Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Gaan regse ekstremiste Europa regeer?

Waarheen is Europa op pad met sy regs-populistiese partye wat oor die algemeen stadig maar seker invloed wen? Is dit dié vasteland se voorland om deur regse ekstremiste regeer te word? Leopold Scholtz soek na ’n antwoord.

Wanneer jy oor die regse populiste praat, is dit dalk goed om allereers duidelik te maak waaroor dit gaan. Die begrip populisme kan maklik tot misverstand en misbruik lei.

Die woord is van die Latynse woord populus, oftewel “volk”, afgelei. Dit word nie in die etniese sin (soos in die “Afrikanervolk”) gebruik nie; eerder in ’n klassesin – die gewone gemiddelde mens op straat, teenoor die ryk en magtige elite.

Teen dié agtergrond is elke politikus in ’n sekere sin ’n populis. Hy probeer immers die steun van die kiesers kry of behou en 95% van daardie kiesers is nie van die elite nie.

Een van die akademici wat die meeste navorsing oor die verskynsel gedoen het, is die Nederlands gebore Amerikaanse politieke wetenskaplike prof. Cas Mudde van die Universiteit van Georgia. Hy definieer populisme as “ ’n ideologie wat die samelewing in twee homogene en antagonistiese groepe verdeel: ‘die moreel suiwer mense’ enersyds en die ‘korrupte elite’ andersyds. Populiste meen politiek moet die wil van eersgenoemde groep weerspieël.”

Dié definisie het twee implikasies.

Ten eerste: As die een groep “moreel suiwer” en die ander “korrup” is, is enige kompromis verraad. Dit lei noodwendig tot die korrumpering van die “moreel suiweres” en is dus totaal uit die bose.

Tweedens, populiste kan sowel regs as links wees.

Voorbeelde van regse populiste kry jy in Duitsland, Nederland, Vlaandere, Denemarke, Italië, Swede, Hongarye, Pole, Griekeland, Frankryk, ensovoorts. In Italië, Swede, Hongarye en Pole vorm hulle selfs deel van die regering. Ook pres. Donald Trump kan as ’n regse populis beskou word.

Linkse populiste kom voor in Griekeland, Spanje, Italië, Frankryk, Nederland, België, Venezuela, Bolivië, ensovoorts. Selfs die leier van die Britse Arbeidersparty, Jeremy Corbyn, kan as ’n linkse populis beskryf word.

’n Verregse betoger in Chemnitz se plakkaat lui dat diegene wat Duitsland nie liefhet nie, Duitsland moet verlaat. Foto: Reuters

In die derde plek, Mudde se definisie is ’n saaklike beskrywing van die betrokkenes se politieke styl en spreek geen voor- of afkeur uit nie. Wat wel waar is, is dat wanneer populiste regeringsmag verkry, word hulle dikwels steeds meer outoritêr en selfs diktatoriaal.

In dié ry trek Duitsland met sy eiesoortige geskiedenis natuurlik ekstra aandag. Immers, Adolf Hitler was ’n populis by uitstek, en sy 12 jaar aan die bewind (1933-’45) het ’n gapende wond op die Duitse psige gelaat waarvan die litteken nog duidelik gesien kan word.

Teen dié agtergrond is dit nie verbasend nie dat die wêreld – en die Duitsers – se aandag buite proporsie na die Alternative für Deutschland (AfD) getrek word. Die vrees, reg of verkeerd, is dat die AfD sluimerende ekstremistiese gevoelens by die Duitsers kan laat herleef.

Gematigdes gooi wal

Verregse betogers raak in ’n onlangse betoging in Chemnitz met die polisie slaags. Foto: Reuters

Is dié vrees geregverdig?

Iets interessants is aan die gang as jy die AfD met die ontwikkeling van ander regs-populistiese partye elders in Europa vergelyk.

Veral in Swede, Denemarke, Frankryk en Italië het die regs-populistiese leiers ’n strategiese koerswysiging ondergaan. Hulle het ingesien dat die meeste kiesers nader aan die politieke midde is, en as hulle ooit aan die bewind wil kom, sal hulle moet saambeweeg.

In Nederland, België, Pole en Hongarye word dié ontwikkeling nog nie ervaar nie.

Björn Höcke het ’n ommekeer van 180 grade in die 'herinneringspolitiek' geëis, wat beteken dat Hitler nie so 'swart-wit' gesien moet word nie.

Duitsland se AfD maak egter sy eie ontwikkeling deur. ’n Beduidende deel van die party beweeg juis na regs en flirteer openlik met Hitler se nasionaal-sosialisme.

’n Mens moet versigtig wees om nie die hele AfD summier oor een kam te skeer nie, want daar is ’n relatief gematigde vleuel wat hom teen die swaai na regs verset. Dit het selfs gelei tot die wegbreek van ’n vorige leier, Frauke Petry, en enkele van haar aanhangers.

