Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Hoe suksesvol was Biden in sy 1ste 100 dae?

Pres. Joe Biden was onlangs 100 dae lank in sy amp. Dié geleentheid word dikwels gebruik om ’n balansstaat oor ’n nuwe president se beleid en optrede op te stel. Hier is Leopold Scholtz se versigtige en voorlopige poging.

Joe Biden se eerste 100 dae in die Withuis is deur verskeie sake gekenmerk. Dalk die belangrikste is wat dit nié was nie: Biden is nie Donald Trump nie.

Jon Sopel, al jare hoof van die BBC se Amerikaanse kantoor, het dit op die organisasie se webwerf só gestel:

“Die oorgang van Trump na Joe Biden was soos om oor te skakel van ’n daaglikse kokaïenpyp na ’n botteltjie lae-alkohol-bier per week. Die daaglikse nuuskonferensies in die Withuis laat jou nou slaap. Daar is geen gevegte nie, geen geskel nie. Geen middernagtelike Twitter-storms nie, geen betalings aan porno-sterre nie, geen triomfantelike MAGA-massabyeenkomste nie.”

Maar as ons nou weet wat dit nié was nie, wat was dit dan wel?

Daaroor is die menings in Amerika (en wêreldwyd) voorspelbaar verdeeld. Vir die een is dit al genoeg dat Biden nie Trump is nie, vir ’n ander is Biden gevaarlik links, sosialisties – en vir sommige selfs kommunisties.

Op buitelandse beleidsvlak het Biden enkele aspekte van Trump se beleid voortgesit, maar by ander ’n draai van 180 grade gemaak.

Op die dag van sy bewindsaanvaarding het hy Amerika weer deel van die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering gemaak, hy probeer Iran weer deur diplomasie beweeg om dié se kernwapenontwikkeling te staak en hy gaan weer op ’n normale, vriendskaplike manier met Amerika se bondgenote in Europa en Asië om, pleks van om hulle sleg te sê.

Biden bou voort op die grondslag wat Trump gelê het en het die inenting van die bevolking drasties versnel.

Hy soek nie meer witvoetjie by die diktator van Rusland, Wladimir Poetin, nie (en, as ’n mens die Amerikaanse media mag glo, wag hier nog ’n paar onthullings oor die Trump-administrasie). Hy is eweseer teen China gekant, maar waar Trump die saak suiwer as sakeman – finansiële wins en verlies – bekyk het, benader Biden die kwessie uit ’n strategiese en geopolitieke hoek.

Trump het die Covid-19-pandemie maande lank gebagatelliseer en pas in die laaste weke van sy bewind wakker geskrik. Biden bou voort op die grondslag wat Trump gelê het en het die inenting van die bevolking drasties versnel.

Die houding wat hy, dalk onbedoeld, rakende immigrasie uitgestraal het, was ook aansienlik minder streng as die ongenaakbaarheid wat Trump gekenmerk het. Die gevolg was ’n behoorlike toename in die getal immigrante wat die land onwettig vanuit Mexiko probeer binnekom het.

‘Sleepy’ was Joe beslis nie

Pres. Joe Biden van die VSA kry applous van adjunkpresident Kamala Harris (links) en Nancy Pelosi, speaker, ná sy staatsrede. Foto: AP

Trump het Biden lank as “Sleepy Joe” afgeskilder, as ’n seniele oubaas wat nie mooi weet of dit oggend of middag is nie en liewer met sy kleinkinders moet gaan speel.

Dis waar, Biden is geen oortuigende redenaar nie – hy sukkel steeds effens om sy hakkelgebrek te oorkom.

Hy het sy beeld ook geen gunste bewys deur op ’n keer drié maal op die trappe van sy vliegtuig te struikel nie. Terselfdertyd is dit egter ook waar dat min presidente voor hom in hul eerste 100 dae soveel tegelyk probeer doen het.

“Sleepy” was Joe beslis nie. Eerder aktivisties.

Sy benadering is tipies van die sosiaal-demokratiese beleid wat in Europa al dekades lank as vanselfsprekend beskou word.

Een aspek van dié aktivisme waaroor daar nog dekades lank gedebatteer gaan word, is sy ekonomiese beleid. Biden het naamlik beduidend na links geswenk.

Die benadering van ’n beperkte staatsrol in die ekonomie wat veral sedert Ronald Reagan deel van die Amerikaanse politieke kultuur geword het, is verruil vir ’n “groot staat”. Dit is dié benadering wat sy teenstanders aangegryp het om hom as “sosialis” of selfs “kommunis” af te skilder.

Afgesien van die vraag of sy benadering korrek is al dan nie, is sy benadering tipies van die sosiaal-demokratiese beleid wat in Europa al dekades lank as vanselfsprekend beskou word. Ekstremisties links is dit egter nie, eerder gematig links.

Maar selfs dán: Is dit ’n wyse benadering?

Pres. Joe Biden aan die woord tydens die vieringe van Amtrak se 50ste bestaansjaar by ’n stasie in Philadelphia. Foto: AP

Sedert sy bewindsoorname in Januarie het Biden drie reusagtige ekonomiese stimuleringspakkette aangekondig wat saam in die omgewing van $6 000 miljard (oftewel, $6 biljoen) sal bedra. Dis ’n bedrag wat ’n mens skoon duiselig laat word, die grootste wat enige staatsman nog ooit in die geskiedenis aangekondig het.

