Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Europese politiek al meer gefragmenteerd

Die Europese politiek word steeds meer gefragmenteer, blyk uit die uitslae van die afgelope verkiesing vir die Europese Parlement. Leopold Scholtz ontleed die uitslag en dui enkele verrassende tendense aan.

Die uitslag van die verkiesings in die 28 lidlande van die Europese Unie (EU) vir die Europese Parlement is soos ’n diamant: Jy kan honderd verskillende vlakke identifiseer en honderd teenoorgestelde gevolgtrekkings bereik.

Maar kom ons kyk eers na presies waarvoor die kiesers verlede week van Donderdag tot Sondag gestem het.

Die Europese Parlement is die wetgewende element van die EU. Sy taak is om toesig te hou oor die EU se “kabinet”, die Europese Kommissie, en die lede vergader beurtelings in Brussel en Straatsburg.

Naas dié struktuur is daar ook nog die Europese Raad, wat bestaan uit die 28 regeringshoofde van die EU-lidlande. Dit is waar die egte mag lê en waar die belangrikste besluite geneem word.

Tot ongeveer ’n dekade gelede was die momentum in die EU ten gunste van – soos die organisasie se stigtingsverdrag sê – “steeds nouer vereniging”. Maar die laaste tyd het die stemme wat vir ’n Verenigde State van Europa pleit, vervaag, en die algemene konsensus is nou dat die EU eerder ’n vrywillige bondgenootskap van onafhanklike lande wat nou saamwerk, moet bly.

Tog het daar ’n tendens die laaste jare kop uitgesteek van partye wat eintlik niks van die EU wil weet nie en vir die opheffing van die EU pleit. Dis die groep regs-populistiese partye wat in groot mate daarin slaag om die openbare gesprek te oorheers.

Brittanje: Protesstem teen establishment

Nigel Farage se Brexit-Party het uitstekende gevaar in die verkiesing in Brittanje vir die Europese Parlement. Foto: AP

Een van die groot vrae wat die kiesers dus in die pas afgelope verkiesing moes beantwoord, was of hulle hoegenaamd ’n toekoms vir die EU sien. As ’n mens die uitslag oor al 28 lidlande gesamentlik bekyk, was dit duidelik dat ’n groot meerderheid ten gunste van die organisasie se voortbestaan is.

Groepeer jy die pro-Europese partye saam, het hulle relatief goed gevaar. Hulle beheer byna twee derdes van die setels in die Europese parlement.

Die regse populiste het weliswaar beperk gevorder, maar die vastelandwye deurbraak waarop hulle gehoop het, het nie gematerialiseer nie.

Brittanje is natuurlik ’n geval waar plaaslike omstandighede, veral die Brexit-katastrofe, deurslaggewend was.

Maar dis hier waar die diamant met sy honderd verskillende vlakke as metafoor geldig is. Die regse populiste het veral goed gevaar in Italië, Frankryk en Brittanje – in al drie lande het hulle die enkele grootste party geword, en in al drie gevalle in die omgewing van ’n kwart van die stemme getrek.

Brittanje is natuurlik ’n geval waar plaaslike omstandighede, veral die Brexit-katastrofe, deurslaggewend was.

Peilings wys naamlik dat 55% tot 60% van die Britte nou verkies dat hul land in die EU bly. Dat die pro-Europese LibDems goed gevaar het (’n wins van 13,4 persentasiepunte), is logies, maar hoe moet die ineenstorting van die Tories (-14,9 punte) en Arbeiders (-11,3 punte) en die goeie vertoning van Nigel Farage se Brexit-Party (31,6%) dan vertolk word?

Stemme word in Edinburg, Skotland, getel. Foto: AP

Die meeste kenners van die Britse politiek wys op die chaotiese staat van die Britse politiek, waar Theresa May moes bedank as die swakste premier in menseheugenis. Die chaos in die laerhuis, waar geen meerderheid vir enige rigting uit die EU gevind kon word nie, en waar die politici soos ’n klomp onverantwoordelike skoolkinders te kere gaan, het duidelik baie kiesers absoluut keelvol vir die twee grootste partye – die Tories en die Arbeiders – gemaak.

Die uitstekende vertoning van die Brexit-Party, terwyl peilings juis groeiende steun vir die voortsetting van Brittanje se lidmaatskap van die EU wys, dui eerder op ’n protesstem teen die politieke establishment as sodanig.