Nietemin hoor jy van prominente AfD-leiers soos Alexander Gauland en Björn Höcke uitsprake wat mense elders in Europa, in lande wat destyds onder die Nazi’s vertrap is, ernstig verontrus.

Gauland het byvoorbeeld onlangs gesê ofskoon Duitsland sy verantwoordelikheid vir die Nazi-tyd wil dra, was dié 12 jaar slegs ein Vogelschiss (iets soos ’n voël se blertsie) in vergelyking met die 1 000 jaar van die roemryke Duitse geskiedenis. Hy het bondskanselier Angela Merkel daarvan beskuldig dat sy die Duitse volk met Moslem-immigrante wil umtauschen (“omruil”). Die AfD-stryd is dus ’n stryd “vir die oorlewing van die Duitse volk”, het hy gesê.

Höcke het terselfdertyd die monument vir die slagoffers van die Nazisme in die Berlynse middestad “ ’n monument van skande” genoem. Hy het ’n ommekeer van 180 grade in die “herinneringspolitiek” geëis, wat beteken dat Hitler nie so “swart-wit” gesien moet word nie.

’n Verkiesingsplakkaat in München ná die onlangse verkiesing in Beier. Foto: Reuters

Nog ’n AfD-leier, Thomas Göbel, het gesê Duitsland “ly onder ’n inval van parasiete”, bedoelende Derdewêreldse immigrante. Dis taalgebruik wat herinner aan die wyse waarop Hitler en ander Nazi’s destyds na die Jode verwys het.

’n AfD-parlementslid, Siegbert Droese, is met sy hand in ’n saluut op sy hart voor die ruïne van die “Wolfsschanze”, Hitler se hoofkwartier in Oos-Pruise (tans Pole) afgeneem. En nog ’n parlementslid, Jens Maier, het teen die “vervaardiging van mengvolke” gewaarsku.

Sulke uitsprake stuit weliswaar op die weerstand van die gematigde vleuel in die party. Daar is verskeie uitsprake van AfD-politici wat waarsku dat dergelike woorde in die mond van AfD-leiers die verlangde deurbraak van die party by kiesers kan voorkom.

Op die oog af is dit korrek.

Fascisme in Oos-Duitsland ‘bewaar’

Die AfD geniet sy grootste steun in die ses oostelike deelstate wat voorheen deel van Oos-Duitsland gevorm het. Waar die Wes-Duitsers ná 1945 deur ’n moeisame demokratiseringsproses gegaan het, het hul volksgenote in die ooste naatloos van die een populistiese diktatuur na die ander gegly.

Prof. Ines Geipel van Dresden, iemand wat self deur die kommunistiese diktatuur vervolg is, het onlangs in ’n onderhoud met die konserwatiewe dagblad Die Welt gesê Oos-Duitsland het die fascisme 40 jaar lank bewaar.

“Die geslag van oorlogskinders, die heropbou-generasie, was meestal jong Nazi’s, met Hoera en Hitler in die kop. Dit is die eintlike haatgenerasie, wat die Muurgenerasie en die Wendekinder [dié wat die val van die Muur meegemaak het] hard gevorm het.”

In dié tradisioneel besonder konserwatiewe deelstaat kon die AfD nie verder as ’n teleurstellende 10,2% van die stemme kom nie.

In Wes-Duitsland is die steun vir die AfD beperk. Trouens, ofskoon die regerende Christen-Demokrate oral steun verloor, gaan dit eerder na die gematig-linkse Groenes as na die AfD.

Die onlangse deelstaatverkiesing in Beiere bewys dit. In dié tradisioneel besonder konserwatiewe deelstaat kon die AfD nie verder as ’n teleurstellende 10,2% van die stemme kom nie.

Die stemme wat die regerende Christen-Sosiale Unie (CSU) verloor het, het nie soseer na die AfD gegaan nie; eerder na die Groenes (17,5%). Die poging van die CSU om ’n soort AfD-lite te wees het misluk; en die kiesers het nie gehou van die soort onbeskofte populisme wat dikwels in die AfD voorkom nie.

Robert Habeck, leier van die Groenes, gesels met verslaggewers ná die verkiesing in Beiere. Sy party trek die steun van mense wat nie meer vir die Christen-Demokrate wil stem nie. Foto: Reuters

Dit lyk ook nie of dit ’n uitsondering is nie. Aanstaande week gaan die kiesers in die deelstaat Hessen stem, en peilings daar bevestig die algemene neiging van Beiere: Groot verlies vir die Christen-Demokrate en Sosiaal-Demokrate, dramatiese vordering vir die Groenes en beperkte vordering vir die AfD.

Die vraag is nou hoe die AfD sal reageer op die feit dat hy steeds maar geen deurbraak kan bereik nie. Gaan die party verder radikaliseer, of gaan hy die voorbeeld van ander lande se populiste volg en na die midde swenk?

Dié vraag sal waarskynlik in die komende vyf jaar beantwoord word.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon.

Meer oor:  Angela Merkel  |  Duitsland  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.