na Engelse Nasionalistiese Party. Buite Engeland was die Tories se kieseraantrekkingskrag minimaal.

Die SNP se aandrang om weer ’n Skotse afskeidingsreferendum te hou, kry hiermee ’n hupstoot. Die Skotte wil in groot meerderheid deel van die EU bly, en peilings wys ’n ligte meerderheid vir onafhanklikheid.

Die Verdeelde Koninkryk van Klein Engeland

Jo Swinson, leier van die Liberaal-Demokrate, nadat sy gehoor het dat sy haar setel in East Dunbartonshire verloor het. Foto: AP

Wat wag nou vorentoe?

Wel, ten eerste kry premier Johnson ’n veel sterker stel kaarte in die onderhandelings met die EU oor Brexit. Tydens die verkiesingsveldtog het hy voorgestel dat ’n stewige oorwinning hom die kans gee om die proses sommer vinnig afgehandel te kry, maar as hy dit werklik dink, wag ’n yskoue stort op hom.

Die EU se hoofonderhandelaar, Michel Barnier, het onmiddellik te kenne gegee dat die onderhandelings buitengewoon ingewikkeld is en dat dit tot ’n jaar kan duur.

Die probleem is dat Brittanje al sedert 1973 deel van die enkele Europese mark is, toe hulle lid van die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap geword het. Sedertdien het die Britse ekonomie so met dié van die Europese vasteland verweef geraak dat Brexit, ekonomies gesien, ’n pynlike en skadelike proses gaan wees.

Boris Johnson, premier van Brittanje en leier van die Konserwatiewe Party, gesels met ondersteuners nadat dit duidelik geword het dat sy party ’n reuse-oorwinning in die verkiesing gaan behaal. Foto: Getty Images

In die verkiesingsveldtog het Johnson ’n klomp wilde beloftes op allerlei terreine aan die kiesers gemaak, beloftes wat onuitvoerbaar is – tensy hy Brittanje wil ruïneer. Met sy groot meerderheid hoef hy daardie beloftes nie almal uit te voer nie.

Hy kan selfs ’n nuwe ooreenkoms met Brussel beding wat op ’n veel sagter Brexit neerkom as die harde breuk wat hy tot dusver gepropageer het.

Hoe ook al, ’n Johnson-regering sal nie die paradys laat aanbreek nie. Die werklikheid lyk veel meer soos die grys, mistroostige Britse winter as op die sprokiesparadys wat sowel Johnson as Corbyn aan die kiesers voorgehou het.

Dit kan selfs wees dat Johnson die laaste premier van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland kan wees. En dat die land vorentoe, met die tong in die kies, bekend sal staan as die Verdeelde Koninkryk van Klein-Engeland.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.