Invloed van onwettige immigrante

Matteo Salvini, Italië se omstrede minister van binnelandse sake en leier van die Lega Nord, aan die woord ná die verkiesing vir die Europese Parlement. Foto: AP

Nog ’n vlak van die diamant is dat die uitslag in Frankryk en Italië ook teen die algemene tendens indruis. Daar het Marine le Pen se Rassemblement National en Matteo Salvini se Lega Nord goed gevaar.

Le Pen het 23,5% van die stemme gekry, naelskraap meer as pres. Emmanuel Macron se En Marche! (22,5%). Wat goed is, maar nie die regse deurbraak waarop Le Pen gehoop het nie.

In Italië het Salvini se party selfs beter gevaar met 33,6%.

Kiesers in Frankryk en Italië is ook beïnvloed deur die feit dat die meeste onwettige immigrante juis in hul lande voet aan wal sit.

Wat deels vir hul goeie vertonings verantwoordelik is, is dat albei ten opsigte van die EU se toekoms hul Euroskeptiese toon aansienlik gematig het. Le Pen het selfs ’n standpunt van wyle genl. Charles de Gaulle gaan uitkrap: Sy is nie ten gunste van ’n Frexit nie, het sy gesê, maar vir ’n “Europa van vaderlande”.

Bowendien is Macron verswak deur maande se betogings van die sogenaamde Geelhemdebeweging teen sy beleid om die vasgeroeste ekonomie, wat deur die dekades taamlik sosiaal-demokratiese trekke gekry het, te hervorm.

Albei kieserskorpse is ook beïnvloed deur die feit dat die meeste onwettige immigrante, wat oor die Middellandse See uit Noord-Afrika aankom, juis in hul lande voet aan wal sit. Hulle is keelvol daarvoor en meen dat die regs-populiste strenger sal optree.

Aardverhitting lei tot steun vir Groenes

Groen vreugde. Annalena Baerbock, voorsitter van die Groen Party, en Sven Giegold, ’n lid van die Europese Parlement, se blydskap was baie duidelik ná vroeë uitslae in Berlyn in die verkiesing vir dié parlement. Foto: AP

Maar die kwessie van die EU se toekoms was nie al tema wat kiesers se houding bepaal het nie. Die ontstellende verwarming van die aarde was nóg ’n tema waarvan die invloed duidelik onderskat is.

Die laaste maande is gekenmerk deur verskeie reusebetogings van skoolkinders om onmiddellike, kragtige optrede teen klimaatsverwarming te eis. Julle, die volwassenes, is besig om ons toekoms te verwoes, is hul boodskap.

Veral jong kiesers het daarom massaal oor feitlik die hele EU vir Groen partye gestem. In Duitsland het die Groenes selfs die naasgrootste party (20,7%) na die Christen-Demokrate (28,7%) geword.

Terloops, dáár het die regs-populiste in die Alternative für Deutschland (AfD) op 10,8% bly vassteek. In die ooste van die land, wat minder baat by hereniging gevind het, het dié party wel goed gevaar.

Maar die Groenes se sukses is die verrassende storie. In Duitsland, maar ook elders in Europa, het die Groenes begin as ’n revolusionêre anti-establishmentparty wat alle heilige huisies omver wou werp.

Marine le Pen, leier van die Rassemblement National, verlaat die stembus nadat sy in die verkiesing vir die Europese Parlement gestem het. Foto: AP

Dié partye, wat gespruit het uit die studenteopstande van 1968, is sedertdien egter deur die harde leerskool van die liberale demokrasie ingesluk en mak gemaak. Hulle is nou gematig links en behoort eerder tot die establishment self.

Hoe ook al, dis ’n feit dat die Europese politiek steeds meer gefragmenteer word. Afgesien van hul ideologiese oortuigings, is daar ’n beweging weg van die groot partye na kleineres.

Dit gaan koalisievorming, primêr op EU-vlak, maar ook op nasionale vlak, aanmerklik bemoeilik. En dit kan die besluitneming op EU-vlak aansienlik meer problematies maak.

Maar die liberale demokrasie is ’n moeilike en morsige affêre, vol teenstrydige beginsels, en die noodsaak om kompromieë te bereik. Dis egter al stelsel wat daar is, een wat strate beter as enige linkse óf regse diktatuur.

Soos Winston Churchill dit treffend gestel het: Die demokrasie is die slegste van alle stelsels, behalwe vir al die ander.

Dít is die Europese Unie.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Lega Nord  |  Marine Le Pen  |  Matteo Salvini  |  Italië  |  Duitsland  |  Brittanje  |  Frankryk  |  Populisme  |  Aardverhitting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.