Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kyk en sien: Jy’s wit en ’n rassis

Jong predikante in die NG Kerk glo pogings om rassisme in die kerk te beveg maak nie eintlik hond haaraf nie, skryf Loraine Maritz.

Is jy ’n rassis?

Nee! sal die meeste mense antwoord en ook dadelik byvoeg: “Ek sien nie kleur nie,” of “Ek is grootgemaak om alle mense as gelyk te sien,” of “Ek werk in ’n diverse omgewing,” of “Ek het gekleurde mense in my familie,” of “My kinders speel met almal,” of “Ek het nie apartheid ondersteun nie,” of “Vir my gaan dit oor klas,” of “Ek het al ’n huis help bou vir Habitat for Humanity,” ensovoorts, ensovoorts.

Robin DiAngelo beskou hierdie tipe antwoorde as ’n verdedigingsmeganisme wat wit rassiste gebruik om konfrontasie oor rassisme te vermy. DiAngelo noem dit wit broosheid, “white fragility”, ’n toestand waar selfs die geringste konfrontasie met rassisme, soos om die vraag of jy ’n rassis is te beantwoord, ongemaklik, selfs ondraaglik is, en lei tot verskeie tegnieke om dit te systap. Boonop is dit gewoonlik die antwoorde van wit progressiewe mense wat hulself as verlig en vooruitdenkend sien.

DiAngelo, ’n wit Amerikaanse akademikus, is bekend vir haar werk oor “whiteness” (vertaling: witheid) waar sy veral kyk na die strukture wat wit bevoordeling voed en ondersteun. Sy bestudeer witheid wanneer dit as ras en kultuur die bron is van sistemiese rassisme.

Hieruit het haar werk gelei oor “white fragility”, wit broosheid, ’n term wat sy in 2011 geskep het. DiAngelo was onlangs in Suid-Afrika om ’n reeks lesings aan te bied en ook om haar boek White Fragility: Why It’s So Hard for White People to Talk about Racism, bekend te stel.

Ons is in ’n rasse-hiërargie, met wit mense bo-aan, gebore.

DiAngelo was gasspreker by ’n werkseminaar in Pinelands, Kaapstad, waar die gehoor bestaan het uit akademici en ander instellings en organisasies wat ’n belangstelling in rasseversoening deel. Daar was ook ’n groot groep jongerige leraars van die NG Kerk wat genooi is deur die taakspan Ras en Versoening, wat deel is van die Diensgroep Toerusting en Navorsing van die sinode van Wes-Kaapland.

DiAngelo se aanklag dat alle wit mense rassiste is en boonop die onvermoë of onwilligheid het om daaroor te praat, het die gehoor laat regop sit.

Deur die loop van die oggend het DiAngelo stelselmatig haar argument van wit rassisme en wit broosheid uitgebou sonder om ’n vinger te wys of wit mense te blameer. Hierdie komplekse onderwerp se oorsprong lê by die feit dat ons almal in ’n rassehiërargie, waar wit mense boaan die lys is, gebore is.

Vandaar dan die geloof dat wit beter is. Ons is vasgeval in ’n sistemiese rassisme waar ekonomiese, politieke, sosiale en kulturele strukture, dade en geloof gebruik word om die oneweredige verdeling van voordele, bronne en mag tussen wit en gekleurde mense te institusionaliseer en in stand te hou. Die gevolg hiervan word onder meer weerspieël in ongelykheid ten opsigte van rykdom, inkomste, beroepe, strafregpleging, behuising, gesondheidsorg, politieke mag en onderwys.

Wit Suid-Afrikaners, veral die progressiewe mense, sal dalk heftig reageer op die aanklag dat hulle in ’n rassistiese samelewing leef. Maar wit rassisme lê veel dieper as oppervlakkige diskriminasie wat deur wetgewing verbied word, dit is interne vooroordeel. Dit is die menige maniere waarop wit mense gesosialiseer word dat witwees die norm is vir alles wat normaal, reg en van waarde is. Dit sluit in die norm van wat as skoonheid, as intelligent en van waarde geag word. Wat word deur wit mense as ’n “goeie” skool of die regte woonbuurt gesien? Is dit dalk die skool of woonbuurt waar daar meer wit mense is?

Baie min wit mense sal erken dat hulle dink of optree met die wete dat hulle beter is as nie-wit mense. Omdat hulle nie uitgesproke rassiste is nie, beskou hulle hulself dan as progressief, oopkop, opgevoed en onbevooroordeeld. Dit is egter dikwels hierdie progressiewe mense wat wit rassisme versterk. Hulle ontken hul eie rassisme en probeer dan hard om nie-wit mense te oortuig dat hulle teen rassisme is; of hulle vertel graag van ander wat rassisties is, of swyg oor die onderwerp.

Wit mense se ontkenning van hul rassisme en ongemak om daaroor te praat, is soos ’n alkoholis of dwelmverslaafde wat sy probleem nie wil hanteer nie. Hierdie ontkenning en vermyding is wit broosheid.

Volgens DiAngelo kan rassisme getakel word deur heel eerste te erken dat dit wel bestaan. Ons moet bewus wees dat almal in die samelewing gesosialiseer is om rassisties te wees. Ons moet erken dat hoewel wit mense nie gekies het om in rassisme gesosialiseer te word nie, alle wit mense uit rassisme voordeel trek. Rassisme moet gedurig uitgewys en ondersoek word. Dit is juis die uittree uit die gemaksone waar wit mense hul broosheid en ongemak kan oorkom. Deur te eien hoe rassisme opgebou is en in ons samelewing ingebou is, kan ons dit stelselmatig afbreek en iets nuuts skep.

Die middagsessie is hoofsaaklik deur die NG Kerk se predikante bygewoon. Wilhelm Verwoerd het as fasiliteerder opgetree. Hy het vir elkeen in die groep gevra om te vertel wat vir hulle die meeste in DiAngelo se praatjie uitgestaan het.

Die terugrapportering was hoofsaaklik positief, met veral die besef dat rassisme met groter sensitiwiteit benader moet word.

Die gesprek het gou beweeg na die jong predikante se persoonlike ervaringe. Die gevoel is gekry dat daar al baie werk gedoen is, of probeer is, om kleurgrense af te breek. Maar dat al hierdie werk nie veel vrugte oplewer nie en dat daar ook nie veel tekens van permanente vordering is nie.

Dit was ook duidelik dat hierdie soort gesprek niks nuuts is vir die NG Kerk nie en dat daar al oor die jare heen baie sulke vergaderings, simposiums en berade was. ’n Jong Swartlandse predikant het sy déjà vu gedemonstreer deur in sy stoel terug te leun, sy voete voor hom uit te stoot en te sê: “Ek is al so gatvol vir hierdie gesprekke.”

DiAngelo dwing jou om jou witheid te konfronteer en om intern jou eie vooroordele te identifiseer. As jy eerlik is met jouself, jou broosheid oorkom en jou rassisme wil oorkom, kan elkeen net probeer om, in die woorde van Maya Angelou: “Do the best you can until you know better. Then when you know better, do better.”  

* Dr. Loraine Maritz is ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch wat haar toespits op maatskaplike samehorigheid en verdraagsaamheid.

Meer oor:  Wilhelm Verwoerd  |  Wit Bevoorregting  |  Ng Kerk  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.