Die drie is bedoel om die Amerikaanse infrastruktuur – paaie, spoorweë, hawens, kragopwekking, ensovoorts – wat die laaste dekades taamlik verwaarloos is, te herstel, om die gevolge van die koronakrisis te versag en om werkgeleentheid te bevorder en armoede te verlig.

Daardie $6 000 miljard moet geleen word.

Onder meer beteken dit dat elke Amerikaanse gesin $1 400 van die regering present kry. As jy werkloos is, beteken elke sent darem iets, maar luidens ondersoeke sal dit die armstes nie meer as drie maande help nie.

Hoe ’n mens dit ook al bekyk, dit is ’n enorme waagstuk waarvan niemand weet wat die uiteinde gaan wees nie. As dit slaag, sal dit Biden se erfenis vir ewig vaslê. As dit misluk, kan dit Amerika in een van sy grootste ekonomiese krisisse tot nog toe dompel.

Daardie $6 000 miljard moet geleen word. En al is daar tans geen rente op die lenings betaalbaar nie, gaan dit tog ’n geweldige kragsinspanning verg om dit terug te betaal. Dis ’n las wat na die volgende geslagte deurgegee word.

Meer optimisme onder Amerikaners

Die Withuis is maar ’n bra vervelige plek nadat oudpres. Donald Trump dit moes ontruim. Foto: Reuters

Oor die geld vir die herstel van die infrastruktuur is daar taamlike konsensus. ’n Behoorlik funksionerende infrastruktuur is ’n voorvereiste vir ekonomiese groei en ’n groeiende ekonomie sal steeds meer belastinginkomste oplewer waarmee minstens ’n deel van die lenings terugbetaal kan word.

Die ander twee is problematies. Ofskoon die huidige omstandighede so uniek is dat daar geen behoorlike historiese vergelykingsmateriaal beskikbaar is nie, bestaan die kans dat die inspuiting van sulke reusagtige bedrae die inflasiekoers kan opjaag, soos laas in die jare 70 gebeur het. Die enigste vergelykingsmateriaal is uit die jare 30 en 40, en selfs dít moet uiters, uiters versigtig benader word.

Pres. Franklin Roosevelt se finansiële stimuleringspakket – die “New Deal” – het nie regtig gewerk nie. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, is veel gróter bedrae egter in die produksievermoë van die ekonomie gesteek, veral die krygsbedryf. Dít het gewerk.

Biden kan ook nie eens outomaties op die steun van alle Demokrate in die Kongres reken nie – selfs onder húlle is daar enkele twyfelaars.

Hoe ook al, dis intussen glad nie seker dat Biden die goedkeuring van die Kongres vir sy planne gaan kry nie.

Afgesien van enkele Republikeine wat bereid is om oor die drie pakkette te onderhandel, is dié party as geheel daarteen gekant en sal hy alles in sy vermoë doen om minstens die laaste twee te kelder.

Biden kan ook nie eens outomaties op die steun van alle Demokrate in die Kongres reken nie – selfs onder húlle is daar enkele twyfelaars.

Dit kan dus wees dat die pakkette wat uiteindelik goedgekeur word, aansienlik anders sal lyk as dit wat die president die laaste weke bekend gemaak het.

Buite die Kongres lyk dinge vir Biden aansienlik beter. Daar kan hy op wye steun onder die kiesers reken.

Leopold Scholtz

Om mee te begin wys ’n peiling dat ’n volle 85% van die mense wat verlede week na Biden se staatsrede (waarin hy uitvoerig oor die drie pakkette gepraat het) geluister het, dit goedkeur.

Altesame 78% sê die toespraak laat hulle optimisties oor die land se toekoms voel. Onder hulle is 18% wat hulle as Republikeine identifiseer en 25% partyloses – wat wys dat steun vir die pakkette oor partygrense heen bestaan.

Altesame 64% van die Amerikaners is nou meer optimisties oor die komende jaar.

Maar Biden moet ook in sy pasoppens wees. Sy planne om belasting te verhoog om vir die pakkette te betaal, val nie oral op ewe goeie aarde nie – slegs 52% van die ondervraagdes steun dit.

Wat ook problematies in Biden se breë politieke benadering is, is die feit dat hy nie regtig pogings aanwend om konsensus met die Republikeine te bereik nie. Sy boodskap was deurgaans dat hy steun uit Republikeinse geledere sal verwelkom, maar dat hy sy planne ook sónder hulle sal uitvoer as dit moet.

Maar goed, dit kan wees dat die magsverhoudinge in die Kongres hom gaan dwing om kompromieë met die opposisie te soek.

Uiteindelik is die oordeel oor Biden se eerste 100 dae in die Ovaal Kantoor dus gemeng. Sommige aspekte was positief, oor ander is dit te vroeg om ’n oordeel te vel. Maar, afgesien vanuit welke ideologiese hoek jy daarna kyk, hou ’n mens jou hart vas.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.